Maar nadat hy vanjaar ernstig siek geword het van 'n bloedklont en in die hospitaal self by die dood omgedraai het, het hy gevoel hy wil nog een keer probeer.

Francis, die pastoor en stigter van die Mission2 NPC-uitreikaksie, het Saterdag ’n plasing van ’n ou geelverbleikte koerantberig op ’n gemeenskapsgroep van Brits op Facebook gedeel, wat lui dat hy na die vrou in die foto soek.

Past. Francis Cloete soos hy vandag lyk. Foto: Fa
Past. Francis Cloete soos hy vandag lyk. Foto: Facebook

“Ek is die seun wat haar en haar kinders se lewe gered het. Ek wil net weet wat hulle vandag doen,” het hy geskryf.

Dié donkerkopvrou in die foto was Estelle Joubert, wat ten tyde van die ongeluk 24 jaar oud was toe sy en haar drie kinders, Tiaan (toe 4), Wynand (toe 3) en Gerhard (toe 6 maande), met hul ligte blou Nissan Langley, onderstebo in die kanaal vol water beland het.

Francis was 17 jaar oud en toevallig ook ’n Noord-Transvaalse swemmer toe hy die gesin te hulp gesnel het.

Die ou koerantberig oor die voorval. Foto: Faceboo
Die ou koerantberig oor die voorval. Foto: Facebook

“Dinsdag, net drie dae later, toe kry ek die boodskap,” vertel Francis vandag aan Huisgenoot.

“Dit was Tiaan, die oudste seun, wat ek daardie dag help red het,” vertel hy. “Ek kan dit steeds nie glo nie.”

Toe ons met Estelle (nou 57) praat, is sy steeds verbyster.

“Ek het al die jare aan die seun gedink, maar ek het nooit sy naam geken of waar om hom op te spoor nie,” vertel sy.

Die ongeluk

Francis onthou weer hoe hy saam met sy ouers, Elize en Danie, sy oupa, Hannes, jonger boetie Tjaart en sy lewensreddingafrigter, Tallie Taljaard, die Saterdagmiddag op hul plaas buite Brits gesit en braai het.

Past. Francis Cloete dink steeds terug aan die on
Past. Francis Cloete dink steeds terug aan die ongeluk van 1988. Foto: Facebook

“My broer het nog daar op die klein bruggie by die kanaal gaan sit. Ek dink hy was kwaad oor iets. Die volgende oomblik toe kom roep hy ons: Daar het nou net ’n motor by die kanaal ingery.”

Hy onthou toe hulle daar aankom het die kar op sy dak gelê. Die wiele, onthou hy, het steeds getol.

Francis het dadelik klere en al ingespring. Hy vertel die kanaal is breed genoeg om 'n motor te pas en sowat 2 m diep.

Die toneel waar die ongeluk destyds gebeur het. Fo
Die toneel waar die ongeluk destyds gebeur het. Foto: Facebook

“Ek het eerste die baba uitgehaal. Ek het eers gedink dis ’n pop. Hy was so bleek en sy oë was oop, ek sal dit nooit vergeet nie. Dit spook vandag nog by my,” vertel hy.

Steeds oortuig dis ’n pop het hy die baba net so op die kant gelos en teruggegaan.

Intussen het sy ouers mond-tot-mond asemhaling uitgevoer op wat hulle later sou hoor die ses maande oue baba Gerhard is.

“Ek het weer ingeduik en agter gesien die venster is oop. Ek het toe die tweede seuntjie en daarna ook die derde seuntjie uitgehaal.” 

Hy onthou die seuns en hul ma was almal blou in die gesig en bewusteloos toe hulle daar uitkom.

“Ek het nie geweet of hulle dit gaan oorleef nie.”

Estelle onthou sy en haar kinders was die dag by die huis op Brits en het nog in die tuin gewerk. Haar man, Hendrik, was besig om haar broer, Attie van der Berg, te help om van Brits na ’n kleinhoewe naby die kanaal te trek. Sy en die kinders het besluit om by hulle te gaan aansluit. 

Estelle Joubert is vandag die ouma van drie kleink
Estelle Joubert is vandag die ouma van drie kleinkinders. Foto: Verskaf

“Daar moes ’n goddelike mag oor ons gewees het daardie dag. Ek onthou hoe rustig en tjoepstil die kinders in die kar was en dit was nooit so nie!"

Sy het haar broer en man op die pad gekry en agter hulle aangery. Hulle is verder vooruit en het nie gesien hoe sy en die kinders om ’n draai die grondpad verlaat en in die kanaal beland nie.

“Hulle het nog gewonder waar ons draai. Dit was eers ’n rukkie daarna, toe ’n werker roep, dat my broer besef het: ‘God, hulle is in die kanaal.’”

God, ek het my lewe gehad. My lewe was vol. Asseblief, Here, vat my vandag, maar spaar my kinders.

Estelle weet nie hoe sy om die draai beheer verloor het nie. Al wat sy onthou was toe sy besef sy is onderstebo onder die water.

“Ek het so gevoel-voel. Ek kon een van die seun se vet beentjies voel. Ek het gedink dis Wynand, maar Tiaan was nie meer langs my nie en Gerhard nie meer in sy karsitplek nie.”

Estelle het gedink dis die einde; die laaste wat sy onthou voor sy haar bewussyn verloor het.

“Ek het net begin bid: 'God, ek het my lewe gehad. My lewe was vol. Asseblief, Here, vat my vandag, maar spaar my kinders.”

Herontmoeting

Francis, vandag self getroud en die pa van twee volwasse kinders, vertel hy is baie opgewonde om Estelle en haar gesin weer te sien.

Al die jare het hy gewonder wat van hulle geword het.

“Ek glo die gebeurtenis het die koers van my lewe verander, want vandag nog werk ek met kinders,” vertel hy.

Die drie Joubert-seuns vandag. Van links is Gerhar
Die drie Joubert-seuns vandag. Van links is Gerhard, Tiaan en Wynand. Foto: Verskaf

Estelle vertel sy was ná die ongeluk 10 dae in die waakeenheid van ’n Pretoriase hospitaal en is eers ontslaan ná die 11de dag, toe sy na ’n gewone saal geskuif is.

“Die kinders was seker so vier of vyf dae daar. Kan jy dink hulle makeer vandag niks?”

Sy vertel hoewel X-strale gewys het haar nek is ernstig beseer, het sy wonderbaarlik geen probleme oorgehou nie.

“Ek het baie jare daarna gedink wat was die doel van my lewe? Ek bedoel jy kan nie van so iets wegstap en dit raak jou nie. Ons kon nou al 33 jaar dood gewees het,” vertel Estelle, wat vandag die ouma van drie kleinkinders is.

“Ons praat vandag nog daaroor.”

Estelle en Francis sal mekaar na verwagting Saterdag sien. Haar seuns, almal nou werkende volwassenes, sal ook daar wees. Sy was verbaas om te verneem hulle woon vandag so naby aan mekaar.

“Ek sien baie daarna uit om vir hom eindelik te kan dankie sê. Hy het gesê ons gaan die middag lekker braai.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe