Elaine Burns (91), ’n afgetrede dosent van Oos-Londen, en Rosemary Langton (87) is aangeval en beroof. Die twee vroue was albei vasgebind en is op hul beddens aangetref. Albei se mond was toegebind. 

Volgens Netwerk24 het familielede van die twee vroue Donderdagoggend by die aftreeoord, St John Stella Londt-sentrum, opgedaag. Op die sentrum se Facebook-blad is dit duidelik Elaine was geliefd en aktief by die oord se sosiale geleenthede betrokke. 

Die twee vroue is omstreeks 05:45 deur personeel in hul onderskeie kamers aangetref. 

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, word beweer ’n onbekende aantal verdagtes het die perseel betree en deur ’n oop deur en veiligheidshek na die boonste verdieping van die hoofgebou beweeg. 

“Die verdagtes het die eerste kamer binnegegaan en Agnes Elaine Burns aangeval. Sy is op haar bed gevind met haar hande en voete vasgemaak. Haar mond was toegebind. Haar kamer is geplunder.

“Die verdagtes het by nog ’n kamer, verder die gang af, ingegaan en Rosemary Langton vasgemaak en haar mond toegebind. Haar kamer is ook geplunder,” het Naidu aan Huisgenoot bevestig. 

Sy sê die polisie glo die motief was roof, maar hulle is nog nie seker wat alles gesteel is nie. “Twee sake van huisroof en moord word ondersoek,” het sy gesê.

Die uitvoerende hoof van die St Johns-groep, George Woods, het aan die plaaslike radiostasie Algoa FM gesê die tragedie het ’n groot impak op almal by die sentrum. Hy het gesê die sentrum sal die nodige steun aan die personeel en inwoners bied.

Volgens George gaan hulle doen wat hulle kan om aan te hou verseker die sentrum is ’n veilige tuiste vir die inwoners. 

George het Donderdagoggend vroeg ’n e-pos aan al die inwoners en personeel van die sentrum gestuur om duidelik te maak watter stappe sedert die voorval gedoen word. 

Volgens dié boodskap is die veiligheidskameras se opnames aangevra, bykomende veiligheidstappe word gedoen en sal ’n predikant en traumaberaders beskikbaar wees om die inwoners en personeel van die aftreeoord by te staan.

“Ons is voortdurend besig om veiligheid (by die sentrum) op te skerp en ons sal ’n volledige herevaluering doen on bykomende gepaste ingryping te bevestig,” het George aan Huisgenoot gesê. “Ons sal alles moontlik doen om die veiligheid en welstand van ons inwoners en personeel te verseker."

“Ons gedagtes en steun gaan uit aan almal wat deur hierdie tragiese gebeure geraak word,” het hy bygevoeg. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.