Die departement van energie skryf dié vierde agtereenvolgende maandelikse styging aan duurder olie toe.

"'n Hoofrede is die toename in die prys van ruolie. Die gemiddelde Brent-ruolieprys het in dié brandstofpryshersieningstydperk tot $70 per vat gestyg. Oliepryse het trouens die hoogste vlak in sowat ses maande bereik te midde van die Amerikaanse regering se besluit rakende sanksies op die invoer van olie uit Iran. Onstabiliteit in die Midde-Ooste en Venezuela het verder tot die styging bygedra," verklaar die departement.

Ekonome het boonop vroeër gewaarsku oliepryse kan vir die volgende ruk nog aanhou styg – en dit kan teen Junie tot 'n rekordpetrolprys in Suid-Afrika lei.

Photo Taken In Aachen, Germany
Petrolpryse styg weer. Foto: Getty Images

Sorg so vir 'n doeltreffende motor

  • Laat jou motor deeglik en gereeld versien, benadruk Layton Beard, Automobiel Assosiasie-woordvoerder. Jy kan by jou handelaar of in jou diensboek vasstel hoe gereeld dit moet wees, maar dis gewoonlik elke 20 000 km of jaarliks.
  • So kan jou brandstofverbruik meer as 10% laer wees as dié van ’n voertuig wat nie behoorlik in stand gehou word nie.
  • Maak seker jou bande is in ’n goeie toestand en die wielbelyning 100%, en gaan gereeld die banddruk na. Banddruk behoort minstens maandeliks en wielbelyning jaarliks nagegaan te word, stel Arrive Alive se adv. Johan Jonck voor.
  • As jou banddruk te laag is, kan dit jou voertuig se brandstofdoeltreffendheid met tot 3% knou, sê Dewald Ranft, voorsitter van Suid-Afrika se Motor Industry Workshop Association. Hy stel voor jy hou jou banddruk 0,3 tot 0,5 bar bo die aanbevole druk. Laasgenoemde staan in jou motorhandleiding en gewoonlik ook êrens op die bakwerk op ’n plek soos die binnekant van die bestuurder se deuropening.
  • Laerolweerstand-bande kan die hoeveelheid petrol wat jou bande se wrywing met die padoppervlak verbruik – Michelin meen dit is een uit elke vyf tenks petrol – beperk. Baie nuwe motors word reeds met sulke bande verkoop; vervang dit met soortgelykes wanneer jy nuwes moet kry of oorweeg sulke bande as jou bestaande motor dit nie het nie.
  • Gebruik die regte soort vonkproppe, met die presiese vonkstelling (die wydte van die vonkprop-opening; dis in jou handleiding en jou werktuigkundige kan seker maak dis reg). Raak ontslae van onnodige dak- en bagasiebakrakke. Ekstra windweerstand en gewig verhoog brandstofverbruik. Verwyder alle onnodige items, ook uit die bagasiebak, wat jou motor swaarder kan maak.
  • Alles wat die las op jou motorbattery verhoog, soos lugverkoeling, verg meer brandstof. As jou battery in ’n swak toestand is, verhoog dit jou petrolverbruik omdat die enjin harder moet werk. Gebruik sover moontlik die gewone ventilasiestelsel en laat jou battery minstens jaarliks nagaan of sodra jy probleme vermoed. Kontakpunt-aanpaksels en ’n enjin wat nie gou vat nie, is tekens hiervan.

As jy 'n nuwe motor soek, koop 'n ekonomiese een

petrol
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
  • Dieselmotors met hul goeie wringkrag teen lae enjintoere is brandstofdoeltreffend.
  • Hibriedmotors, wat met petrol sowel as elektriese krag aangedryf word, is besonder brandstofekonomies en het bekostigbaarder geraak.
  • Klein, nuwe petrolaangedrewe motors is baie ekonomies, veral in die stad.
  • Kleiner enjins is nie sonder uitsondering die brandstofdoeltreffendste nie, meen die AA. Soms maak tegnologie soos regstreekse brandstofinspuiting, turbo-aanjaers, laerolweerstand-bande en meer ratte groter motors net so doeltreffend soos kleiner modelle. Doen eers jou spesifikasie- en werkverrigting-huiswerk voor jy ’n kar koop. ’n Handratvoertuig is danksy nuwe tegnologie nie noodwendig brandstofdoeltreffender as ’n outomatiese motor nie.
  • Dit is geldmors om ’n hoër oktaan in te gooi as wat vir jou voertuig aanbeveel word. Hoëroktaanpetrol is duurder. Sommige reken dit bied noodwendig meer woema, terwyl jy eintlik dieselfde werkverrigting met ’n laer oktaan kan verkry.
  • Gooi altyd die regte enjinolie in, soos jou eienaarshandleiding dit uitstippel. Dikker en ou, slikagtige olie kan brandstofverbruik opstoot, en olie met ’n lae vloeitraagheid (“lae viskositeit”, basies dunner olie van ’n hoër gehalte) kan dit verlaag, meen Dewald.
  • Keer die petroljoggie om jou kar te wieg om nog ’n paar druppels in te kry en vra hom of haar om op te hou wanneer die pomp vanself afskakel; ’n oorvol tenk laat brandstofdampe uitlek.
  • Moenie in die son of teen ’n opdraande of bult parkeer nie; dit laat die petrol in jou tenk vinniger verdamp. Maak seker jou brandstofprop sluit mooi dig.
  • Sommige handelaars en diensverskaffers se lojaliteitsprogramme sluit brandstofafslag in; maak seker jy benut dit by die pompe.

Spartaans agter die stuurwiel

  • Ry egalig, voet liggies op die versnellerpedaal, en moenie onnodig hard rem nie, beklemtoon Layton. Hoe vinniger jy versnel, hoe meer petrol gebruik jy. Trek dus stadig en geleidelik by verkeersligte en stopstrate weg. Amerika se Union of Concerned Scientists sê as jy ’n spoed van so 100 km/h pleks van 120 km/h handhaaf, kan jou petrolverbruik met tot 20% daal.
  • Skakel oor na ’n hoër rat sodra jou enjin dit toelaat, want jy gebruik meer brandstof in laer ratte. Jy kan ook ratte oorslaan; gaan byvoorbeeld direk van eerste na derde. Om jou enjintoere onnodig hoog te laat hardloop (“over-revving”) vreet brandstof. Motoriste trap dikwels die versneller tot 3 000 omwentelings/minuut of meer wanneer hulle na ’n hoër rat verwissel, terwyl 2 500 in ’n petrol- en 2 000 in ’n dieselmotor voldoende is.
  • Momentum is jou vriend: Let op na die verkeer ’n paar honderd meter voor jou en bestuur oordeelkundig sodat jy aanhou beweeg pleks van aanhoudend stop en wegtrek. Wanneer jy ’n rooi verkeerslig nader, kan jy stadiger ry sodat dit na groen oorslaan voor jy daar kom. Die AA meen jy moet voor ’n opdraande spoed opbou en jou voet van die versneller afhaal wanneer jy bo kom.
  • Beplan jou reise sodat jy die kortste roetes volg en dié met baie kruisings en voetgangers vermy. Vermy waar moontlik spitstye en swaar verkeer, benadruk Layton. Jy kan verkeersverslae en Google Maps monitor om verkeersknope te vermy.
  • Koop in groter maat en probeer soveel moontlik dinge in een rit afhandel, pleks van kort-kort vir een of twee items winkel toe te ry.
  • Oorweeg gerus ’n saamryklub of openbare vervoer of ry fiets na bestemmings naby jou.
Die moenies
  • Tensy jy met ’n taamlik ou motor ry, is dit nie nodig om eers “op te warm” voor jy laat wiel nie; die meeste voertuie het brandstofinspuitingstelsels wat ontwerp is vir optimale werking sodra jy aanskakel.
  • Moenie jou enjin uit rat haal om teen ’n bult af te vryloop nie; dit maak dit moeiliker om jou voertuig in ’n noodgeval te beheer. As jy jou voet van die versneller haal pleks van die enjin uit rat, sal jy die minste brandstof teen ’n afdraande gebruik.
  • Moenie jou enjin inspan – dus rem en koppelaar trap en bietjies-bietjies vorentoe wieg (“riding the clutch”) – om te keer dat jou motor agteruitloop wanneer jy teen ’n opdraande wag dat ’n rooi lig groen word nie. Jy mors brandstof en dis sleg vir die koppelaar: Gebruik die handrem.
  • Moenie die enjin lank in stilstaande verkeer laat luier nie. Skakel dit ná 30-60 sekondes af tot jy weer kan ry. Die Union of Concerned Scientists van Amerika sê ’n enjin wat ’n minuut lank luier, verbrand meer brandstof as wanneer jy dit af- en aanskakel. Die “stop-aanskakel”-tegnologie waar die enjin outomaties afskakel wanneer jy stilhou en jou voet van die rem afhaal, kan verbruik met tot 5% sny.
  • Moenie met oop vensters ry as jy dit kan vermy nie. Die gevolglike ekstra windweerstand kan jou verbruik aansienlik verhoog.
  • Moenie die lugverkoeling in jou motor onnodig aanskakel nie. Gebruik eerder die gewone luggatventileerstelsel of kies die hersirkuleer-opsie as jy die lugversorging op ’n warm dag wil gebruik.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!