Hy was net vyf jaar oud en sy boetie ’n pap baba toe hulle kinderhuis toe is. Die welsyn het hulle nie van hul ma weggevat nie; sy het verkies om van hulle afstand te doen.

Dit was die beste ding wat sy onder die omstandighede vir hulle kon doen, glo die twee broers vandag – armoede en die nood het hul enkelma tot dié drastiese optrede gedryf.

“My ma kon nie vir ons sorg nie,” vertel Piet Matipa. “Dis nie dat sy nie wou nie.”

Vandag is hy ’n rubriekskrywer, dialoogskrywer vir die sepie 7de Laan en nou ook aanbieder van VIA se nuwe werklikheidsprogram Wees, maar sy lewenspad was nie aldag maklik nie.

Ons kuier by Piet (29) in sy moderne woonstel in Fourways, Gauteng. Langs hom op die bank sit sy jonger broer, Soteria (23), ’n assessor in die voertuigversekeringsbedryf.

Vir hulle het ’n lewe in die kinderhuis beteken hulle kon sterk en suksesvol word sodat hulle nie sou terugval in die kringloop van swaarkry waaruit hulle gekom het nie, meen die twee broers.

“Die kinderhuis was die medisyne wat ons gehelp het om bo ons omstandighede uit te styg,” meen Soteria, en Piet beaam dit. “As jy in daardie omstandighede terugval, is jy dom. Jy kan iets van jouself maak as jy die geleenthede aangryp wat jou kant toe kom.”

Die broers sê hulle is vandag dankbaar dat hul ma, wat om den brode allerhande produkte verkoop het, die moeilike stap gedoen het om hulle in kindersorg te plaas.

“As sy nie het nie, sou ons nie gewees het waar ons vandag is nie,” sê Soteria.

Hulle het hul pa nooit geken nie.

Nadat hul ma hulle in die middel 1990’s in sorg geplaas het, het hulle ’n jaar lank in ’n plek van veiligheid gewoon voor hulle na ’n kinderdorp verplaas is.

Dié kinderdorp, Villa Lubet in Lyndhurst, Johannesburg, het uit 20 huise bestaan. Elke huis het 12 kinders en ’n huismoeder en -vader gehad.

Flip en Marie Janse van Rensburg was “eintlik maar die ouers wat ons grootgemaak het”, onthou Soteria die mense wat hy vandag nog mamma en pappa noem.

“Al sien ek hulle nie baie nie, is ons verhouding nog solid,” sê hy.

Hulle het mekaar ’n jaar laas gesien, maar praat baie oor WhatsApp. “Oom Flip stuur gereeld vir my ’n boodskap en sê hy bid vir my.”

“Dit sal nooit verander nie. Hulle het my grootgemaak,” verduidelik Soteria, wat Afrikaanssprekend grootgeword het in die kinderhuis. Hy het eers op hoërskool leer Zoeloe praat, die taal van sy biologiese ma. Piet het wel kleintyd Zoeloe leer praat.

Die broers is baie geheg aan mekaar. Al het hulle kleintyd in kindersorg beland, is hulle gelukkig nooit geskei nie en het hulle saam in ’n kinderoord in Johannesburg en later ook in Pretoria gewoon. Foto: Rowyn Lombard

Hy onthou nog die tyd toe hy by sy biologiese ma gewoon het, die vyf jaar voor Soteria gebore en hulle kinderhuis toe gestuur is. Soms was daar niks in die huis om te eet nie.

Ander kere moes hy en sy ma water uitskep nadat dit by hul plakkershut in die Pretoriase township Mamelodi ingereën het. Hy vertel van ’n spesifieke dag: “Dit het so erg ingereën dat ons shack onder water was en ons emmers water moes uitgooi. Terwyl ons besig was, het my ma net gegil, gebid en die Here aangeroep.”

Sy bid tot vandag toe nog net so baie, vertel die broers.

Hulle het deesdae wel ’n verhouding met hul ma, maar Soteria sê: “Jy moet een ding onthou: Ons het nooit die band met haar gehad wat ons met ons huisouers in die kinderoord gehad het nie. Ons het nie saam met haar grootgeword nie – en dit verander alles.”

Dit was vir hulle moeilik om ’n verhouding met haar te bou ná al die jare weg van haar af. Soteria was sowat ses en Piet 11 jaar oud toe oom Flip die seuns na hul ma toe neem sodat sy haar jongste kon ontmoet. Daarna het sy af en toe vir die broers kom kuier.

Die kinderhuis leer jou baie van die lewe, en jy ontwikkel ’n dik vel
Soteria

Dit is veral vir Soteria moeilik omdat sy net ná sy geboorte “verdwyn” en hy haar eers jare later ontmoet het.

“Ek was in gr. 1 of 2 toe ek haar vir die eerste keer ontmoet. Ek was klein; daarom kan ek nie alles onthou nie, maar dit het gemaak dat die verhouding vandag anders is.”

Piet was 18 toe hy die kinderhuis verlaat en Soteria 20.

“Ek het ’n probleem gehad met my leerdery en is in ’n spesiale skool geplaas,” vertel Soteria.

Die broers glo hulle is albei vandag suksesvol omdat hulle ’n doelbewuste besluit geneem het om nie slagoffers van hul omstandighede te bly nie.

“In die kinderhuis kry jy geleenthede en hulle stimuleer jou om aan te hou met dit waarin jy goed is,” vertel Piet, wat onderhoofseun was van die Hoërskool Waterkloof in die tyd toe hy en Soteria in ’n kinderhuis in Elarduspark gewoon het.

Piet het onder meer in redenaarskompetisies uitgeblink en met ’n beurs ’n joernalistiekgraad aan die Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus behaal, waarna hy by die dagblad Beeld in Johannesburg begin werk het.

Soteria glo dit is die mense wat jou bystaan en bemoedig wat bydra tot wat jy in die lewe bereik. “Ek het baie hulp gekry van mense wat in my geglo het.”

Die twee broers het ’n goeie verhouding, al is hulle baie verskillend. Soteria is sportief en lief vir die buitelewe, terwyl Piet rustiger en minder aktief as sy kleinboet is.

Jy moet vorentoe beweeg; om te lê sal jou niks help nie

“Ek waardeer nie die natuur so baie soos Soteria nie,” sê Piet.

“Piet is die slimme in ons verhaal,” meen Soteria. “Ek is fisiek meer geseën en hy is beter met sy verstand,” sê die jongste broer, wat in atletiek uitgeblink het.

“Maar ons is albei baie sosiaal en uitgesproke. Ons is nie skaam nie.”

Iets wat hulle albei dwars in die krop steek, is die stigma wat aan kinderhuiskinders kleef.

“Die kinderhuis leer jou baie van die lewe, en jy ontwikkel ’n dik vel,” sê Soteria. “Jy besef alles is nie aldag maanskyn en rose nie; jy kan besluit om ’n beter lewe te lei, selfs beter as dié wat in ’n ‘normale’ ouerhuis grootgeword het.”

Piet stem saam.

“Ek hou nie daarvan wanneer mense kinderhuiskinders jammer kry nie. Party mense gaan deur baie erger dinge as om in ’n kinderhuis groot te word.”

Dit is juis dié lewensbeskouing wat hom gehelp het om Wees, sy nuwe VIA-program wat handel oor kinderhuiskinders wat bo moeilike omstandighede uitgestyg het, objektief aan te bied. In die tweede aflewering voer hy ’n onderhoud met Soteria waarin hulle albei oor hul kinderhuisdae gesels.

Piet is aanbieder van Wees, VIA se nuwe reeks oor kinderhuiskinders wat bo hul omstandighede uitgestyg het. Foto: Martin de Kock

“Tot ek hierdie program begin aanbied het, het ek gedink my en Soteria se lewe was erg en traumaties. Elke keer nadat ek ’n onderhoud gevoer het, was ek lank in ’n skoktoestand.”

Die verhale van ontbering en lyding wat baie kinders moes deurmaak voor hulle in kinderhuise versorg is, was vir hom hartverskeurend. Hy vertel baie van die mense met wie hy vir die reeks gepraat het, was in die kinderhuise beter daaraan toe as in hul ouerhuis.

Die grootste les wat hulle in hul kinderjare geleer het, is om “aan te hou roei”, vertel Piet.

“Baie mense het tyd om hul emosies en wat met hulle gebeur het te koester. Ek het nie tyd daarvoor nie. Jy moet vorentoe beweeg; om te lê sal jou niks help nie.

"Die lewe het nie genade vir enigiemand nie; as jy kies om op ’n hoop te bly sit, sal jy dit nie maak nie.”

Soteria stem saam.

“Kyk vorentoe, werk hard en maak seker jy maak die lewe beter vir jouself.”

Dan voeg hy by: “Ja, dit sou lekker gewees het om saam met ons ma groot te word, maar ek en Piet is oukei – en die Here het ons baie geseën.”