’n Herrie het omtrent om die spogskool Grantleigh in Richardsbaai, KwaZulu-Natal, losgebrand nadat past. Andrew Anderson ’n video in die sosiale media gedeel het van ’n kunsuitstalling by Grantleigh, ’n onafhanklike skool wat deel is van die Curro-groep, se skoolsaal. 

Toe Huisgenoot Woensdag met Andrew, ’n leraar by die AGS-kerk Lig & Lewe in Ballito, praat was hy juis op pad om met die skool se bestuur te vergader. Hy het erken die skool “was nie baie gelukkig” met sy video nie.

Hy sê met die ontmoeting wil hy graag twee dinge bereik: “Die skool moet erken dat hulle die grense van hul etos ‘To God be the Glory’ oorsteek het en tweedens moet hulle standpunt inneem dat dié soort bespotting van geloof nie weer geduld sal word nie.

“Ek is nie spyt ek het die video gemaak nie. Ek dink dit was nodig dat die wêreld saam standpunt inneem. As ek net vir myself uitspraak gelewer het in die sosiale media was dit een ding, maar Christene oor die land heen het saamgestem.”

Die kuns wat in die video verskyn is deel van ’n matriekleerder se finale kunsvoorlegging aan die Onafhanklike Eksamenraad (IEB).

Huisgenoot kon nie Woensdag die hoof, Andrew Norris, vir kommentaar bereik nie. Norris het wel Dinsdag op die skool se Facebook blad ‘n mediaverklaring geplaas wat lui dat die skool bewus is van die aanlyn herrie en die video van een van hul leerders se kunsprojekte wat soos ‘n veldbrand versprei het. 

Norris sê hulle neem kennis daarvan en dat dit nou aan ’n interne ondersoek onderhewig is.

“Ons wil benadruk dat die kommentaar wat (in die sosiale media) gemaak is, nie ’n akkurate beeld van ons skool is nie en ons ons regte voorbehou in die opsig. Curro verwelkom alle kommentaar wat konstruktief is en tot die gesprek in ’n betekenisvolle opsig bydra.” 

Hy begin die video deur te sê dat hy lief is vir die skool en sy onderwysers en dat hulle oor die jare “ongelooflik” vir sy kinders was, maar dat hy op die laaste dag van sy dogter se skoolloopbaan erg ontsteld gelaat is.

’n Skermgreep uit die video.
’n Skermgreep uit die video.

Hy vertel aan Huisgenoot dat hy Maandag by die skool was om sy dogter se akademiese prysuitdeling by te woon en die laaste tradisie te aanskou wanneer die matrieks die skoolklok lui, maar dat hy nie sy skok kon beteuel toe hy die kunswerke in die skoolsaal sien nie.

In die video sien jy hoe Jesus onder meer as ’n hanswors uitgebeeld word. Dié hanswors herinner veral baie aan Ronald McDonald van McDonalds. Daar is drogbeelde van die duiwel en ’n decoupage-‘duiwel’ met horings met oënskynlik die Bybel wat opgeskeur om dit lê.

Andrew meen dit strook nie met die skool se etos nie en sou nie geduld gewees het as dit byvoorbeeld Islam so uitgebeeld het nie.

’n Skermgreep uit die video.
’n Skermgreep uit die video.

Hy glo die skool moes vroeër reeds aksie geneem het.

“Ek het gehoor die kunswerke was al die vorige week, die Woensdag met die skool se senior sport-prysuitdeling, daar. Toe het die ouers al begin kla. Een ouer het selfs haar kind uit die skool gehaal en gesê haar kind gaan nie terug tot die kuns nie verwyder is nie. Soos ek verstaan was die opdrag vir die leerders om “uitdrukking aan ’n reis” te gee.

“Ek weet as mense Psalm 23 lees sal elkeen vir jou ’n verskillende interpretasie gee, maar ons almal weet ten einde wat Psalm 23 se boodskap is.”