"Huis, paleis, pondok, woonstelblok . . .” kan die ou aftelrympie vir die Kensingtonpaleis aangepas word.

Want in dié paleis van ’n huis vir die Britse koninklikes bly hulle sowaar almal onder een dak, byna soos gewone sterflinge in ’n woonstelgebou.

Die verskillende eenhede is dan ook as woonstelle oftewel “apartments” in­gedeel.

Prins William, Kate en hul drie spruite woon in woonstel 1A en prins Harry en sy nuwe vrou, die voormalige aktrise Meghan Markle, gaan glo binnekort langs hulle in woonstel 1 nesskop. En met ’n volle 21 vertrekke is dit darem veel groter as die meeste jonggetroudes se eerste blyplekkie . . .

Al is die paleis een van die glansrykste wonings in Engeland, was sy inwoners met die jare nie almal ewe beïndruk daarmee nie.

Voor haar dood het prinses Diana laat blyk dit voel soos ’n “tronk”. Met sy rooibruin baksteenmure, lang groen gras, boomryke tuine en bejaarde inwoners het dit in ’n stadium meer aan ’n ouetehuis herinner as aan ’n weelderige tuiste vir adellikes.

Die hertog van Windsor – die voor­malige koning Edward VIII, wat in 1936 geabdikeer het om met die geskeide Wallis Simpson te trou – het die paleis as “ ’n hoop tantes” beskryf.

En koningin ­Victoria, wat in 1819 in die paleis gebore is, het dit glo “gehaat” om daar te woon.

Koningin Victoria het glo net mooi niks van die paleis gehou nie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die paleis spog met ’n geskiedenis van byna 400 jaar. Dit is in 1619 as ’n herehuis gebou en is sedert 1689 in die Britse ­koningsgesin se besit. Koning William III en koningin Mary II het dit in daardie jaar gekoop en aansienlik laat vergroot.

En vandag is die terrein van die Kensingtonpaleis, of “KP” soos dit glo onder die jonger koninklikes bekendstaan, die tuiste van 15 lede van die Britse konink­like familie wat gesellig hier saamwoon; as’t ware op mekaar se voorstoep.

Vir William en Harry hou dié paleis herinnerings in aan hul jeugjare saam met hul ma, wyle prinses Diana. Sy en prins Charles het ná hul troue in 1981 by paleiswoonstelle nommer 8 en 9 ingetrek. Dit is aan mekaar verbind om een woonstel te vorm.

Nadat hulle in 1996 geskei is, het dié woonstel Diana se amptelike tuiste gebly tot met haar dood op 31 Augustus 1997. Deesdae woon paleispersoneel in daardie deel van die reusegebou.

Sowat ’n maand gelede het William se niggie prinses Eugenie en haar verloofde, Jack Brooksbank, in die paleis ingetrek. Hulle trou in Oktober.

Volgende op die lys van nuwe intrekkers is Harry en Meghan. Hulle gaan sy tweeslaapkamerkothuis, ’n klipgooi van die paleis, vir hul nuwe, veel ruimer woonstel verruil.

Maar jy hoef nie bloubloed te hê om in die Kensingtonpaleis in te trek nie. Onder die sowat 50 inwoners tel ook lede van die ­paleispersoneel en militêre mag. Selfs lede van die publiek wat bereid is om hul sak vir die hemelhoë huurgeld te skud, woon hier.

Die paleis spog ook met ’n re­staurant in die deel wat as “The Orangery” bekendstaan. En teen sowat R290 000 kan jy selfs jou huweliksonthaal hier hou.

Koningin Elizabeth en prins Philip se amptelike woning in Londen is die ­Buckinghampaleis, en prins Charles en Camilla, hertogin van Cornwall, s’n ­Clarence House.

Maar kyk net hoe knus woon die Ken­sing­ton­paleis se bekendste ­inwoners.

Die paleis spog ook met ’n re­staurant in die deel wat as “The Orangery” bekend- staan. En teen sowat R290 000 kan jy selfs jou huweliksonthaal hier hou.
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, CHRIS JACKSON/KENSINGTON PALACE; Bronne: Business Insider; The Mirror; The Daily Mail; Town and Country; Travel and Leisure; The Telegraph