Dit was sy blonde tweelingseuns se potblou oë wat hom heeltyd dophou.

Dít het hom laat vasbyt in die stryd wat vir talle ander na ’n onbegonne taak gelyk het. Want danksy Hendri Terblanche (42) se toewyding aan sy seuntjies is ouerskapsverlof van 10 dae nou vir die eerste keer wet in Suid-Afrika.

“Jy kan nie iets begin en dan halfpad ophou nie. Ek kan nie my seuns ’n les leer as ek nie self met iets kan volhou nie,” verduidelik die Kaapse pa.

Ná vier jaar van vasbyt en volhou het sy pogings om die wet in Suid-Afrika te wysig eindelik vrugte afgewerp.

Op 23 November vanjaar het pres. Cyril Ramaphosa die Wysigingswet op Arbeidsverhoudinge onderteken – en dit bepaal dat die ouer wat nie vir kraamverlof kwalifiseer nie nou 10 opeenvolgende dae ouerskapsverlof kry wanneer ’n kind gebore word.

Dit beteken dat een ouer vir vier maande se kraamverlof kwalifiseer en die ander een 10 dae ouerskapsverlof kan kry, en nie meer net drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof nie.

In albei gevalle kan die werknemer tot 66% van sy salaris van die Werkloosheidsversekeringsfonds eis indien dit binne die salarisdrumpelbedrag van sowat R210 000 per jaar is.

Vir Hendri was die tydsberekening besonder gepas, want net die volgende dag het hy en sy vrou, Giselle (39), hul tweeling se verjaardag gevier. Klein Juandré en Danté is nou vyf jaar oud.

“Ons het ’n wynplaas besoek waar die kinders kon speel,” vertel Hendri en glimlag sag. “Ons het lekker partytjie gehou.”

Ons ontmoet die lang blonde man wat beskermend oor sy twee seuns waak by Danté se Snap-skool (Special Needs Adapted Programme) in Durbanville in Kaapstad se noordelike voorstede.

Die skool spesialiseer in onderrig vir kinders met outisme en was vir Hendri en Giselle ’n hawe toe hulle agterkom Danté ontwikkel nie teen dieselfde pas as sy tweelingbroer nie.

Hendri wil sy seuns leer dat jy nie net kan handdoek ingooi wanneer jy sukkel nie. Foto: Corrie Hansen

“Tot op omtrent twee jaar kon hy net ’n paar woorde sê. Hy het ’n hoë pyndrempel en ek het hom altyd leer ‘eina’ sê, maar toe die simptome van outisme inskop, het hy soos ’n posbussie geword: Jy sit die koevertjie in, maar niks kom uit nie.”

Hendri het gevra dat ons hier ontmoet, anders kan die twee ’n handvol raak. Die boeties sit rustig om ’n tafeltjie en speel, onbewus van die berge wat hul pa versit het om ’n samelewing te help skep wat vir almal beter is. “Pa’s wil betrokke wees,” sê Hendri.

“Maar wanneer jou drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof met die geboorte van jou kind verby is, moet jy jou gewone verlof gebruik. Dit lei daartoe dat baie pa’s nie hul verpligtings kan nakom nie.

“Dis ’n groot voorreg om ’n ouer te wees, maar ook ’n groot verantwoordelikheid.”

Hendri se stryd het begin toe die tweeling op 26 weke sowat drie maande te vroeg gebore is.

Hy en Giselle moes weke lank in die hospitaal se neonatale eenheid deurbring en daar het Hendri vir die eerste keer besef ander ouers is nie so gelukkig soos hy nie, want sy werkgewer was tegemoetkomend.

Hy kon fleksie-ure werk om meer tyd in die hospitaal deur te bring. Hendri is ’n finansiële bestuurder by die dataverwerkingsmaatskappy Medpages en spreek jou met ’n baie beleefde “u” aan.

Hy het vandag ’n netjiese kraaghemp en jeans aan by plakkies wat hy saam met sokkies dra, maar met dié aangename en vriendelike uiterlike kan jy jou maklik misgis.

Dit verberg ’n ysere wil wat van hom ’n aanhouer en uithouer by uitstek maak. Toe hy ná die tweeling se geboorte met ander ouers praat, het hy besef pa’s het ’n groot behoefte aan meer tyd saam met hul pasgebore kinders.

Later het hy besef dit moet in die vorm van volwaardige ouerskapsverlof wees. Die rekenmeester het dus ’n plan beraam en aan die werk gespring.

In Junie 2014 het hy sy veldtog afgeskop met nie minder nie as 400 persoonlike e-posse aan individuele parlementslede (LP’s).

Hierin het hy ’n versoek aan hulle gerig om nuwe wetgewing aan die parlement voor te lê sodat 10 dae ouerskapsverlof ingestel word.

Daarna het hy op 3 Julie 2014 ’n soortgelyke versoekskrif aan Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), gerig.

“Die e-posse aan LP’s was omtrent ’n storie en het tyd geverg,” lag hy.

“Ek moes op elkeen se internetblad ingaan, die e-posadres kopieer-en-plak en dan die naam insit. Uit almal het net ’n paar gereageer. Maar Hendri het elke antwoord en ontwikkeling opgevolg en “elke keer wanneer nuwe inligting beskikbaar is dit weer vir hulle gestuur om hulle verantwoordbaar te hou”.

Hy het sommer soggens drieuur al begin vuurmaak onder diegene wat veronderstel is om dinge te laat gebeur.

“Gelukkig is ek altyd vroeg uit die vere,” vertel hy.

Een van die LP’s wat wel vir hom teruggeskryf het, was Cheryllyn Dudley van die African Christian Democratic Party. Haar optrede was deurslaggewend vir Hendri se eindelike sukses.

Sy het die voorstel in Oktober 2015 as ’n privaatlidwysigingswet aan die parlement voorgelê. Dit verwys na ’n wet wat deur ’n lid van die parlement voorgelê is en nie soos gewoonlik deur ’n portefeuljekomitee of ’n kabinetslid nie.

Volgens haar was sy al ’n geruime tyd bewus van die behoefte aan ouerskapsverlof en het sy reeds ondersoek daarna begin instel.

Ná al die amptelike prosesse, byvoorbeeld al die openbare deelname wat moes plaasvind, is die wet eindelik in November 2017 deur die Nasionale Vergadering en in Augustus vanjaar deur die NRP goedgekeur.

Vaderskap
‘Pa’s wil betrokke wees’ Foto: Corrie Hansen

In November is dit deur die president onderteken. Cheryllyn het die oorwinning as “histories” beskryf omdat dit die eerste privaatlidwysigingswet is wat deur die NRP sowel as die nasionale vergadering goedgekeur is.

Hendri erken dit was beslis nie maklik om te midde van talle administratiewe uitdagings aan te hou nie. Maar ná vier jaar van honderde e-posse, opvolg-e-posse, oproepe en navrae aan belanghebbendes was sy pogings eindelik suksesvol.

Hy is gelukkig dat sy vrou, wat vir die departement landbou se kommunikasieafdeling werk, hom ondersteun het.

“Ek kan met haar oor enigiets praat en sy speel graag duiwelsadvokaat. Haar grootste kommer is produktiwiteit en mense wat te veel verlof neem.”

Maar Hendri is oortuig: “Ek glo as die werkgewer na sy werknemers kyk, sal hulle na die werk kyk.”

Sy gedagtes dwaal weer na sy seuns toe hy aan die afgelope paar jaar se stryd dink. “Die groot probleem is dat mense nie genoeg deursettingsvermoë het nie,” sê Hendri.

“Hulle gooi te gou tou op.” Gelukkig was hy nog altyd met vasberadenheid geseën, vertel hy: “Ná die tweeling se geboorte het ek vir die Comrades ingeskryf, maar ek kon nie genoeg oefen nie. Alles was klaar betaal, so ek het besluit om dit in elk geval te doen.

“Ek het so swaargekry.” Hy skud sy kop.

“Ek het later gestap, want ek kon nie meer nie. Die laaste van die laaste mense het my verbygegaan, maar ek het die afsnypunt met twee minute oor gemaak. ’n Mens blaas nie die aftog nie; jy hou uit tot die einde.”

Hendri meen sy vermoë om vooraf die eindresultaat van iets te visualiseer help hom ook. “En ek kan sien watter prosesse moet plaasvind om daarby uit te kom. Soms kry jy struikelblokke, maar dan moet jy om hulle, oor hulle of onderdeur hulle kom.”

Dié strydrospa is nie van plan om nou terug te sit nie en het ’n ruk gelede reeds met ’n nuwe veldtog begin. Dié keer beywer hy hom vir ouerversorgingsverlof.

Sy skoonma, Alice Bruwer, is vroeër vanjaar aan borskanker oorlede en dit het hom opnuut laat besef hoe belangrik dit is dat jy by jou geliefdes moet wees in so ’n moeilike tyd.

Daarby ly sy pa, Japie, aan parkinsonsiekte en sy ma, Susan, aan meervoudige sklerose. Hy vra dat wetgewing gewysig word deur die definisie van gesinsverantwoordelikheidsverlof uit te brei sodat jy dit ook kan neem wanneer jou ouer, aanneemouer of grootouer siek of sterwend is.

Op die oomblik behels gesinsverantwoordelikheidsverlof dat jy drie dae kan neem wanneer jou kind siek is of vir die geval dat jou wederhelfte, lewensmaat, ouer, grootouer, kind, kleinkind of sibbe sterf.

As alternatief vra hy dat ’n nuwe wet oor ouerversorgingsverlof geskep word.

Met ’n vasbeslote glimlag sê hy: “Dis net nog ’n poging om gelykheid en balans in die samelewing te herstel.” 

Wie kom almal in aanmerking?

Die nuwe wetgewing vereis dat albei ouers se naam op die kind se geboortesertifikaat verskyn.

Volgens dié wetgewing is die ouer wat nie vir die vier maande betaalde kraamverlof kwalifiseer nie nou op 10 dae betaalde ouerskapsverlof geregtig ná die geboorte van ’n kind.

En wanneer ’n kind van twee jaar of jonger wettig aangeneem word, kan die een ouer vir 10 weke aannemings- of surrogaatverlof soortgelyk aan kraamverlof aansoek doen en die ander een vir 10 dae ouerskapsverlof.

Daar sal nie teen paartjies van dieselfde geslag gediskrimineer word nie. Ouerskapsverlof is nuwe wetgewing wat uiteengesit word in die Wysigingswet op Arbeidsverhoudinge.

Die betaling vir ouerskapsverlof sal nes kraamverlof deur die Werkloosheidsversekeringsfonds gemaak word, sê die arbeidsregkenner Youlandé Prinsloo.

Werkgewers se menslikehulpbronnedepartemente sal dié verlofaansoeke fasiliteer, sê die ACDP-parlementslid Cheryllyn Dudley.

Al is die wetgewing deur die president onderteken, het hy nog nie aangedui wanneer dit in werking tree nie.

Cheryllyn het ’n beroep op al die rolspelers gedoen dat dit van 1 Januarie 2019 af geïmplementeer word.