Daar’s dikwels iemand wat dit nie kan verduur om uitgesluit te wees nie en insluip om in die pret en feestelikhede te deel. Maar dié vrou vat die (trou)koek – en haar uitbarsting maak wêreldwyd opslae. 

Stel jou voor: Die bruid en bruidegom, van Detroit in die Amerikaanse deelstaat Michigan, is op die punt om mekaar ewige trou te beloof toe ’n ongenooide gas deur die gaste druk tot by die kansel – en sonder omhaal verklaar sy het ’n baie goeie rede waarom die man en vrou nie in die huwelik bevestig moet word nie.

Dan beweer sy sy verwag die bruidegom se baba. Een van die gaste het die kans aangegryp om die dramaties toneel vas te vang en dit op TikTok gedeel.

Op die aksiebelaaide greep staan die paartjie onder ’n koepel omring deur hul trougevolg. Terwyl die huweliksbevestiger hul beloftes voorlees, nader die woedende indringer die groep van agter die sierlike boog en begin die bruidegom berispe.

 “Anthony! Jy maak of jy my nie ken nie? Nie vandag jou psigiatriese medisyne gekry nie?” skree sy.

 Die predikant ignoreer haar botweg en hou aan met die beloftes terwyl die gaste hoorbaar na hul asem snak oor al die drama.

“O, nee. Vader, nee!” fluister een van die geskokte gaste. Die verontregte vrou is nie beïndruk met die gebrek aan aandag nie en maak seker die bruidegom hoor wat sy te sê het. 

“Anthony, ek weet jy hoor my!” gaan sy voort. “Jy tree op asof jy my nie ken nie . . . Ek het jou baba hier!”

Op dié oomblik tree die bruid se dogter vorentoe en gooi haar blomme na die ongenooide gas.

KYK

“Jy moet by my mamma se troue wegkom,” skree die dogter in die video wat al meer as 10 miljoen keer op TikTok gekyk is. 

En kykers lug ook natuurlik hul mening. “Haar dogter speel nie,” skryf ’n kommentator onder die plasing.

“Die dominee kap net aan,” sê ’n ander een.

Dis nou vir jou ’n ding. 

Bronne: Mirror, TikTok