Volgens Mark van der Heever, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid, is die man op 5 Oktober by die Stellenbosch-hospitaal toegelaat en het hy ’n maagoperasie ondergaan.

Hy het egter verdwyn nadat ’n verpleegster, wat hom versorg het, skoon linne gaan haal het. 

’n Soektog is geloods en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) kon hom nie vind nie.

“Ongelukkig is die pasiënt se liggaam 13 dae later ontdek in ’n afgeleë gebied in die plafon wat moeilik is om te bereik. Daar word tans konstruksiewerk by die hospitaal uitgevoer wat ook bygedra het tot die gesukkel met die soektog. Die omstandighede met betrekking tot hoe die pasiënt toegang tot die plafon verkry het, word tans ondersoek,” het Van der Heever in ’n verklaring gesê.

Die departement het sy meegevoel aan die familie oorgedra en sal na verwagting met hulle ontmoet sodra ’n outopsieverslag uitgereik is. Die verslag sal met die familie bespreek word.

Die familie is trauma- en beradingsdienste aangebied.

Bron: News24