“Facebook-swendelary is gewild omdat kuberkrakers jou vertroue in vriende en familie misbruik deur ’n lokval te stel wat meer geloofwaardig voorkom as op ander aanlyn platforms deur mense wat jy nie ken nie,” sê dr. Ewoudt Cloete, hoof van sosiale media aan die digitale agentskap Wunderman Suid-Afrika.

Kuberkrakers is suksesvol omdat hulle toegang tot jou vriende en sosialemedia-profiele verkry en dan boodskappe stuur wat geloofwaardig lyk.

Hier is vyf wenke om seker te maak jy word nie ingeloop nie:

1. Vra vir meer inligting voor jy skakels oopmaak

Wees altyd op die uitkyk vir boodskappe van Facebook-vriende wat nie eg lyk nie of anders is as wat hulle gewoonlik sal optree. 

As Facebook-vriende skielik skakels op Facebook Messenger stuur, wat hulle nie tevore gedoen het nie, moet jy liewer vir meer inligting vra voor jy op die skakel klik. 

2. Moenie persoonlike inligting deel nie

Moet nooit persoonlike inligting soos jou ID-nommer, adres en bankbesonderhede op Facebook vir iemand gee nie. 

As ’n vriend of familielid ’n betaling aan jou of vir jou wil doen, maak liewer tyd vir ’n oproep waar jy die besonderhede direk aan hulle kan gee.

3. Maak seker dit is geloofwaardig

Wees versigtig met enige soort Facebook-app wat toegang tot jou persoonlike inligting op Facebook vra.

Google eers die app om te sien of al daaroor berig is en of daar enige negatiewe terugvoering is voor jy dit toegang tot jou profiel bied.

4. Lees Facebook se aanlyn gids oor swendelary

Gaan noukeurig deur Facebook se aanlyn gids oor swendelary om jouself in te lig oor die moontlike gevare.

5. Meld kaping en kuberkrakers aan

As jy vermoed jou profiel of die profiel van ’n Facebook-vriend is deur kuberkrakers oorgeneem, kan jy dit maklik op Facebook aanmeld.