Op ’n gewone Sondagmiddag in ’n spruit in die weste van Pretoria was dit ’n mooi oomblik. Mense het toegekyk hoe ’n man deur sy pastoor gedoop word.
Maar skielik het die mooi oomblik in ’n nagmerrie ontaard toe die man gegly en onder die water gegaan het. Die pastoor het die dopeling nog probeer red, maar kort voor lank was albei onder die water.
Dit het alles voor die dopeling se familie en medekerkgangers gebeur.
Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die polisie het hulle gehaas na die toneel by die Moganwespruit in Atteridgeville nadat hulle die oproep gekry het dat die twee mans in die water verdwyn het.
’n Polisielid wat op die toneel was, sê duikers van die polisie se duikeenheid het die twee mans binne etlike minute op die bodem van die spruit gekry. Albei het verdrink.
“Ooggetuies het gesê die man wat besig was om gedoop te word, het gegly, en die pastoor het probeer help, maar toe gaan hulle albei onder. Binne twee minute nadat die duikspan in die water in is, het ons die twee lyke bo-op mekaar gekry.
“Ons weet al uit ondervinding dat indien iemand gly en verdrink, die lyk op ’n gelyke deel van die bodem gaan lê,” sê die polisielid.
Nie een van die mans wat verdrink het, kon glo swem nie, en hulle is in ’n gedeelte van die spruit gevind waar dit sowat 2,3 m diep was.
"Ek neem aan toe hulle gegly het, het hulle begin spartel en mekaar moontlik afgetrek.
“Dit is tragies. Veral as ’n mens in ag neem waarmee hulle besig was. Daar was redelik baie mense van die kerk daar, insluitend die dopeling se familie,” sê die polisielid.
Volgens Mavela is dit onduidelik aan watter gemeente die twee mans behoort. Hy kon ook nie hul name of ouderdomme bevestig nie.
- Die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek.
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET