Sy moes telkens die vernedering smaak van haar pierewaaierman se affairs en bewerings van sekspesgedrag wat in die media uitgebasuin word.

Eers was daar Malusi Gigaba se verhouding met ’n New Yorkse sakevrou. En toe die skandaal oor die video van sy geslagsdele waarmee hy na bewering ’n vroulike kollega geteister het. Weens dié video moes hy as minister van buitelandse sake bedank, maar steeds het Nomachule Gigaba, oftewel Norma, by hom gestaan en ’n goeie ma vir hul kinders probeer wees – selfs toe hy vertel het die omstrede video was eintlik vir háár bedoel.

Maar die skyn van ’n verenigde front het onlangs dramaties aan skerwe gespat. Die rede? Nóg ’n beweerde skelmpie, ’n spogmotor wat uit weerwraak verniel is – en ’n nag agter tralies vir Norma, wat duidelik keelvol is vir haar man se nonsies. Boonop het Malusi (48) self sy vrou ná haar peperduur woedeuitbarsting by hul rykmanshuis in Waterkloof, Pretoria, in hegtenis laat neem.

Haar man, Malusi Gigaba, het haar aangekla nadat s
Haar man, Malusi Gigaba, het haar aangekla nadat sy na bewering ’n vriend van hom se kar gekrap het.

Mense in die Gigabas se dampkring beaam: Die stories oor haar man se jongste kullery was die laaste strooi vir Norma (40). “Dit kom nou al ’n vreeslike lang pad. Norma het baie van Malusi verduur, en dit was net ’n kwessie van tyd voor sy kop verloor,” sê ’n gesinsvriend.

“Ons het Norma al aangeraai om hom te los, maar sy het aanhou probeer om dinge te laat werk. Malusi was baie jare lank ontrou. Hy het ’n openbare spektakel van Norma gemaak met Buhle Mkhize. (Dié sakevrou het hul affair in die sosiale media uitgeblaker.) Dit het byna hul huwelik verwoes, maar hy het Norma om vergifnis gesmeek.”

Die jongste herrie gaan oor ’n vrou wat Malusi glo in hul huis onthaal het, vertel die gesinsvriend.

“Norma was in Durban, maar sy het gehoor ’n vrou het saam met ’n groep van Malusi se vriende na hul huis gekom.”

Haar man, Malusi Gigaba, het haar aangekla nadat s

Toe Norma tuiskom en ’n vreemde motor in die motorhuis aantref, was die gort gaar. “Ek verskoon nie wat Norma gedoen het nie. Maar sy het gedink die motor behoort aan die meisie wat Malusi na die huis gebring het, en sy het kop verloor.” Sowat R100 000 se skade later moes die IT-spesialis in ’n koue polisiesel gaan afkoel. En dan is daar ook die gerugte van ’n moordkomplot teen haar man . . .

Die Mercedes G-Wagon het toe eintlik behoort aan Malusi se sakemanvriend Peterson Siyaya, by wie hy dit geleen het. Maar Norma het nie uitgevra voor sy dit in haar woede met ’n sleutel bygedam het nie. In ’n video wat glo deur Malusi self geneem is, sien ’n mens duidelik die diep krapmerke wat die sleutel in die swart metaalverf van die Mercedes gemaak het.

Volgens die Sunday Times het Norma ook haar man se studeerkamer verwoes. Sy het toe glo vir Peterson gebel en hom gedreig en beledig. Norma is op Vrydag 31 Julie in hegtenis geneem, en ná haar nag in die sel is sy borgtog van R5 000 toegestaan. Sy sal na verwagting op 14 September in die hof verskyn weens kwaadwillige saakbeskadiging en crimen injuria.

“Die beweerde skade beloop sowat R100 000,” sê haar prokureur, Masocha Victor Nkhwashu. Sy is aanvanklik ook deur ’n aanrandingsklag in die gesig gestaar, maar dié is intussen laat vaar.

Norma is deur die Valke in hegtenis geneem, want dié elite-ondersoekeenheid van die polisie ondersoek haar ook weens ’n beweerde sameswering om haar man te vermoor. In die maand voor die huismoles het die Valke glo inligting oor die beweerde moordplan bekom. Die wettigheid, regverdigheid en noodsaak van Norma se inhegtenisneming sal in die hooggeregshof betwis word, sê Masocha aan Huisgenoot. Hy het Norma aangeraai om nie self met die media te praat nie. “Sy is baie getraumatiseerd nadat sy vir die eerste keer ’n nag in die tronk, en boonop in die winter, moes deurbring. Die risiko vir covid-19 was ook nie ’n aangename ervaring nie,” vertel Masocha.

“Vir die veiligheid van albei partye is ’n voorwaarde op haar borgtog geplaas dat sy nie terugkeer huis toe nie. Maar die landdros wat later haar saak aangehoor het, het gesê sy kon terugkeer huis toe.” As die vrou van ’n vooraanstaande ANC-lid – en iemand wat graag haar ontwerpersklere onder die Instagramnaam @mrs_gigabyte ten toon stel – is Norma gewoond aan die kollig.

Maar sy is skaam dat haar huweliksprobleme die nuus oorheers. “Sy het aangejaag deur gewelddadig te raak,” sê nog ’n familievriend. “Dit was die ergste ding vir haar om die nag in die tronk deur te bring. Sy is steeds nie oukei daarmee dat sy opgesluit en verneder is nie. Malusi is spyt dat sy in hegtenis geneem is, maar hy moes dit doen. Sy was by ’n familielid se huis, maar sy wil na haar eie huis terugkeer.”

Die egpaar het kort ná hul spogtroue in 2014 in hul seweslaapkamerhuis in Waterkloof ingetrek. Op hul troudag was die bruid asemrowend mooi in ’n elegante wit rok met ’n ses meter lange sleep van Franse chantillykant. Sowat 560 gaste het toegekyk hoe sy haar troubeloftes met die stylvolle bruidegom uitruil.

Die voormalige minister van finansies en Norma, ’
Die voormalige minister van finansies en Norma, ’n IT-spesialis, se huwelik is storm­agtig en vol skandale.

Op die oog af was hulle uitstekende pasmaats. Malusi is immers net so versot op duur ontwerpersklere as Norma. Maar net maande ná hul sprokiestroue het Buhle intieme onthullings oor haar affair met Malusi gemaak.

“Ek het Malusi vroeg in Julie 2014 deur Instagram ontmoet. Ons het mekaar op die platform begin volg, ontdek ons deel dieselfde sin vir humor, en dit het tot ’n oor-en-weer-geklets gelei,” het Buhle geskryf. “Ek het sy Instagramboodskappe met my vriende gedeel, en dis hoe ek uitgevind het hy trou op daardie dag. Hy het verduidelik hy was voorheen getroud en het ’n smerige egskeiding gehad. Hy het ook gesê hy wil sukses behaal in die politieke arena en het kinders by Norma.”

 Sy staan nie onderhoude toe nie, maar het haar sw
Sy staan nie onderhoude toe nie, maar het haar swye Woensdag op Instagram verbreek, waar sy ondersteuners bedank het.

Volgens Buhle het Malusi ook aan haar vertel Norma het hom “in ’n hoek gedruk om met haar te trou”. Aan Huisgenoot het Norma destyds vertel sy neem haar huweliksbelofte aan Malusi baie ernstig op. “Toe ek dit geuiter het, het ek dit bedoel. Dit skeel my nie dat mense voel ek moes hom gelos het nie.

“Ek gaan nie wegkruip oor wat gebeur het of my man ophou liefhê nie. Nooit. As ek hom wil los, sal ek dit op my eie voorwaardes doen.”

En selfs ná die jongste drama is Norma glo nie reg om haar rug op haar huwelik te keer nie. “Sy het nie om ’n egskeiding aansoek gedoen nie,” sê een van haar vriende. “Dis die laaste ding wat sy wil doen. Sy wag vir sy volgende skuif en dan sal sy tot aksie oorgaan. Sy het genoeg bewyse en inligting bymekaargemaak.

“Maar sy het hom lief, en sy wil hê hy moet sy verkeerde dade beken en jammer sê.”

Intussen handhaaf die modieuse Malusi sy stilswye. En of hy sy vrou se hofverskyning sal bywoon, sal net die tyd leer. Die kans is egter goed dat sy vriende nie voortaan hul motors vir hom sal leen nie . . .

FOTO'S: PAPI MORAKE, GALLO IMAGES/PHILL MAGAKOE, TWITTER/@FANTASTIC_SOLO, INSTAGRAM (@BOOSLAYBEAUTIFUL, @NORMA.GIGABA)