“Leonel is weer haar ou stout en woelige self,” ve
“Leonel is weer haar ou stout en woelige self,” vertel haar pa, André, oor die besige blondekoppie. Foto: Verskaf

Dit is ’n skoolaand in die Riekert-gesin se huis. Die oggend het die land se matrieks hul skoolloopbane afgesluit deur hul finale matriekuitslae te ontvang.

Maar vir klein Leonel (5), wat in Junie verlede jaar sig in haar linkeroog verloor het, is dit net die begin van haar skoolloopbaan.

“Sy is baie happy by die skool,” vertel pa André aan Huisgenoot met Leonel babbelend in die agtergrond. Ma Mari en ouboet Nathan (9) is ook daar.

“Leonel is weer haar ou stout en woelige self,” vertel hy oor die besige blondekoppie.

Die egpaar het Leonel vanjaar as ’n gr. R-leerder ingeskryf by die Parys Christelike Skool, ’n privaat skool.

“Ons het gedink dit sal goed wees vir haar sodat sy beter kan cope,” vertel hy. Hy vertel die klasse is kleiner wat hopelik die aanpassing vir Leonel makliker sal maak.

Dit was vir dié gesin ’n groot trauma toe Leonel in ’n fratsongeluk by die huis beseer is. André het verlede jaar kort ná die voorval aan Huisgenoot vertel hy was besig om wasgoed uit die tuimeldroër te haal, toe Leonel, wat in die omtrek gehelp en speel het, kom kla hul pitbull-hond het haar bal gevat.

Leonel en haar oupa, Peet Nel. Foto: Verskaf
Leonel en haar oupa, Peet Nel. Foto: Verskaf

In die oomblikke daarna, waarvan hulle tot vandag probeer sin maak, het Leonel ’n skêr in die hande gekry en die hond daarmee gejaag. Sy het gestruikel en die op die skêr geval. Dit het deur haar linkerwang gesteek en haar oog binnegedring.

Al sal ’n mens nooit kon raai nie, omdat die oog so mooi lyk, moes Leonel sedert die voorval drie operasies ontvang.

Die oogspesialis, wat haar retina probeer red het, het haar ouers eindelik November verlede jaar meegedeel daar is niks meer wat hy vir Leonel kan doen nie. Sy sal waarskynlik nie meer as die 5% sig wat sy in dié oog oor het, kan herwin nie.

Die ouers het vandaar probeer om tot by ’n punt van aanvaarding te kom en Leonel onder haar nuwe omstandighede te help aanpas.

Uitdagings

Leonel en haar boetie, Nathan. Foto: Verskaf
Leonel en haar boetie, Nathan. Foto: Verskaf

André vertel met die aanvang van Leonel se skooljaar, wat by dié privaat skool reeds op 2 Februarie begin het, het hulle begin agterkom watter uitdagings voorlê.

“Hulle het ’n aktiwiteit gedoen waar die kinders daardie groot blokkies in verskillende vorms, soos vierkante en driehoeke, deur ’n gat moet plaas. Leonel het gesukkel om dit te doen omdat sy nie die gat kry nie. Wanneer sy op ’n plat oppervlak ’n legkaart bou, het sy egter geen probleem nie.”

Dit is eers toe dat André en Mari besef tot watter mate Leonel se dieptepersepsie aangetas is.

“Die dokter se vrees is dat dié ogie lui kan raak en dat die spiere later glad nie meer werk nie. Ons hoop dat sy dit by die skool sal kan oefen, maar ons gaan die ‘goeie’ ogie minstens ’n uur per dag moet toeplak sodat sy net deur die beseerde ogie kyk. Sy het net 5% sig in die blinde oog; so jy kan dink wat ’n frustrasie dít vir ’n vyfjarige is! Dis nie ’n minuut nie, dan wil sy dit nie meer doen nie.”

Ons vra wat Leonel die meeste by die skool geniet en skielik klink die meisie se stemmetjie op.

“Ek het nog nie baie maatjies nie!” Die pa lag. “Net nou-nou het sy van al die maatjies vertel!”

Die ouers is bly haar ouboet is in dieselfde skool.

“Ag, jy weet hoe is boetie en sussie, die een oomblik is hulle heeltyd bymekaar, en die volgende oomblik wil hulle mekaar se hare uittrek. Maar ja, hy is baie erg en beskermend oor sy sussie.”

"Nathan is baie erg en beskermend oor sy sussie,” vertel André. Foto: Verskaf

Leonel se stemmetjie klink weer op. Sy stap tot by haar pa en ’n mens hoor hoe sy iets in sy oor fluister.

“O, oukei. Sy sê ek moet vertel sy het ’n nuwe hond, Harley. Hy is ’n Great Dane.”

Voor ons aflui, vertel André die hoop beskaam nie dat sy dogter wel nog van haar sig kan herwin nie. Hy dink reeds aan die uitdagings as Leonel 18 is en sy begin motor bestuur . . .

“Daar is ’n spesialis in Potchefstroom na wie ons haar nog wil neem. Ons wil net ’n tweede opinie kry. Eers dan sal ons vrede hê ons het alles vir ons kind probeer doen.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe