In ’n bloedrooi boheemse rok met haar lang blonde hare wat saggies teen haar rug afkrul en ’n blommekroon op haar kop, staan die bruid op die stoep. Die groot bome bied skadu teen die Weskusson wat warm bak op Langebaan.

Liezl Munnik en haar bruidegom, Grzegorz Fransizek Stylo, hou hande vas en kyk diep in mekaar se oë terwyl die dominee hulle in die eg verbind.

Net so liefderik is die lyftaal tussen die enigste twee gaste: albei in ’n rolstoel; albei oor die 90. Maar ná byna sewe dekades saam hou hulle steeds hande vas.

Toe hulle vanoggend wakker word, sou Dolf (91) en Lettie Botha (93) nie kon glo dat hulle vandag deel sou wees van hul geliefde kleindogter se bruilof nie.

Die paartjie by hul enigste gaste by dié se ouetehuis. Foto: Claire Nicola Photography

Al het die verpleërs in die ouetehuis hier op Langebaan ná ontbyt iets van ’n troue gesê, was die bejaarde egpaar verstom toe Liezl (30) en Grzegorz, oftewel Greg (32), omstreeks tienuur opdaag en vrolik aankondig hulle kom daar afhaak.

Die jong mense het ’n week vantevore in ’n “bevlieging” hul troue gereël, maar hulle wou op die groot dag die seën hê van die mense wat nog altyd vir Liezl ’n voorbeeld was van wat die liefde kan wees – haar ouma en oupa.

Die twee se gelukkige huwelik van 65 jaar was immers hul inspirasie vir ’n toekoms saam. Liezl en Greg het vroegoggend op hul troudag op Stellenbosch gereedgemaak en toe na die Weskusdorp gery om oupa Dolf en ouma Lettie te verras.

“Toe ek hulle voor die seremonie gaan groet, het my ouma verbaas gelyk en net na my gestaar,” onthou Liezl later die verrassingsoomblik met ’n traan wat in haar groen oë blink.

“Oupa het dadelik gesê hy verstaan en dis goed so. Hy’t begin huil en gesê: ‘Julle is gemaak vir mekaar; ek het vrede in my hart.’ En hy het gesê hy is so trots op my as ’n mens.”

Verpleërs het die twee ou mense in hul rolstoele na buite op die stoep gestoot. Daar het hulle toegekyk hoe Liezl en Greg voor ds. Kobus de Kock ewige trou aan mekaar beloof.

Elke dan en wan het oupa Dolf na sy geliefde Lettie geloer, sy “Gogga”, soos hy haar genoem het. Ná die plegtigheid het die bruidspaar en hul twee gaste saam met die personeellede van die ouetehuis kolwyntjies geëet en ’n glasie vonkelwyn geklink.

“Dit was oorweldigend en ek kan eintlik so min van die seremonie onthou,” vertel Liezl. “My ouma-hulle was daarna baie moeg en het gaan slaap. Toe was dit ek en Greg alleen met ’n bottel vonkelwyn op die sementblad onder die boom!”

Haar oupa het die familie ná die troue die blye nuus laat weet, en op pad terug van Langebaan is die pasgetroudes met gelukwensings en oproepe oorval.

Dié hande kon mekaar 65 jaar lank liefderik vashou. Foto: Claire Nicola Photography

“Almal was baie bly vir ons,” sê Liezl. “En baie het gesê dit is maar net tipies ons, want ek en Greg doen weird goed.

“Dit was ’n storie wat ek nie vir my ouma en oupa hoef te vertel het nie. Ek kon hulle deel maak daarvan.”

En vandag, ’n paar maande ná die troue in Februarie, is Liezl veral bly sy kon hulle op haar spesiale dag hê, want minder as ’n maand daarna is haar geliefde ouma aan ’n beroerte oorlede.

Dolf en Lettie Botha se pad saam het vroeg in die 1950’s met ’n toe-oë-afspraak begin. Van toe af was hulle onafskeidbaar. Toe hulle op 7 November 1953 op Reitz in die Vrystaat trou, was hulle arm: Dolf ’n staatsdiensamptenaar en Lettie ’n poskantoorwerker.

“Hulle het destyds in iemand se motorhuis gewoon,” vertel Liezl. Sy het jare later in ’n stadium kleintyd by hulle op Struisbaai gewoon omdat haar ma as ’n model gereeld moes reis.

In hul aftreejare op Struisbaai was die innige verhouding tussen haar grootouers vir die jong Liezl ’n inspirasie. “Dit was so mooi om te sien hoe hulle hul liefde aan mekaar betoon het.

“My ouma kon bestuur en was ’n onafhanklike vrou. Maar oupa het haar altyd haarsalon toe gevat. En dan wag hy in die kar met sy koerant en sy kep. Eendag toe sê ek vir haar: ‘Maar ouma, vat net jouself haarsalon toe.’ Toe sê sy: ‘Nee, dít is hoe mans wys hulle is lief vir jou.’ ”

Die paartjie vier hul bruilof in die tehuis met kolwyntjies en vonkelwyn. Foto: Claire Nicola Photography

Dan voeg sy by: “Greg is ook so, en ek het nog altyd gesê ek soek ’n man soos my oupa.”

Liezl, ’n advokaat, en Greg, ’n ingenieur wat oorspronklik van Pole kom en op Vryheid in KwaZulu-Natal grootgeword het, het mekaar in 2012 op ’n strand in Indië vir die eerste keer gesien.

Hulle het destyds albei ’n paar maande lank in Indië gewoon om asem te skep. Toe Liezl vir ’n hofsaak na Suid-Afrika moes terugkeer, het Greg drie maande later by haar aangesluit.

Kort daarna het die twee besluit om alles te los en die wêreld saam plat te reis. “Ons het al op baie plekke gewoon: Borneo, Kambodja, oral,” vertel Liezl.

Sy meen sy het haar liefde vir reis by oupa Dolf en ouma Lettie geërf. Hulle was gek daaroor en Liezl het kleintyd saam met hulle Turkye en Bahrein besoek. “Dit was vir my erg toe hulle ouer raak en nie meer so kon reis nie,” vertel Liezl.

“ ’n Sielkundige het toe eenkeer vir my gesê as jy hulle nie kan saamvat nie, vertel hulle daarvan.”

Sedertdien koop Liezl, wat die afgelope paar jaar saam met Greg op luukse seiljagte werk, vir hulle poskaarte op elke dorp wat sy besoek.

“Ons was so twee jaar gelede weer in Indië met vakansie en toe het Greg my gevra om te trou, op dieselfde plek waar ons mekaar ontmoet het.”

Ouma Lettie het vir Liezl gesê sy sal “weet” wanneer sy “die een” ontmoet. “Ek het eers gedink dit klink te eenvoudig, maar ja, dit het net reg gevoel,” sê sy.

Met hul vinnige lewenspas het die trouplanne eers gesloer. Boonop werk hulle nie altyd op dieselfde seiljag nie en was die twee verloofdes lang tye duisende kilometers van mekaar.

Maar een oggend in Februarie toe hulle weer in Suid-Afrika met vakansie was, het Liezl een van haar “bevliegings” gekry. “Ek’t die oggend wakker geword, toe vra ek vir Greg: ‘Hei. Wil jy trou?’

“Toe dink ons gou wat ons alles nodig het om te trou: ’n huweliksvoorwaardekontrak, ’n rok en ’n dominee. Ek het toe sommer my ouma-hulle s’n gevra, hy het ingestem en ek het die ouetehuis gebel.”

Liezl en Greg het mekaar in 2012 in Indië ontmoet. Foto: Claire Nicola Photography

Nie hul ouers of vriende het geweet wat hulle in die mou voer nie en binne ’n week is alles gereël. Op Woesdagoggend 7 Februarie het die bruidspaar eers ’n paar foto’s in die strate van Stellenbosch geneem voor hulle die amper 150 km Langebaan toe afgelê het om Liezl se ouma en oupa te verras.

“Dit was perfek,” sê Liezl nou oor daardie kosbare dag. “Ons doen niks op die normale manier nie.”

Sy glo dit was haar grootouers se nuuskierigheid en humorsin wat hulle ’n leeftyd lank bymekaargehou het. Liezl is ook vol bewondering vir hoe die twee bejaardes elkeen hul plek in die huishouding vol gestaan het, haar ouma met allerhande huistake en haar oupa veral met werk buite en in die tuin.

Die twee het in soveel vrede met mekaar saamgeleef, vertel sy. Dit was haar oupa wat haar jare gelede al goeie raad vir die huwelik gegee het. “Hy het eendag vir my gesê: Wees net lief vir mekaar, op ’n mooi manier.” 

Hare en grimering: Yollande Du Toit; Koffierestaurant: Kompanjie koffie; Blommeontwerp: Okasie