Sy ma, Nandia, sal die bord vandag gaan besigtig. “Ek hoop dit bring vertroosting,” sê Nandia aan Huisgenoot. “Maatjies kan blomme daar gaan sit en ek kan die bordjie self ook besoek. Daar is 'n bankie naby die bord; dus hoef hulle nie alleen te wees wanneer hulle soontoe wil gaan nie.”

Dylan Neethling gedenkplaat
Die gedenkplaat vir klein Dylan Neethling wat by sy skool opgerig is. Foto: Verskaf

Dylan is op 8 September in die vroeë oggendure deur sy pa, Johann Neethling, vermoor terwyl hy in sy bed lê en slaap het.

Johann het ’n skietery by die polisie aangemeld en homself toe geskiet nadat hy langs sy seun op die bed gaan lê het. Nandia en Johann was ten tyde van die skietery vervreem en Dylan het by sy pa gekuier.

Intussen bevind Nandia haar in ’n bittere regstryd met haar oorlede man se dogter uit ’n vorige huwelik, Yulandi Aktash. Dit nadat dit aan die lig gekom het dat Johann nie vir Nandia of klein Dylan enigiets in sy testament gelaat het nie.

Verder vra Yulandi, wat die eksekuteur van die boedel is, dat Nandia bewyse moet lewer van elke geskenk wat sy van Johann ontvang het gedurende hul huwelik. “Wie hou rekord van alles wat hul man vir hulle gee wanneer hulle getroud is? Hulle wil ook nie my kind se goed vir my gee nie. Ek meen dit is goed vir ’n kind - ’n kaskar en ’n vierwielmotorfiets.”

Nandia Neethling is gebroke ná die sinnelose moord
Nandia Neethling was gebroke ná die moord op haar seun. Foto: John Rodger/Media24/Gallo Images

Yulandi het deur haar prokureur, Candy-Lee de Sousa, laat weet dat sy geen kommentaar wil lewer nie. Boonop belet sy haar die gesinshuis in Panorama waar Nandia agt jaar gewoon het terwyl sy met Johann getroud was. 

“Van my skoonheidstoerusting is nog daar. Die skottelgoedwasmasjien wat hy vir my gegee het toe ons ’n jaar getroud was en ’n mikrogolfoond.”

Sy vra ook dat sy die motor teruggee waarmee sy rondry wat Johann vir haar gegee het, maar wat steeds in sy naam geregistreer is.

“Eers het hy my kind gevat en nou los hy my met niks.”

Yulandi is in Januarie 2018 in Suid-Afrika getroud en woon in Dubai. 

“Ek wil net my kind se goed hê,” vertel ’n moedelose Nandia. Sy het vroeër aan Huisgenoot vertel dat hulle nie weet wat presies in daardie huis gebeur het ten tyde van die skietery nie.

“Wat gaan deur so iemand se kop? Dylan het sy hele lewe voor hom gehad.”

Nandia Neethling
Nandia Neethling het 'n kers vir haar seuntjie gebrand.