Bernard Groenewald was vir minstens twee weke in die Worcester-Mediclinic behandel.

Hy het 60% tot 70% se brandwonde opgedoen.

Bernard het Sondagoggend 2 Junie langs die N1 by Touwsrivier afgetrek om te rus toe die petrolbom deur die ruit gegooi is. 

Hy het uit die vragmotor gespring en probeer weghardloop, maar is glo deur ’n groep mense gejaag, het Netwerk24 berig. Die groep het glo nog ’n petrolbom na Bernard gegooi.

Ciska Groenewald se swaer, Jan Jansen, ook ’n vragmotorbestuurder, het in ’n tweede vragmotor saam met Bernard by Touwsrivier gestop. Hy is nie beseer nie en kon vir Ciska bel om die polisie te ontbied.

Paramedici het Bernard op die toneel behandel, waarna hy na die Mediclinic oorgeplaas is.

“Ek probeer hard om moed te hou,” het Ciska vroeër vanuit die hospitaal laat hoor. “Maar dit is nie altyd maklik nie. Ek kry elke nou en dan ’n breakdown.”

Sy sê dit was vir haar baie moeilik om haar man so te sien en te weet hulle kan nie met mekaar praat nie.

Ciska het tot gister by vriende op ’n plaas naby Worcester gebly sodat sy nie elke dag van die Paarl af hoef te ry nie.

’n Hartseer Ciske het aan Huisgenoot bevestig dat sy weer terug is by die huis in die Paarl. 

Sy het net drie maande voor haar man wreed aangeval is ’n hartroerende “wenbrief” aan Huisgenoot geskryf oor haar man se absolute toegewydheid aan sy werk. 

Sy vertel ook dat Bernard se seun (uit sy vorige huwelik), Pietie, wat haar met die onderneming bystaan, ook swaar kry.

Volgens Ciska het sy nog nie weer iets oor die polisie-ondersoek gehoor nie.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het by navraag gesê die saak word ondersoek.

“Ons speurders volg alle moontlike leidrade op. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het hy gesê.