Met die skilderagtige toneel van ’n dam in die agtergrond het die bekende TV-evangelis en stigter van die Alberton LewenSentrum (ALS), past. Andries Enslin, ook vandeesweek aan sy volgelinge op sy amptelike Facebook-blad bekendgemaak dat hy en sy gesin ook in ’n staat van inperking geplaas is.

Andries was weer onlangs pal in die nuus nadat dit aan die lig gekom het dat hy, sy vrou, Vikki, en hul vier jong kinders einde verlede jaar sak en pak na Texas verhuis het om ’n nuwe kerk, Rhythm Church, te stig.

Die Enslin-gesin kerf nou vir hulle 'n nuwe lewe i
Die Enslin-gesin kerf nou vir hulle 'n nuwe lewe in Austin, Texas, uit

Verskeie gemeentelede het daarna aan Huisgenoot vertel hulle het baie vrae oor hoe Andries se “direkte uitsendings” gaan werk en hoe hul nuwe lewe in Amerika befonds word. Hy het alle ongerymdhede ontken toe Huisgenoot sy laaste kerkdiens tydens 'n blitsbesoek vroeg die maand bygewoon het.

Andries het egter ontspanne voorgekom toe hy mense verseker dit gaan goed met hom asook met die ALS se uitsendings ondanks die wêreldwye COVID-19-pandemie, wat Suid-Afrikaners ook van middernag Donderdag in ’n staat van inperking sal plaas.

“Ja, ons is ook vasgekeer, housebound; ons mag nie in groepe groter as nege wees nie en ja, die hele Amerika is eintlik housebound met hierdie corona-, oftewel COVID-19-epidemie-pandemie wat die ronde doen,” het Andries Dinsdag aan die volgelinge en gemeente van ALS op Facebook gesê.

Andries Enslin
Andries Enslin

Hy het die gemeente bedank vir die uitstekende aanlyn syfers wat hulle Sondag met hul kerkdiens behaal het.

Dit kom ná pres. Cyril Ramaphosa, wat reeds op Sondag 15 Maart ’n nasionale aankondiging gemaak het dat saamtrekke van 100 of meer mense voortaan verbied word. Ook kerke is hierdeur geraak.

“In die eerste plek wil ek sê baie, baie dankie. Ons het ’n ongelooflike wonderlike Sondag op streaming beleef. Ons het letterlike duisende mense op ons streaming gehad wat ’n goeie, bemoedigende boodskap gekry het . . . Ek kan eerlikwaar net sê dankie Alberton LewenSentrum, vir julle ondersteuning, te midde van hierdie krisis.”

Andries het voortgegaan om die krisis van die wêreldwye pandemie van die coronavirussiekte aan te spreek: “Wat my hart sê, is hierdie woorde: En dit sal ook verbygaan. En ek wil jou dit verseker: Presies hoe lank dit gaan vat, weet natuurlik niemand nie, maar dit is wat jy oor hierdie krisis moet weet.

“Dit is ‘n tydelike krisis en dit sal ook verbygaan. In my lewe het ek geleer: groot krisisse is die krisisse wat nooit verbygaan nie – die dood van ’n geliefde, die hartseer, die pyn, groot verliese waarmee jy vir ewig sit.

“En dan is daar probleme waarmee jy tydelik sit – en die coronavirus is een van daai tydelikes. Dis rof, dis moeilik, maar byt vas, ons sal hierdeur kom.”

Hy het mense gevra om wel vir veral werkloosheid te bid. Volgens Andries het dit ook die burgers van Austin hard getref.

“Dit gaan die regte krisis wees. Ons moet bid vir ons mense vir God se voorsiening, vir wonderwerke, families wat na mekaar kyk, gesinne wat saamwerk en natuurlik die kerk wat help. Vir die kerk om te help, moet ons aanhou bydraes kry, en soos jy weet, neem ons nie nou offerhandes op nie.

“Elke Sondag se bydrae help van 10 tot 12% van ons maandelikse inkomste. Vier Sondae uit, praat jy van 40% van ons bydraes wat weg is. So ek wil jou vra: Leer om aanlyn te gee. Hier in Amerika is aanlyn betaal, aanlyn gee, aanlyn shopping so groot. Ons doen al klaar 80% van ons shopping aanlyn. Suid-Afrika is nog bietjie stadiger . . .

“Kerke in Amerika kry al lankal aanlyn hulle geld, dis hoe dit werk. Daar is kerke wat nie eens offerhandes opneem nie, hulle hoef nie. Dis nog altyd my droom om daar te kom; kan jy dink ons hou kerk en ons neem nie meer offerhandes op nie, want ons kry die geld aanlyn.”

Andries het sy video afgesluit deur mense te vra om aan te hou om vir mekaar te bid, totdat mense weer na die “tydelike probleem” saam “lekker dienste bymekaar” kan hou.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.