“Moenie van die dienste van Awesome Moms UIF gebruik maak nie,” skryf Sharlene de Kock op Hellopeter, ‘n webtuiste waar verbruikers besware oor swak diens kan lug.

Awesome Moms UIF is deur ene Mariska van Deventer bedryf en het meer as 3 000 volgelinge op Facebook gehad. Die besigheid tree glo as tussenganger op tussen die departement van arbeid en nuwe ma’s wat met kraamverlof is en eise wil instel van die werkloosheidsverskeringsfonds.

“Sy is baie vriendelik en behulpsaam as jy navraag doen oor haar dienste. Sy help en lei jou, gaan jou dokumente na en vra dat jy dit koerier.

“Dit sal die laaste gesprek wees wat jy met haar sal hê.

“Sy vat net jou geld en jy hoor nooit weer iets van haar nie.”

Volgens Sharlene het sy navraag gedoen by die KwaZulu-Natalse departement van arbeid, maar hulle het niks van haar eis geweet nie.

“My baba is nou oor ses maande oud en ek kan nie meer ‘n eis instel vir WVF nie.”   

Mariska het op die Facebook-blad gereageer en gesê die dokumente is wel ingedien.

“Ons kan bevestig dat ‘n e-pos op 4 Oktober (2017) na jou gestuur is om te bevestig dat jou eis reeds op 27 Augustus ingedien is.

"Die bewerings hierbo dat die eis nooit ingedien is nie, is dus vals.”

Maar meer as 15 ma’s het ook op Sharlene se inskrywing gereageer en gesê hulle sukkel met dieselfde probleem.

“Ek is so kwaad dat R600 en my tyd deur Mariska van Deventer gesteel is,” sê Faiza Mallick.

“Ek het maande lank met haar gewerk waar ek dokumente ingedien het, my werkgewer en die bank besoek het om al my dokumente in orde te kry, en dan word jou oproepe, whatsapps en eposse net geïgnoreer.

“Dit is nie ‘n maklike finansiële tyd wanneer jy nie geld verdien nie en terselfdetyd ‘n nuwe kind in die lewe moet verwelkom nie."

Die nommer wat Mariska aan kliënte verskaf, werk nie.