“Daar’s ’n kameraadskap tussen vragmotorbestuurders wat jy net ken as jy agter die stuur van ’n vragmotor is. ’n Kameraadskap en respek wat hulle nie kry van die mense waarvoor hulle hul tyd en families opoffer nie.

“Om met ’n vragmotor op die lang pad te wees hou jou op jou knieë,” het sy geskryf oor hul lewe in die vervoerbedryf en vragmotorbestuurders se ongesien harde werk, kort voor die tragiese voorval op 2 Junie.

Die wenbrief wat in Huisgenoot se uitgawe van 21 M
Die wenbrief wat in Huisgenoot se uitgawe van 21 Maart 2019 gepubliseer is.

Ciska se man, Bernard Groenewald (49), is steeds onder verdowing ná hy Sondagoggend met ernstige brandwonde in die Mediclinic in Worcester opgeneem is.

Dié eienaar van die vervoermaatskappy Huddlestone Transport in die Paarl het 60% tot 70% brandwonde opgedoen toe ’n petrolbom na sy vragmotor geslinger is.

Bernard het Sondagoggend langs die N1 by Touwsrivier afgetrek om te rus toe die petrolbom deur die ruit gegooi is.

Hy het uit die vragmotor gespring en probeer weghardloop, maar is glo deur ’n groep mense gejaag, het Netwerk24 berig. Die groep het glo nog ’n petrolbom na Bernard gegooi.

Ciska se swaer, Jan Jansen, ook ’n vragmotorbestuurder, het in ’n tweede vragmotor saam met Bernard by Touwsrivier gestop. Hy is nie beseer nie en kon Ciska bel om die polisie te ontbied.

Paramedici het Bernard op die toneel behandel, waarna hy na die Mediclinic oorgeplaas is.

“Die dokters gaan hom nog omtrent ’n week lank onder verdowing hou, sekere so tot in die helfte van volgende week. Hulle het vir hom ’n ventilasiepyp aangesit om te help met asemhaling en sy wonde word elke dag behandel,” sê sy.

Bernard het ook sy enkel gebreek terwyl hy probeer vlug het.

“Hy is nog in die hoësorgeenheid en ek is maar die meeste van die tyd by die hospitaal. Maar ek moet die onderneming ook aan die gang hou en al die papierwerk vir die versekering ook doen,” sê Ciska. “Bernard se seun (uit sy vorige huwelik), Pietie, help my ook met die maatskappy,” sê Ciska.

Volgens Ciska is die personeel by die Mediclinic baie ondersteunend en hou hulle haar voortdurend op hoogte oor hoe dit met Bernard gaan.

Wildvreemde mense stuur bemoedigende boodskappe, bel haar en vra uit oor hoe dit met haar man gaan, vertel Ciska. “Daar is regtig baie ondersteuning, dierbare mense bel van oral. My sussie is by my en vriende en familie van ver vra of ons orraait is,” vertel Ciska.