Dag ná dag het die twee susters in die hoog­geregshof in Kaapstad sit en luister na die grusame getuienis oor die moord van hul ma.

Hoe sy so hard met ’n stomp voorwerp in die motorhuis van haar woonplek in die spogbuurt Constantia geslaan is dat haar skedel en kakebeen gebreek het. Hoe haar lewelose liggaam daarna in die kattebak van haar groen BMW gelaai is voor haar moordenaar agter die stuur ingeskuif en na die Diepriviertreinstasie gery het.

En toe steek hy die motor aan die brand met hul ma steeds in die kattebak . . .

Die twee susters by hul ma, Gill. Foto: Facebook
Die twee susters by hul ma, Gill. Foto: Facebook

’n Mens sou verwag dat die twee jong susters die man in die beskuldigdebank met afsku sou aangluur. Maar die beskuldigde is hul pa, die 57-jarige Kaapse ­sakeman Rob Packham.

Terwyl sy opspraakwekkende dubbele lewe in die hofsaal oopgevlek is, het die bebrilde gryskopman, buiten sy effense frons, emosieloos gelyk.

Agter hom het sy twee dogters, Kerry-­Ann (28) en Nicola (26), stil geluister na die besonderhede van sy obsessiewe seksuele verhouding met ’n ander vrou en hoe hy op 22 Februarie 2018 hul ma, Gill Packham (55), vermoor en dit toe as ’n motorkaping probeer verdoesel het.

Regter Elize Steyn het Packham se verweer dat hy nie sy vrou vermoor het nie as blatante leuens bestempel.

Judith en Nicola in die hof terwyl Packham na die aanhoudingselle in die hooggeregshof in Kaapstad geneem word. “Ons is lief vir jou,” het Nicola aan hom gesê. Foto: Gallo Images/Getty Images
Packham se suster, Judith Markwell, en Nicola woon
Packham se suster, Judith Markwell, en Nicola woon die hofverrigtinge by. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tog het Nicola Packham op 16 Mei – terwyl haar pa uit die beskuldigdebank na die hofselle gelei word – na hom gekyk, geglimlag en toe hoorbaar gesê: “Ons is lief vir jou.”

Net vier dae later, op 20 Mei, het regter Steyn hom skuldig bevind.

Hy het ’n “selfsugtige en vernietigende” dubbele lewe gelei, het sy in haar uitspraak verklaar. Sy het hom as “emosieloos” beskryf; ’n man wie se lewe deur misleiding op verskeie vlakke gekenmerk is.

“Hy het bewys hy is ’n suksesvolle leuenaar,” het die regter opgesom.

Maar skaars ’n week ná hierdie striemende uitspraak het Kerry-Ann die hof gevra om haar pa se vonnis te versag.

In die beskuldigdebank – Packham omhels sy dogter
In die beskuldigdebank – Packham omhels sy dogter Nicola. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy het Rob beskryf as “die beste pa in die wêreld”, wat vir sy gesin gesorg het. Sy het oor hul hegte verhouding getuig; hoe sy hom altyd raad kon vra en dat haar ouers ’n “normale, gelukkige huwelik” gehad het.

“Asseblief, moenie hom vir ewig tronk toe stuur nie,” het sy gesoebat.

Maar hoe is dit moontlik dat die Packhamsusters hulle bly skaar by die man wat hul ma koelbloedig en wreed vermoor het; die pa wat hulle van hul ma ontneem het?

En hoekom gebeur dit so dikwels dat mense bly staan by een bloedfamilielid wat ’n ander se lewe geneem het.

Wat die kenners sê

Die Pretoriase kriminoloog dr. Christiaan Bezuidenhout sê familielede wil dikwels nie aanvaar hul geliefde is tot moord in staat nie.

“Dogters plaas baiekeer hul pa’s op ’n troontjie en bewonder hulle. Intussen weet hulle nie hoe hy dalk hul ma verniel het nie, al is dit net op ’n sielkundige vlak. Die kinders het dalk nooit die donker kant van hul pa geken nie.

“Skielik word jou pa skuldig bevind aan moord, en nou moet jy die teenoorgestelde van hom glo,” sê Christiaan.

Al word die feite in die hof voorgelê, is dit steeds moeilik om te aanvaar.

Kinders het van ’n jong ouderdom die vermoë om kant te kies.

“Ons sal nooit weet waardeur hierdie dogters gaan nie. Maar as ons kan bespiegel: Die dogters het hul lewe lank na hul pa geluister.

“Kinders het van ’n jong ouderdom die vermoë om kant te kies. Watter ouer kies hulle? Het hulle ’n goeie verhouding met hul ma gehad, of was dit beter saam met hul pa?”

Die sielkundige Danie Nel van Alberton sê die emosionele behoeftes waarop ’n ouer-kindverhouding gegrond is, word nie noodwendig deur traumatiese gebeure ongedaan gemaak nie.

Traumabinding

“Party kinders het ’n nimmereindigende behoefte aan die goedkeuring en liefde van die ouer, ongeag hul wangedrag,” sê hy.

Danie verwys na die verskynsel bekend as trauma bonding.

Dit ontstaan wanneer mense in stresvolle situasies deur sterk emosies oorweldig word en ’n verbintenis vorm met iemand wat skade aan hulle berokken het of daaraan vasklou.

Die uiterste hiervan is stockholm­sindroom, waar ’n gyselaar ’n hegte band met hul ontvoerder smee.

Hy sê wanneer traumabinding tussen mense plaasvind, ontwikkel ’n “sterk gevoel van lojaliteit en meegevoel.

“Sulke mense ontwikkel buitengewone gevoelens en smee ’n spesiale band.”

Dit kan byvoorbeeld veroorsaak dat kinders vir ’n ouer se wan- of mis­dade verskoning maak en hulle by daardie ouer bly skaar ondanks die wêreld se wanbegrip of veroordeling.

Danie sê mense kan oënskynlik irra­sioneel optree weens dié misplaaste ­lojaliteit, maar terapie kan hulle help.

Ontkenning

Die kriminoloog Anna van der Hoven van Centurion voeg by ontkenning is ’n verdedigingsmeganisme teen trauma. Dis makliker vir familielede om ’n veroordeelde familielid te glo as om die waarheid te aanvaar.

“As die ontkenning sterk is, is dit moeilik om die werklikheid te sien,” sê Anna.

“Dit kan baie lank duur, indien ooit, voor die familielede tot ander insigte kom.

“Mense gebruik verdedigingsmeganismes om hulle te beskerm teen angs wat uit onaanvaarbare denke en gevoelens spruit. Dan neem hulle on­bewustelik die besluit om enigiets anders as die waarheid te glo.

“Die brein wil ingewikkelde probleme so gou moontlik probeer vereenvoudig. En die eenvoudige pad vir die brein is ontkenning.”

Christiaan beklemtoon oortreders sal hul naastes se denke ook soms met leuens probeer manipuleer pleks van die verskriklike of vernederende waarheid te erken.

Status

Die Pretoriase sielkundige Jea­n­nette Blom beaam: “Die moord­beskuldigde wil sy status behou – hy wil nie hê sy dogters of familie moet sleg dink van hom nie; dus vertel hy ’n leuen.”

Die oortreder se familie neem dan die onbewustelike besluit om net dit wat goed is te onthou en dit wat werklik gebeur het op die agtergrond te skuif. Dit raak dan moeilik om enige ander weergawe van gebeure te glo as die een wat die moordenaar voorhou – al bewys ’n hof die teendeel.

Jeannette sê as die oortreder psigopatiese neigings het, sal hy nie skuldig voel oor sy leuens nie en daarmee volhou, wat dit nog moeiliker maak vir sy naastes om die waarheid te konfronteer.

Rob Packham se saak is ná sy skuldigbevinding uitgestel tot 10 Junie vir slotbetoë en vonnisoplegging. Sy familie wil nie onderhoude toestaan nie.


Bloed bly dikker as water

Dis nie die eerste keer dat mense hulle skaar by ’n familielid wat van moord aangekla of daaraan skuldig bevind word nie. Soms laat blyk familielede openlik hul lojaliteit; in ander gevalle hou hulle vol hul familielid is onskuldig ondanks die bewerings of getuienis in die hof.

Don Steenkamp

Don Steenkamp. Foto: Gallo Images/Foto24/Mary-Ann Palmer

Sy ouma Bettie Steenkamp het bly glo plaasaanvallers het sy ouers, Christel en Deon, en suster, Mar­thella (14), in 2012 vermoor ondanks die feit dat hy in 2014 aan die moorde skuldig bevind is.

“Hy het in die hof vir my gesê: ‘Hoekom sal ek my ma, pa en sussie waarvoor ek so lief was, skiet?’ ” het Bettie in 2013 aan Huisgenoot vertel. Sy is in 2017 oorlede; hy dien 20 jaar tronkstraf uit.

Die sakeman Christopher Panayiotou van Port Elizabeth

Panayiotou is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy sy vrou, Jayde, in 2015 laat vermoor het. Maar ná sy vonnisoplegging in Desember 2017 het sy pa, Costa, gesê: “Ek ken my seun. Hy sou nooit so iets gedoen het nie.”

Oscar Pistorius

Nadat die appèlhof Oscar Pisto­rius in 2015 skuldig bevind het aan moord op Reeva Steenkamp pleks van strafbare manslag soos die hooggeregshof eers bevind het, het sy broer, Carl, in 2016 aan Huisgenoot geskryf: “Hy sal nooit herstel van die wete dat hy haar dood veroorsaak het nie.”

Die Johannesburgse sakeman Jason Rohde

Rohde se ma, Brenda, het tydens sy moordverhoor getuig dat sy drie dogters hom steun ondanks die feit dat hy in 2016 aangekla is van die moord op sy vrou, Susan, by die Spierlandgoed op Stellenbosch.

“Hulle draai steeds na hom vir leiding en hulle ondersteun hom,” het Brenda gesê. Jason is in 2018 skuldig bevind aan die moord en dien nou tronkstraf uit.

Henri van Breda

Party familielede van die Stellenbosse bylmoordenaar Henri van Breda glo steeds hy is onskuldig aan die moorde op sy ouers, Martin en Theresa, en broer, Rudi, in 2015.

“Ek kan nie aan ’n groter psigiese trauma dink as dat jou ouers voor jou vermoor en jy daarvan aangekla word nie,” het sy tannie  Leenta Nel in Desember aan Huisgenoot gesê.

Henri dien lewenslange tronkstraf uit nadat hy verlede jaar skuldig bevind is.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.