Nou sukkel sy en haar man, Stanton, om nog ’n tragedie te verwerk. In Desember is Stanton se ouers binne dae van mekaar oorlede ná ’n stryd met covid-19. In Januarie het ’n oom van Selina ook weens die dodelike virus gesterf. 

“Hierdie mense was almal ons ondersteuners en het ons met ons verdriet oor ons kinders gehelp,” sê ’n hartseer Selina. “Nou treur ons oor Stanton se ma en pa en oor my oom. 

“Ons wonde gaan weer en weer oop. Dit voel of ons vervloek is.”

Ingram-gesin
Ingram-gesin. Foto: Verskaf

In September het Selina aan ons sustertydskrif YOU vertel hoe moeilik dit is om te aanvaar sy sal haar geliefde kinders nooit weer sien nie. Matthew en Tammy was hul enigste kinders. “Hulle het my geleer hoe om ’n goeie mens te wees,” sê sy. “Dit is vir ons bitter moeilik.” 

Volgens die Ingrams is hulle nie ingelig ’n eenheid naby aan hulle gaan ontsmet word met fumigasiestowwe nie. Die inwoners van die twee eenhede weerskante van die eenheid is aangesê om hul plekke vir die duur van die beroking te verlaat, maar die diensverskaffers het blykbaar nie gedink die gas, waarmee die ontsmetting gedoen is, sou die Ingrams se huis bereik nie. 

Die vier maande sedert die kinders se dood was hel, sê Selina. “Ek sukkel, ek sukkel regtig. Ek weet nie wat om te doen nie. Ek is op medikasie, ek kan nie snags slaap nie en ek huil voortdurend oor my kinders. 

Ingram-gesin
Stanton en Selina Ingram se kinders, Matthew (17) en Tammy (12), is verlede jaar dood weens orgaanversaking nadat hulle na bewering giftige gas ingeasem het. Foto: Verskaf

“As ek wel slaap, is dit net nagmerrie op nagmerrie. Die lewe is vir my hel. Die geluide wat my kinders gemaak het toe hulle doodgegaan het, speel oor en oor in my kop. Ek hoor hulle doodgaan en ek voel hulle doodgaan.”

Selina, ’n huisvrou, sê haar man, ’n tegniese tekenaar wat vir homself werk, sukkel om op sy werk te konsentreer en die finansiële druk neem toe, want daar is nog rekeninge om te betaal vir toe die kinders in die hospitaal was.

“Stanton het baie gewig verloor. Hy kan skaars werk. Elke keer as my man iets op die rekenaar probeer doen, begin hy huil.

“Ek sien dit en daar is net niks wat ek kan doen nie, want ek kan myself nie eens help nie.”

Die verlies van haar skoonouers en oom het die pyn vererger en Selina kry professionele hulp om dit te probeer hanteer. Sy is op voorskrifmedikasie, maar dit help nog nie, sê sy. “Ek soek oral na my geliefdes,” sê sy.

“Ek soek in my drome, ek soek wanneer ek wakker is. Ek lees Bybel, ek bid. Ek wil net hê iets moet my gevoelens verdoof.” 

Matthew en Tammy Ingram
Matthew en Tammy Ingram. Foto: Verskaf

Maande lank nadat die kinders dood is, het Selina en Stanton by Selina se ouers gebly. Hulle kon nie hul eie leë huis trotseer nie. Maar hulle het sedertdien na hul dupleks teruggetrek.

Dit is ’n bittersoet ervaring met goeie herinneringe aan gelukkige gesinstye en slegte herinneringe aan die kinders se laaste ure in die huis. Die egpaar het die meubels in die leefarea en hul slaapkamer geskuif met die hoop dat ’n vars voorkoms hulle ’n bietjie sou opbeur, maar niks kan die pyn wegvat nie. 

“Ek het eers verlede week weer begin kook,” sê Selina. “Ek kon maande lank nie kook nie. Dit was altyd so ’n groot ding in ons huis. Die kinders het altyd ondertoe gekom wanneer hulle my in die kombuis gehoor het.”

Die polisie ondersoek nog die oorsaak van die kinders se dood en wanneer hul ondersoek afgehandel is, wil die Ingrims die maatskappy wat die ontsmetting gedoen het, vir ernstige nalatigheid dagvaar. “Ons soek geregtigheid,” sê Selina.

“Ons stel nie in die geld belang nie, want geld sal nooit my kinders terugbring nie.” Maar hulle soek wel antwoorde, sê sy.

  • ’n Polisiewoordvoerder, Priscilla Naidu, het aan YOU gesê ondersoekers wag op die toksikologieverslag van laboratoriums in Silverton en Kaapstad voor die lêer van die doodsondersoek gesluit kan word.