“Die dokters gaan hom nog vir ’n ruk onder verdowing hou, want van die brandwonde is derdegraads en hy sal later verloorplantings ook moet kry,” het Bernard Groenewald se vrou, Ciska, aan Huisgenoot gesê.

“Hulle wil hom verdoof hou sodat hy stabiel bly. Sy pyn gaan ook nog te erg wees om hom wakker te maak,” verduidelik sy.

Bernard het 60% tot 70% se brandwonde opgedoen.

Bernard het Sondagoggend 2 Junie langs die N1 by Touwsrivier afgetrek om te rus toe die petrolbom deur die ruit gegooi is.

Hy het uit die vragmotor gespring en probeer weghardloop, maar is glo deur ’n groep mense gejaag, het Netwerk24 berig. Die groep het glo nog ’n petrolbom na Bernard gegooi.

Ciska se swaer, Jan Jansen, ook ’n vragmotorbestuurder, het in ’n tweede vragmotor saam met Bernard by Touwsrivier gestop. Hy is nie beseer nie en kon vir Ciska bel om die polisie te ontbied.

Paramedici het Bernard op die toneel behandel, waarna hy na die Mediclinic oorgeplaas is.

“Hy het veral aan die regterkant van sy lyf gebrand. Sy skouers, sy maag, sy bene. Sy regteroor het ook baie seergekry maar darem is daar min merke aan sy gesig.”

Volgens Ciska sal die dokters in die Worcester Mediclinic, waar Bernard behandel word, teen Dinsdag ’n idee hê van hoe lank Bernard nog verdoof moet bly.

“Ek probeer hard om moed te hou,” sê Ciska vanuit die hospitaal. “Maar dit is nie altyd maklik nie. Ek kry elke nou en dan ’n breakdown.”

Sy sê dit is vir haar baie moeilik om haar man so te sien en te weet hulle kan nie met mekaar praat nie.

“Dit is erg, want hy lê daar, maar kan nie met jou praat nie,” sê sy. “Ek verlang na hom.”

Ciska bly in die stadium by vriende op ’n plaas naby Worcester sodat sy nie elke dag van die Paarl af hoef te ry nie.

“So ek gaan so elke derde of vierde dag weer Paarl toe. Die onderneming moet mos ook aan die gang bly.”

Sy vertel Bernard se seun (uit sy vorige huwelik), Pietie, wat haar ook met die onderneming bystaan, kry ook swaar.

“Dit is nie vir hom maklik om sy pa so te sien nie.”

Volgens Ciska het sy nog nie weer iets oor die polisie-ondersoek gehoor nie.

“Vir nou konsentreer ek net op Bernard,” het sy gesê.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het by navraag gesê die saak word ondersoek. “Ons speurders volg alle moontlike leidrade op. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het hy gesê.