Die rooi boks op die kombuistoonbank is vol herinnerings van haar lewe saam met die man wat as Suid-Afrika se baasspeurder bekend was. Kers-, Valentyns- en verjaardagkaartjies waarin Piet Byleveld lang, liefdevolle boodskappe vir sy “Blondie” geskryf het.

“Hy sou van elke geleentheid gebruik maak,” sê die 57-jarige Elize Byleveld terwyl sy deur die briefies blaai.

“Hoe meer ek die kaartjies lees, hoe dieper begin ek in sy boodskappe inlees. Hy het altyd ’n opregte dankbaarheid in hom gehad.”

Piet het graag vir haar kaartjies met ’n liefdevolle boodskap gegee.

Met die feestyd wat nader kom, het Elize dié boks weer gaan opdiep. Hierdie Kersfees sal daar geen kaartjie van Piet af wees nie, en Elize sal na sy woorde uit die verlede moet kyk vir troos. Piet het in sy lang loopbaan berugte misdadigers soos Cedric Maake, die Wemmerpanmoordenaar, en Donovan Moodley, die moordenaar van Leigh Matthews, vasgetrek, maar moes op 24 Mei die knie buig voor longkanker.

Hy het op 9 Maart die diagnose gekry, maar teen daardie tyd het die kanker reeds na sy lewer en niere versprei.

“Ek dink diep binnekant hom het hy daai dag geweet sy lewe is verby; hy wou dit net nie wys nie.”

Sy mis Piet se skor rokerstem in hul huis in Ruimsig, Roodepoort, vertel sy en soek met oë vol verlange deur die kamer na tekens van die man wat haar so liefgehad het.

“Hy het nie gehou van die stilte nie. Hy het altyd gesels.” Elize lees hardop uit een van die Kerskaartjies. “Jy is een groot diamant waarna ek die res van my lewe sal omsien en opkyk. Ek is baie lief vir jou. Al my liefde, Piet,” staan daar in sy amper onleesbare handskrif. Sy gee ’n sug en staar ’n oomblik by die kombuisvenster uit. “Ja, vanjaar sou ons 10de Kersfees saam gewees het. Ons het elke Kersfees uniek probeer maak. Vanjaar gaan dit baie moeilik wees. "

“Daardie verlange is die seerste seer waaraan jy kan dink. Jy mis die kleinste dingetjies. As ek selfsugtig kon wees, sou ek net die res van my lewe saam met hom wou deurbring.”

Teen Elize se mure pryk die foto’s en herinnerings van haar en Piet. “Ek wil vanjaar weer soos altyd die huis mooi versier met Kersliggies en die tafel mooi dek, soos ek en hy dit gedoen het,” vertel sy.

Nadat die kinderlose Piet Elize ontmoet het, het hy Kersfees ál meer geniet. Hulle het altyd die etenstafel mooi gedek.

Dié tyd van die jaar wanneer almal begin gereedmaak vir spesiale dae saam met hul geliefdes, kom sit die herinnerings pynlik vlak. Met hul laaste Kersfees saam het Piet besluit om die Kersboom op sy eie te versier. “Hy het die dag die Kersboom uitgehaal en gevra of hy dit kan versier. ‘Natuurlik kan jy,’ het ek gesê."

Hy het hul wit Kersboom net met rooi versierings behang. “Dit het pragtig en vreeslik kunstig gelyk,” onthou sy.

“En ek verstaan nou hoekom hy dit wou doen. Hy het seker ’n aanvoeling gehad dit sou sy laaste Kersfees wees”
- Elize Byleveld

Voor hulle in 2011 getroud is, het Piet nie regtig Kersfees gevier nie, vertel sy.

“Hy het nie kinders gehad nie en elke Kersfees aangebied om oor die feestyd te werk sodat sy kollegas met kinders dié tyd saam met hul familie kon deurbring.”

Maar danksy Elize, haar kinders en kleinkinders het die feestyd nuwe betekenis gekry vir dié yster van ’n speurder.

“Ek onthou die eerste Kersfees in 2008 wat ons saam deurgebring het. Ek het vir hom ’n lessenaarstoel gekoop. Dit was in ’n groot boks. Ek kon dit nie dra nie en moes dit met my voete by die voordeur instoot.”

Piet was in die kombuis besig om rooiwyn te skink. Toe Elize al kreunend met die boks by die deur inkom, het sy oë so groot soos pierings geraak en het hy albei die glase wyn op die vloer laat val.

“Dis jou Kersgeskenk, engel,” het sy gesê. “Ag, dit was so kosbaar om die waardering op sy gesig te sien,” vertel sy nou.

Piet het hom vir haar kleinkinders soos Kersvader uitgevat. “Hy het kompleet die hele uitrusting aangetrek, die pak, hoed, baard, alles, maar een jaar het hulle agtergekom Kersvader se stem klink darem baie soos oupa Piet s’n.”

Die blonde vrou met die rooi lippe glimlag weer breed.

“Ag, en dan was daar natuurlik die Kersfees toe Piet besluit het Kersvader gaan oor die muur klim en die geskenke in ’n kruiwa los.

“Hy het die kruiwa op 24 Desember versier en die geskenke ingesit. Hy het sy skoen gevat, dit in modder gedruk en skoenspore oral op die muur gemaak om te wys waar Kersvader oor die muur geklim het. Dit was alles Piet se idee. Hy was mal oor Kersfees.”

Sy sê hy sou in Junie elke jaar al begin vra wat hulle vir Kersfees doen.

“Hy was baie lief vir lamsboud en gebakte aartappels, maar dan moes daar genoeg gemaak word sodat hy die volgende dag ’n koue een kon eet. Dit was sy gunsteling: ’n koue gebakte aartappel.”

As Elize nog net een Kersfees saam met die baasspeurder kon hê, sou sy dit ekstraspesiaal wou maak.

Elize weet nou haar man het besef sy lewe is verby toe hy in Maart vanjaar hoor hy het kanker. Hy is sowat twee maande later oorlede.

“Dit sal ’n Kersfeesparadys wees. Daar sal nie ’n plek wees waar daar nie ’n Kersliggie brand nie. Daar sal rooiwyn wees; ons sal in mekaar se arms sit met ons geliefdes rondom ons.”

Daar was nog baie wat sy en Piet saam wou doen. Die kampeersleepwa wat hulle gekoop het om in die Bosveld te gaan kampeer staan steeds in die motorhuis. Elize vertel:“Piet het daai trailer oorgepak, uitgepak en weer reggepak, maar toe kom die siekte.”

Sy onthou nog hoe hulle eenkeer by die Vaaldam gaan kampeer het. Met hul aankoms het hulle besef hulle het die helfte van die tentpenne by die huis vergeet. “Ons moes in ’n buitekamer bly terwyl die grênd trailer soos ’n olifant daar staan,” lag sy.

Hulle wou nog Mauritius toe gaan ook.

“Ek het hom baie vertel van die eiland, en in die dae van sy siekte het ek net gewens ons kon saam op ’n vliegtuig klim en daarheen gaan – die kanker hier in Suid-Afrika los en vryelik en sorgeloos op wit strande rondloop.”

En al is haar geliefde baasspeurder nie meer met haar nie, weet sy waar hy nou is, het hy vrede. “Ek wonder soms hoe dit moet wees in die hemel,” sê sy. “Het Piet daar die slagoffers ontmoet van die moordenaars wat hy agter tralies gesit het? Hy was ’n groot rugbykyker; ek wonder of hy en Joost van der Westhuizen daar bo lekker rugby praat.”

Dan glimlag sy weer.

“Ek hoop so.” 

Foto's: Tumelo Leburu, verskaf