Passasiers aan boord van ’n vliegtuig op ’n New Yorkse lughawe het gedink dis die einde toe ’n polisiebrigade die vliegtuig bestorm omdat hulle onder die indruk verkeer het die vliegtuig word gekaap.

Die insittendes is gevra om hul hande in die lug te hou en hul fone weg te sit.  

Die chaos is Maandagaand veroorsaak nadat die loods van die vliegtuig, wat onderweg was Los Angeles toe, radioprobleme ondervind het.

JetBlue Airways het laat Dinsdag gesê die span aan boord van die vliegtuig het probleme ondervind met kommunikasie met die beheertoring en dat ’n vals alarm vir hulle gestuur is.

“Terwyl die kommunikasie deur alternatiewe kanale herstel is, het die lughaweowerheid uit versigtigheid gereageer,” het JetBlue in ’n verklaring aan Time.com gesê. Die vliegtuig is ontruim en deursoek.

Alexa Curtis, ’n passasier, het aan CNN vertel sy was vreesbevange. Passasiers het in die vliegtuig sit en wag dat dit opstyg, toe hulle sien die polisie omring dit. Oomblikke later was lede van die spesiale magte aan boord van die vliegtuig.

“Mense het gehuil. Almal het hul boodskappe aan hul families gestuur – en ons was op die grond," het sy aan CBS Los Angeles vertel. Gewoonlik sou ’n mens verwag so iets gebeur net in die lug,” het sy aan CBS Los Angeles vertel. “Mense was gereed om dood te gaan.” 

Volgens haar is die passasiers nie ingelig oor wat gebeur het nie en is hulle net van die vliegtuig afgeneem. Die vlug is langer as drie uur vertraag en het omstreeks elfuur die aand na Los Angeles vertrek in plaas van die geskeduleerde halfagt.

Bronne: Cnn.com; Cbsnews.com; Time.com