Die evangeliese pastoor biskop Gerald O Glenn het met trots gespog oor sy vol kerk en onderneem om aan te hou preek ten spyte van waarskuwings teen massa- sosiale byeenkomste, berig NY Post.

Sy laaste kerkdiens was op 22 Maart toe hy sy gemeente byeengebring het ten spyte van waarskuwings van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en mediese owerhede teen byeenkomste van meer as 10 mense.

“Ek glo vas God is groter as hierdie gevreesde virus. Jy kan my aanhaal,” het hy gesê.

Hy het die boodskap onder applous ’n tweede keer herhaal, en bygevoeg “mense word genees” in sy kerk.

Gerald het sy gemeente beloof hy sou sy kerk oophou, tensy hy in die tronk of hospitaal sou beland.

“Ek is noodsaaklik,” het hy uitdagend gesê. “Ek is ’n predikant – ek praat met God!”

Die kerkbeampte Bryan Nevers het die nuus van die pastoor se dood die afgelope Paassondag tydens die kerk se stroomdiens afgekondig, berig People.

“Dit is met groot hartseer en ’n swaar hart wat ek vanoggend na jou toe kom, en dit spyt my om aan julle mee te deel dat ons vader, biskop Gerald Glenn, gisteraand 11 April om 21:00 gesterf het,” het hy gesê.

“Ons biskop was ’n vriend, sowel as ’n geestelike skaapwagter vir soveel van ons hier in die New Deliverance-kerk en reg oor die land.

“Hy sal deur ons almal gemis word. Laat ons aanhou bid vir moeder Glenn en die gesin terwyl ons vir die volgende 30 dae ’n periode van rou betree,” het Bryan afgesluit.

Die pastoor word oorleef deur sy vrou, hul drie dogters en twee seuns.

Bronne: NY Post, People