Byna drie jaar lank was hulle onafskeidbaar, maar die afgelope week is die man met wie sy wou trou wreed van haar weggeruk.
Lenize Taljaard (24) moes Donderdagaand vergeefs by die huis wag toe haar kêrel, Brendin Horner (22), wat in die Paul Roux-omgewing gewerk het, nie huis toe kom nie.
“Ek wag nog steeds vir hom om huis toe te kom,” het ’n hartseer Lenize Maandag aan Huisgenoot gesê. Maar sy weet dit sal nie gebeur nie.
In ’n plaasmoord wat die land geskok het, is Brendin se lyk Vrydagoggend gekry met ’n tou om sy nek en aan ’n lyndraadpaal vasgebind.
Brendin, wat as voorman vir die boer Gilly Scheepers van Bloukruin-boerdery gewerk het, het die aand op die buurplaas by sy pa ’n draai gaan maak en nie weer huis toe gekom nie.
Vir Lenize voel dit alles nog baie onwerklik. Die jong man met die skalkse glimlag en ’n voorliefde vir jag, wat haar so innig in die sonneblomlande soen, het reeds drie jaar gelede haar oog in Noord-Wes getref.
“Hy kom van Delareyville en ek van Schweizer-Reneke, maar ons paaie het een aand in ’n kuierplek in Noord-Wes gekruis,” vertel sy.
Lenize het saam met Brendin Vrystaat toe getrek waar hy graag wou boer.
“Ons sou nou in November drie jaar saam wees. Ons wou hierdie jaar verloof raak,” vertel sy.
Maar nou is hul toekoms saam eensklaps van hulle af weggeruk.
“Brendin was ’n sagte en liefdevolle mens; hy sou niemand seermaak nie.”
Al wat haar nou staande hou, is die liefde en ondersteuning van die gemeenskap, familie en vriende.
“ 'n Mens moet aangaan, maar dit is nie maklik nie . . . ”
Sy het verneem van die twee mans wat in die plaaslike nedersetting buite Paul Roux aangekeer is en Dinsdag in die landdroshof op Senekal sal verskyn.
“Die Bybel sê ’n mens moet vergewe en vergeet. Ek sal dalk kan vergewe, maar ek sal nie vergeet nie. Nie met die tragiese manier waarop hy moes sterf nie. Die Here alleen weet wat hy vorentoe vir hulle (die moordenaars) beplan.”
Lenize vertel sy self sien nie kans om hof toe te gaan nie.
“Nee, ek kan nie. Maar dit wat ek nou sê, mag dalk hard klink: Genoeg is genoeg! Die boere in ons land moet nou saamstaan. Wanneer is genoeg genoeg? Gaan almal môre bymekaarkom en oor ’n week gaan ons net aan? Ek dink nie mense verstaan hoe dit voel tot dit met jou gebeur nie. Ek kan dit wat ek voel vir niemand beskryf nie.
“Wat ek nou voel, is hartseer en woede sommer alles so deurmekaar.”
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET