Het jy begin 2020 vir mense vertel dié jaar sou so uitdraai, sou hulle jou besorg aangekyk het en gedink het jy rook snaakse twakkies. Maar toe ons weer sien, rook baie mense snaakse twakkies met desperate genot.

En die rook van smokkelsigarette was maar één van die aardighede in hierdie jaar sonder weerga. Want die maande lange inperking weens covid-19 het ongewone dinge alledaags gemaak en gewone dinge na ’n droom laat klink.

Maar al het die gevolge van die pandemie en inperking wyd uitgekring, was daar ook soms ’n silwer randjie. Want in lockdown het ons opnuut onthou hoe nodig ons mekaar het, en dat swaarkry en humor ons saamsnoer.

En ja, al was daar dikwels baie kommer in ons oë, kon ons ook soms agter ons maskers lag. Dít is van die oomblikke wat ons sal onthou uit hierdie ongewone maar ook onvergeetlike jaar.

’n Wêreld op hol

Wetenskaplikes kan steeds nie bepaal waar en hoe die coronavirus SARS-CoV-2 ontstaan het nie, maar toe ons weer sien, het dit ’n pandemie tot gevolg. Op Oujaarsdag 2019 het China die wêreld ingelig oor ’n uitbreking van virale longontsteking in die stad Wuhan.

Die oorsaak? Glo inwoners se aanraking met kos by ’n mark waar wilde diere verkoop, geslag en geëet word.

Ons was voor die televisie vasgenael deur die tonele van ’n stad van 18 miljoen mense wat tuis ingehok word weens die virussiekte met sy rits onvoorspelbare simptome. Min het ons geweet dié beelde sou ook óns werklikheid word.

Foto: Gallo Images/AFP
Foto: Gallo Images/AFP

Landsgrense is gesluit en lugdienste gestaak, maar die pandemie had reeds vlerke. Die volgende covid-riller was in Italië, waar net loeiende ambulanse die stilte van ou stede versteur het.

Gou was daar ook siekte, sterftes en inperkings in ander lande: Duitsland, Frankryk, Iran, Brittanje, Spanje . . . En toe’s dit ons beurt.

O krisis, het ons genoeg toiletpapier?

Toe pres. Cyril Ramaphosa aankondig dat Suid-Afrika om twaalfuur die nag op Donderdag 26 Maart vir drie weke in ’n streng inperking sou gaan, het dit ’n stormloop na die winkels ontketen. Onthou jy hoe leeg party winkelrakke ’n paar dae lank was omdat alles dadelik opgeraap en trollies oorvol gelaai is?

Net plek-plek het ’n ou hoenderborsie of die laaste paar aartappels op die rak gebly.

Een van die grootste verkopers? Toiletpapier. Genoeg vir ’n leeftyd.

Foto: Sipa
Foto: Sipa

Noodsaaklike produkte en kos sal nie opraak nie, het die Verbruikersgoedereraad, Agri SA en handelaars verseker, maar niks kon paniekaankope en opgaar stuit nie.

Op versoek van Pick n Pay het sangers soos Ard Matthews, Karen Zoid, Zolani Mahola en Arno Carstens saam ’n nuwe musiekvideo uitgereik waarin hulle paai: Don’t panic buy.

En skielik was gewone seep nie meer genoeg vir hande was nie – die verkoop van vloeibare seep het al teen einde Maart met 400% gestyg.

Toe klap ons deure toe.

Hoe was jy nog altyd jou hande?

Van kleins af was ons hande, maar skielik preek almal oor hoe om dit reg te doen.

Minstens 20 sekondes lank, en maak seker jy was tussen jou vingers. Groet met ’n elmboog- of voetstamp. Moenie aan jou gesig vat nie! Jou handreiniger moet 70% alkohol bevat.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Terwyl almal weens geslote drankwinkels en ’n verbod op drankverkope na bier en hardehout smag, gebruik party brouerye hul alkohol maar om handreiniger te maak. Teen April vra party aanlyn smouse sommer R170 vir net 250 ml daarvan!

En toe ons weer kyk, saniteer ons selfs ons kruideniersware ná elke besoek aan die winkel.

My masker is mooier as joune

Eers was dit ’n aardigheid. Mense kla oor seer ore en brille wat toewasem, en ons hoor mekaar moeilik. Pres. Ramaphosa sorg vir groot vermaak toe ook hy onbeholpe op televisie sy masker oor sy oë aftrek.

Skermgreep: YouTube
Skermgreep: YouTube

Maar so al swetsend raak ons gewoond aan maskers dra. Lapmaskers word ’n tuisbedryf en selfs ’n mode-item.

Die ontwerpe is eindeloos: blompatrone, strokieskarakters, slagspreuke, en selfs deursigtige maskers om liplesers te help.

Oorsee skep die ontwerphuis Givenchy ’n masker-hoed-kombinasie van sowat R8 500, en die Italiaanse ontwerper Tiziana Scaramuzzo word oorval met bestellings vir die “trikini”: ’n bikini met bypassende masker.

Spertye tussen die skottelgoed

Daai kantoorstoel wat jy huis toe gesleep het, lyk dalk belaglik by jou kombuistafel, maar “Work From Home” (WFH) word die nuwe gonswoord. Kort voor lank hou almal soggens videovergaderings op Zoom of Microsoft Teams – al kletsend met kollegas terwyl jy nog jou pantoffels of slofklere dra.

Op rekenaarskerms flits kollegas se kinders op die agtergrond verby, soms met skreeusnaakse gevolge. En alte gereeld vergeet mense om hul mikrofoon of kamera af te skakel – ons sien en hoor dinge wat ons bloedrooi laat bloos.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tussendeur moet kinders tuis onderrig word weens skole wat lank gesluit is, en almal staan so tussen die werkery deur pal bont met skottelgoed en wasgoed wat ophoop.

Met die aanbreek in Junie van vlak 3 kon kantoorgeboue onder streng covid-veiligheidsreëls heropen, maar baie mense werk steeds tuis. Volgens Vodacom het dataverkeer teen einde September met 86% gestyg.

’n Bobaasbakker in elke huis

Eers was dit piesangbrood – dit het gevoel asof almal dit gelyk begin bak – en toe gewone brood, suurdeegbrood, beskuit en elke denkbare koek en tert. In die eerste weke van die inperking het baie mense hul kommer in deeg probeer wegknie.

Kenners verduidelik dit was vir gesinne terapeuties om saam te bak, want dit het ons in beheer laat voel in ’n drasties veranderende wêreld.

Foto: Skermgreep
Foto: Skermgreep
Foto: Skermgreep
Foto: Skermgreep

In die winter het bak vir kook plek gemaak: Eers kerries as trooskos, en toe almal se kreatiwiteit afneem en beursies platter en eindelik leeg raak, enigiets wat maklik en goedkoop is.

En ai, met die tuisblyery was die yskas en koskas pal ’n versoeking . . . Met al daardie ekstra kilo’s om die heupe het min mense vanjaar betyds vir die somer ’n swembroeklyf gehad.

‘Minister Zol’ en ander twakpraatjies

Al het die nasionale coronavirusbevelsraad die verkoop van sigarette verbied, het rokers bly stook. Smokkelsigarette het onder verskeie handelsname verskyn, en desperate rokers het in onwettige transaksies tot R300 onder die toonbank of in agterstrate opgedok.

Foto: GCIS
Foto: GCIS

En min. Nkosazana Dlamini-Zuma se bisarre toespraak waarin sy probeer verduidelik hoekom sigarette verbied is, word toe sommer ook die lirieke van ’n nuwe trefferliedjie en -video, DJ Max Hurrell en The Kiffness se “When People Zol”.

Die verbod is eers in Augustus ná 141 dae opgehef.

Die bure word atlete

Toe ons ná vyf weke van streng inperking eindelik weer soggens van ses tot nege buite kon oefen, het selfs die luiste stoelpatatte skielik ywerige stappers en drawwers geword. Dit was immers lank ál uitkomkans.

Skermgreep: YouTube
Skermgreep: YouTube

“Ek het nog altyd gedink mense wat om die blok draf is ’n bietjie kens, maar so ’n kans sal ek beslis nie deur my vingers laat glip nie!” het Koos Kombuis almal se gedagtes verwoord.

Pynappels sorg vir skop

Op ’n dag tydens die verbod op drankverkope het pynappels skielik van die winkelrakke begin vlieg. En gou het sommige winkels dit sommer nóg makliker vir kopers gemaak: Hulle het gis en suiker skuins neffens die rak met pynappels gesit sodat kopers dit sommer saam kan gryp.

Resepte vir pynappelbier is aanlyn gedeel, en oral het mense tuis begin stook vir ’n ietsie koels tydens die drankverbod.

Foto: Skermgreep
Foto: Skermgreep

Toe drankwinkels eindelik weer aan die begin van Junie oopmaak, moes handelaars verkope rantsoeneer. Sommige handelaars moes streng wees, en een bekende winkelgroep het aangekondig hulle beperk elke koper se trollie tot drie kiste bier, ses bottels hardehout, 18 bottels wyn of drie bokswyne.

Drinkers het so geesdriftig fles gevat dat baie weer onkant betrap is toe die drankverbod op 12 Julie heringestel is – hierdie keer tot 17 Augustus.

Bisarre reëls

Ons mag hoender koop, maar nie gebraaide hoender nie? Bevrore pasteitjies, maar nie warm pasteie nie? Komberse en duvets maar nie gordyne nie? Inkleurpotlode maar nie speelgoed nie? Truie maar nie T-hemde nie?

Dit was met tye moeilik om kop te hou met die regering se lys van dinge wat as noodsaaklike goedere beskou is en daarom verkoop kon word en die dinge wat ons nie toegelaat is om te koop nie.

Foto: Skermgreep
Foto: Skermgreep

Plek-plek het dit absurd geraak, soos toe Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, verduidelik vroue mag kuitbroeke koop, mits hulle dit wil doen om saam met stewels of lang kouse te dra.

Skielik het ons toe sommer ook ’n minister van wintermodes . . .

Ons vang gees met ‘Jerusalema’

Die aansteeklike danstreffer deur Limpopo se Master KG en die KwaZulu-Natalse Nomcebo Zikode is as die globale temalied van die pandemietyd bestempel.

Die liedjie het danksy die #JerusalemaDanceChallenge ’n wêreldwye internetfenomeen geword. Gesondheidswerkers, winkelpersoneel, nonne, skole, weermaglede, sterre soos Cristiano Ronaldo en Janet Jackson . . . Almal het gedans en hul video’s gedeel.

Skermgreep: YouTube
Skermgreep: YouTube

“Dis ongelooflik; die liefde is oral. Ons kan mense met ons musiek verenig en almal laat dans!” het Master KG, oftewel Kgaogelo Moagi, gesê. Teen Desember is die amptelike “Jerusalema”-musiekvideo al 270 miljoen keer gekyk. 

Suid-Afrikaners staan bymekaar

Toe die regering se hulpverlening aan behoeftiges tekortskiet, het gewone mense ingespring. Sakefamilies soos die Oppenheimers, Ruperts en Motsepes asook korporasies en individue het honderdmiljoene rande aan die regering se Solidariteitsfonds geskenk, maar ’n nieregeringsorganisasie soos Ladles of Love het byvoorbeeld ook binne drie maande 2,5 miljoen maaltye en 1,25 miljoen toebroodjies versprei.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Boere en voedselmaatskappye het duisende tonne vars en verwerkte voedsel geskenk om verligting te bring aan mense wat hul inkomste weens die inperking kwyt is.

Gift of the Givers het kos en noodsaaklike items uitgedeel, huisvroue het sopkombuise geskep, en kerke het haweloses ingeneem.

“Diverse burgerlike organisasies, en baie individue, het geld en tyd geskenk om ’n enorme voedingsoperasie te begin,” het prof. Jeremy Seekings van die Universiteit van Kaapstad se sentrum vir maatskaplike wetenskapnavorsing gesê.

BRONNE: REUTERS, CNN, ENCA, WHO.INT, NPR.ORG, NEWS24, YOUTUBE, TWITTER, CSSR.UCT.AC.ZA, NETWERK24, WIKIPEDIA.ORG
FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, SCREENSHOT, YOUTUBE,SIPA, AFP/GETTY IMAGES
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe