Tayla Harvey en Daniel Lister
Tayla Harvey en Daniel Lister. Foto: Verskaf

Die paramedikus-egpaar Tayla Harvey (25) en Daniel Lister (30), wat in die oog van die coronavirus-storm in die voorste linies werk, se liefde vir mekaar en hul werk hou hulle aan die gang. 

Tayla en Daniel van Abbotsford in Oos-Londen het mekaar in 2016 ontmoet toe Daniel deel van ’n span paramedici was wat haar van een hospitaal na ’n ander vervoer het toe sy ’n operasie moes ondergaan. Tayla vertel Daniel het in daardie stadium vir ’n ander ambulansdiens in die stad gewerk.

“Hy wou baie graag met my praat en ek wou met hom praat,” sê sy aan Huisgenoot. “Maar dit was net ongemaklik, want jy kan nie by ambulanspersoneel aanlê nie. Maar ná ’n ruk het ek die moed bymekaargeskraap om hom op Facebook by te voeg en dit kom toe uit hy het op die een of ander manier ook my foonnommer gekry.” 

Tayla en Daniel op hul troudag. Foto: Verskaf

Nadat hulle ’n rukkie lank vir mekaar teksboodskappe gestuur het, het die twee begin uitgaan en is in 2019 getroud. Hulle het hul beroepshulpbronne saamgevoeg en die 24-uur- mediese nooddiens Red Alert EMS in 2017 gestig. 

“Dis ’n familieondenreming wat ons saam gevestig het,” vertel Tayla, wat vier jaar lank in die paramediese beroep is.

“Ek hou net daarvan om mense te help, veral kinders,” vertel Daniel, wat al 13 jaar ’n paramedikus is. Maar al is hy langer as ’n dekade in die bedryf, was 2020 vir Daniel die uitdagendste jaar.

“Die hele pandemie raak baie gesondheidswerkers en ons lyn van werk is nie anders nie,” sê Daniel. “Maar om mekaar te hê, het ons die storm help trotseer.”

Al is die egpaar aan grusame ongelukke gewoond, sal ’n spesifieke voorval van 2020 vir altyd in hul geheue ingebrand wees. 

Tayla Harvey en Daniel Lister
Tayla meen daar is geen normale dae vir hulle nie. Foto: Verskaf

“Een nag het ons na ’n voertuig gegaan wat op die hoofweg gerol en teen ’n wal afgerol het. Daar was ’n gesin in, onder meer kinders van vier jaar en agt maande oud,” vertel Tayla.

“Almal was in die voertuig vasgekeer. Die ma was in ’n kritieke toestand en die res van die gesin was ernstig beseer.”

As die eerste ambulans wat op die toneel aangekom het, het die twee geweet hulle moes alles in hul vermoë doen om die gesin te help. “Dit was net ek en Dan, en ons het so vinnig gewerk as wat ons kon om almal te probeer stabiliseer tot ons ekstra ambulanse aangekom het om te help.” 

“Ons het vir die eerste paar minute oorweldig gevoel en ek dink adrenalien en die behoefte om hierdie lewens te red het oorgevat.”

Tayla sê hul vermoë om kalm en doeltreffend as ’n span te werk, het hulle deur daardie krisis gehelp. “Ons moes die take van ses mense uitvoer toe dit net ons alleen was. Ons het net begin en so vinnig en hard gewerk as wat ons kon,” vertel sy. 

Gelukkig was die gesin op die ou end oukei, maar die voorval het vir dae agterna by die egpaar gespook. “Wanneer jy teen tyd jaag om ’n lewe te red, is daar nie tyd om jou gevoelens te verwerk nie. Jy moet net fokus,” voeg Daniel by. 

“Ek en Tayla het vir dae daarna met mekaar daaroor gepraat en op die gesin se vordering in die hospitaal op die hoogte gebly.” Om sulke grusame en hartverskeurende ongelukke te sien, het hulle geleer om die lewe meer op prys te stel.

“Dit het ons geleer om die lewe en mekaar meer te waardeer, want ons het eerstehands gesien hoe kort dit kan wees.” 

Vir Tayla is dit vervullend en uitdagend om saam met Daniel te werk om lewens te red. “Hetsy jy ’n vroeggebore baba agter in die ambulans help verlos of op ’n toneel kom waar jy iemand moet resussiteer en die hele gesin is daar – dit kan alles baie uitdagend wees, maar dit is ook baie lonend,” sê sy.

Tayla Harvey en Daniel Lister
Daniel op die toneel van 'n ongeluk. Foto: Verskaf

Die beste deel van saam met mekaar werk, is “omdat ons 24 uur per dag en 365 dae van die jaar saam werk ons amper al weet wat ons nodig het nog voor ons dit gesê het,” sê Daniel. 

“Ons hoef nooit iets te sê terwyl ons werk nie. Dit help ons dinge vinniger gedoen kry, want ons weet reeds wat ons maat nodig het. Dit maak dit vir ons maklik om doeltreffend in die ambulans te werk.” 

Wat help hulle die stres van die pandemie hanteer terwyl hulle saam werk? “Baie grys hare kry en baie stry,” sê Tayla met ’n laggie.

“Ons is net bestem om saam in hierdie bedryf te wees,” voeg sy liefdevol by.

“Ons het geleer om onder baie stresvolle en lang werkure dag en nag staande te bly.”

Taylor en Daniel bestuur nie net hul eie mediese diens nie; hy is ook 24 uur per dag op bystand. “Daar is vir ons geen normale dag nie,” merk Tayla op. 

“Ons moet die positiewe uit elke dag haal,” sê sy. Maar op die dae dat hulle wel genoeg rus kry, staan hulle vyfuur soggens op om te gaan gim. 

Tayla en Daniel op hul troudag
Foto: Verskaf

“Ons probeer seker maak ons het oomblikke weg van ons werk af om mekaar intiem te ervaar. Dit kan bloot wees om op ons bed te lê en ’n bietjie tyd af te vat om asem te haal, pieknieks te hou en lang motorritte te vat,” sê Tayla. 

Daniel se woorde as ’n paramedikus aan alle Suid-Afrikaners is: “Wees veilig. As daar een ding is wat ons almal van die virus kan wegneem, is dit dat veiligheid prioriteit is. Beskerm jouself en ander deur ’n masker te dra en jou hande te was.”