Dis Sondagoggend 26 Julie toe my selfoon met ’n stemboodskap bliep. Ek is nie verbaas toe Pieter van der Westhuizen se Whats­App-profiel op die skerm opduik nie.

Ons het immers ’n afspraak om oor sowat 15 minute – twaalfuur om presies te wees – oor die telefoon te gesels. Net om weer die toutjies op te tel ná ’n romantiese fotosessie die vorige dag met Pieter en sy aanstaande, Antoinette Watson.

Dit was om hul onlangse verlowing te vier – en die foto’s sou gepubliseer word saam met Huisgenoot se beplande storie oor Pieter en Antoinette se besluit om te trou nadat hul gedeelde hartseer hulle destyds bymekaargebring het.

Ons het die telefoniese afspraak vir twaalfuur vasgemaak omdat Pieter en Antoinette eers hul gereelde kerkdiens by die Querencia Bediening-gemeente in Wierdapark, Centurion, wou bywoon.

Boonop verjaar sy vandag en word sy 30 jaar oud. Dalk wil Pieter (51) net die gesels agter die rug kry sodat hulle die res van die dag kan geniet.

Niksvermoedend begin ek na Pieter se boodskap luister – en word yskoud. “Ons kan nie nou praat nie. Ek het drie rowers in ’n kerk geskiet. Hier in Centurion.”

Foto’s wat tydens die aanval deur ’n kerkganger ge
Foto’s wat tydens die aanval deur ’n kerkganger geneem is, het binne ure versprei.

Ek luister weer om seker te maak. Die uiterlik kalm Pieter wat ek leer ken het, die man wat ’n rots was vir sy broer Joost tydens dié oud-Springbokkaptein se stryd teen motorneuronsiekte (MNS), se stem klink hortend.

Enkele ure later het foto’s van die kerkskietery in die sosiale media begin verskyn. Op een foto staan ’n skynbaar verslae Pieter in die klein kerklokaal tussen rye stoele met ’n pistool in sy regterhand, en voor sy voete lê een van twee dooie rowers met ’n bloedkol op die bors. Die derde het gevlug.

Foto’s wat tydens die aanval deur ’n kerkganger ge
Foto’s wat tydens die aanval deur ’n kerkganger geneem is, het binne ure versprei.


En gou ontvou die nuus: Pieter het blykbaar uit noodweer op die drie gewapende rowers losgebrand toe hulle omstreeks halftwaalf by die klein ­kerkdiens ingebars het.

Die foto’s van die gebeure is in skokkende kontras met die vorige dag se speelse verlowingsfoto’s op ’n perdeplaas naby Hartbeespoortdam: Pieter met sy gesig geraam deur ’n hart van blomme; Pieter wat op sy knie vir Antoinette die jawoord vra met ’n perd as getuie; Pieter wat die ring aan haar vinger steek.

Albei was dolgelukkig aan die begin van die nuwe hoofstuk in hul lewe. Pieter, wat soveel opgeoffer het om Joost tot op sy sterfbed te versorg; daarna ’n hofstryd deurgemaak het met Joost se eksvrou, Amor Vittone; en eindelik self geskei is weens die stres van dit alles.

En ook Antoinette, wie se pa soos Joost ook weens MNS oorlede is. Dit was juis die feit dat elkeen ’n geliefde aan MNS afgestaan het wat hul paaie na mekaar gelei het.

Pieter het sy ontslape broer, Joost, tot die einde
Pieter het sy ontslape broer, Joost, tot die einde versorg.

Hoe is dit moontlik dat dinge binne 24 uur so drasties kon verander?

“Dit was so ’n prentjiemooi dag,” vertel die geskokte Antoinette oor die foto­sessie by Harties Horse Trail Safaris toe ons haar ná die skietery weer bel.

“Die skoene wat ek aangehad het, het my seergemaak. Toe abba hy my sommer na die volgende plek waar die fotograaf nog foto’s wou neem. Op pad kerk toe (Sondagoggend) het ek weer gedink hoe spesiaal dit vir ons is om mekaar te kan ken.”

Maar nou het hul sprokie in ’n nag­merrie ontaard. Want al het Pieter uit noodweer opgetree, is dit moontlik dat hy van moord aangekla kan word.

Ulrich Roux, Pieter se regsverteenwoordiger, het bevestig dat Pieter teen druktyd nog van niks aangekla is nie. Maar in die geval van ’n skietdood is ’n polisieonder­soek standaardprosedure.

Weens die ondersoek kon Pieter op Ulrich se raad nie met Huisgenoot praat nie.

Maar vir Pieter se ouers, Gustav en Mariana, krap dié voorval, net meer as drie jaar ná Joost se dood in Februarie 2017, opnuut hul wonde oop.

“Dis ’n moeilike storie. Dis baie emosioneel; dit gaan oor Pieter én Joost,” vertel die gebroke Gustav by navraag. “Daar word verwys na ‘Joost se broer’, en dan dink ons aan Joost, en dit maak weer die ou seer oop.”

Sondag, 26 Julie

Pieter en Antoinette kuier saam met haar ma en sti
Pieter en Antoinette kuier saam met haar ma en stiefpa, Michelle en Kobus Erasmus. Kobus is ook die pastoor by die Querencia Bediening-gemeente.

Sondag was Antoinette se verjaardag. Sy en Pieter wou by haar ma, Michelle, en stiefpa, Kobus Erasmus, gaan braai het. Maar eers is hulle na die Querencia Bediening se oggenddiens in ’n kantoorgebou in Estcourtstraat, Centurion. Kobus is dié gemeente se pastoor.

Soos altyd het hulle in die voorste ry gaan sit, hierdie keer as ’n verloofde paartjie. Maar kort ná die begin van die diens fluister Antoinette in Pieter se oor dat sy “snaaks” voel.

“In my binneste het ek onrustig gevoel soos altyd voor iets dramaties gebeur,” verduidelik sy aan Huisgenoot. Die tema van Kobus se preek was “Wie is ek dat U nog na ons kyk”, onthou sy.

“Terwyl ek geluister het, het ek met dankbaarheid besef hoe God nog altyd na ons kyk. Langs my het die wonderlikste man gesit wat ek al ooit ontmoet het. Toe ons bid, het ek gesê: ‘Dankie, Here, dat U my so bederf het.’ ”

Omstreeks halftwaalf het almal opgestaan om af te sluit met die liedjie “When I Pray, I Will Pray for You” – en iets het Antoinette laat omkyk. Sy het drie gewapende mans die vertrek sien instorm, en toe staan een in die paadjie langs haar. Pieter het sy hande bo sy kop gelig en toe het die vermeende rower na die kansel gestap en sy wapen teen Kobus se kop gedruk.

Get down, get down,” het hy op die pastoor gegil.

“Ek kan nie; ek is op krukke,” het Kobus geantwoord. Hy moet in die toekoms ’n heupvervangingsoperasie ondergaan. Toe begin die man hom met die wapen oor die kop slaan.

“My eerste gedagte was dit kan mos nie waar wees nie; die kerk is dan juis ’n plek van aanbidding, vrede en veiligheid,” onthou Kobus. “Ek het vir hom gesê: ‘Kom ons gesels hieroor,’ maar hy het aanhou slaan.”

Intussen het die ander twee die sowat 30 gemeentelede van beursies, selfone en juwele beroof en op hulle geskree om op die vloer te lê. Almal het gaan lê en hardop gebid. “Dit het gedruis in die kerk soos almal gebid het,” vertel Kobus.  

Antoinette beaam: “Niemand het uit angs gegil nie. Die kerk was gevul met kalmte en gebed. Daar is op ons geskree om te gaan lê, maar ek het bly staan, my hande na die hemel uitgesteek en ek het kliphard gebid: ‘Here, help ons.’  

“Die voorste rower het die wapen van oom Kobus (soos sy haar stiefpa noem) se kop weggevat, dit op die gemeente gerig en ’n paar treë vorentoe gegee. Toe pluk Pieter sy wapen uit en skiet die man,” vertel sy.

Die gewonde rower en een van sy makkers het toe glo ook op Pieter geskiet, maar hom gemis. Eers toe het Pieter glo die tweede rower ook gewond. Die derde man het die sakke met buit neergegooi en gevlug.

Antoinette kan nie onthou hoeveel skote afgevuur is nie.

Antoinette en ander gemeentelede het toe vir die swaar gewonde rowers gaan kniel en bid

“Dit was nie net een of twee skote nie; die koeëls het gevlieg.” Maar net so skielik soos dit begin het, was dit verby.

Antoinette en ander gemeentelede het toe vir die swaar gewonde rowers gaan kniel en bid.

“Do you know Jesus?” het sy die een by die kansel gevra. “Ek het gesien hoe sy oë net so groot word. Toe bid ek: ‘Jesus, vergewe hom, want hy weet nie wat hy doen nie.’ Ek het vir die ander een dieselfde gaan vra en ook vir sy siel gebid.”

Iemand het ’n veiligheidsmaatskappy gebel wat binne minute op die toneel was. Paramedici het kort daarna opgedaag, maar die twee gewondes het op die toneel gesterf. Benewens ’n tienerseun wat skrams deur ’n koeël getref is, is geen gemeentelid beseer nie.

Antoinette sê die veiligheidskameras buite in die parkeerterrein het die rowers se bewegings vasgevang.

“Vandat hulle die kerk binnegekom het tot die laaste een uitgehardloop het, is presies drie minute se beeldmateriaal. Maar daardie drie minute het soos ’n ewigheid gevoel.”

Een van die mense vir wie Pieter later van die voorval vertel het, was sy eksvrou, die aktrise Marijke Coetser. Nadat Pieter haar verseker het hy en Antoi­nette is ongedeerd, het sy tuis hul seun, Juwan (9), en akteursman, Werner Coetser, vertel.

“Jy voel skoon lam en naar. ’n Mens wil nie dink aan alles wat kon gebeur het nie, maar tog doen jy. Eers later het ek besef: Maar God het hom beskerm. Pieter was ’n held wat sy lewe op die spel geplaas het om ander te beskerm. Dis waarvoor hy gebore is. Ek weet hy sou nooit sommer net ingespring en los­getrek het nie – nie die Pieter wat ek ken nie.”

Pieter het ook self telefonies met Juwan gepraat.

Marijke en Werner het “op hul knieë gegaan en dankie gesê dat Pieter en Antoinette ongedeerd daarvan afgekom het”, vertel sy. “Antoinette is ’n wonderlike vrou vir Pieter, en lief vir Juwan.”

Toekomsdrome 

Dis net ’n paar dae voor die fotosessie en dramatiese kerkskietery toe Pieter en Antoinette openhartig met Huisgenoot gepraat het oor hul geluk en toekomsdrome.

Hy het haar onlangs met ’n pragring verras. “Ek het al die hele troubeplanning op my foon, met foto’s van hoe alles moet lyk,” het sy toe gesê.

Pieter, ’n ervare voormalige polisie­beampte, meen hulle sal hul geldsake mooi moet bekyk. Hy het as bedryfsbestuurder by ’n sekuriteitsmaatskappy in Midrand gewerk, maar sy pos is eers vier maande gevries en toe verloor hy sy werk.

Nou oorweeg hy dit om sy eie landelike veiligheidsmaatskappy te begin.

Sy het altyd gesê as hy eendag met haar wil trou, “sal hy rêrig, rêrig mooi moet vra”, vertel Antoinette. “En hy hét!”

Huisgenoot het verlede jaar berig hoe Antoinette, die bestuurder van ’n mediese praktyk, in Desember 2017 ’n eksemplaar van Pieter se boek, In die skadu van ’n legende, by sy meenthuis in Centurion gaan haal het. In dié boek skryf hy oor die emosionele pad wat hy saam met Joost en MNS gestap het. Antoinette se pa, Johnny Esterhuyse, is vroeër in 2017 ook aan dié verlammende siekte dood.

Ná daardie ontmoeting het Pieter haar met teksboodskappe ondersteun, en maande later het hulle saam gaan eet. Hulle het mekaar ál meer begin sien. Hy was gaande oor haar blougroen oë wat so baie soos sy oorlede broer s’n lyk, en sy liefde vir lekkergoed herinner haar aan haar pa. Die liefde het gou geblom.

Hulle het al ’n paar maande gelede verlowingspraatjies begin maak, en so tussendeur na ringe by ’n paar juwelierswinkels gaan kyk, vertel Pieter oor die aanloop tot die groot vraag.

“Maar haar voorwaarde was dat dit as ’n verrassing moes kom. Toe ek begin uitvis hoe sy haar volmaakte verlowing sien, het sy gesê dit moet baie spesiaal en onverwags wees.”

Intussen het Pieter se ma, Mariana, vir hom en sy broer Gustav elkeen een van haar ringe as geskenk gegee.

Pieter se ma, Mariana, het een van haar ringe aan
Pieter se ma, Mariana, het een van haar ringe aan hom as ’n erfstuk gegee. Dit was die verloofring.

Toe Pieter agterkom hoe gek Antoinette oor die ring is wat hy gekry het, het hy dadelik geweet: Hierdie familie-erfstuk sal dan haar verloofring wees. En omdat hy haar vingergrootte ken, kon hy die ring maklik in die geheim laat kleiner maak.

Hy het eers gaan ouers vra, bevestig Pieter. Antoinette se ma en stiefpa bly juis net om die draai van hulle in Centurion.

Hul verlowing

Toe is dit tyd om sy planne in werking te stel. Hy het voorgestel dat hulle op 11 Julie vir ’n uitstappie na die Hartbeespoortdam-omgewing gaan aangesien hul kinders nie daardie naweek tuis sou wees nie.

Antoinette se kinders uit ’n vorige huwelik, Mikayla (10) en Donné (5), was by hul pa en Juwan was by sy ma.

“Sy kerm nou al lank dat sy wil gaan perdry, en op pad Harties toe het sy dit weer genoem,” vat Pieter die storie oor die verlowing verder. “Toe sê ek: Maar dan moet ons dit sommer vandag doen. Toe speel sy so reg in my kraal.”

Want Antoinette het nie geweet dat hy eintlik reeds met Harties Horse Trail Safaris reëlings getref het en dat die erfstukring boonop in sy sak is nie.

Daar aangekom, het hulle elkeen ’n perd gekry en die gids het hulle op ’n roete vergesel tot by ’n piekniekplek langs ’n dammetjie.

Pieter het Antoinette op 11 Julie op ’n perderit trakteer. Min het sy geweet hy sou op sy knie neersak.
Tydens die fotosessie het die twee hul verrassings
Tydens die fotosessie het die twee hul verrassings­verlowing van twee weke tevore herleef.


Die tafel was gedek met drink- en eetgoed soos vonkelwyn, biltong, sjokolade en pasteitjies. ’n Bos blomme, toegedraai in sellofaan, het die prentjie afgerond.

Hulle het van die perde afgeklim en Pieter het op sy een knie neergesak.

Pieter het Antoinette op 11 Julie op ’n perderit t
Pieter het Antoinette op 11 Julie op ’n perderit trakteer. Min het sy geweet hy sou op sy knie neersak.


“Ek is baie lief vir jou,” het hy gesê. “Ek wil jou vir altyd saam met my hê. Sal jy met my trou?”

Sy het dadelik ja gesê. Toe steek hy die witgoudring aan haar vinger. Dit bestaan uit ’n 1,3-karaat-diamant omring deur 20 klein diamantjies.

Verlief en verloof.
Verlief en verloof.
Hul liefde vir mekaar straal behoorlik uit. Dit vo
Hul liefde vir mekaar straal behoorlik uit. Dit voel spesiaal om mekaar te mag ken, sê Antoi­nette.

Die twee het tot laatmiddag daar langs die dam gekuier tot die gids gesê het dit is tyd vir teruggaan.

Pieter het die oorblywende sjokolade in sy sak gesteek en op sy perd geklim, terwyl die gids Antoinette se blomme vir haar aangegee het nadat sy opgeklim het. Maar toe skrik haar perd en trek daar weg met Antoinette wat verbete vasklou . . .

Sy het die ruiker verloor toe die perd met haar we
Sy het die ruiker verloor toe die perd met haar weggehardloop het.

“Hy het soos ’n resiesperd gehardloop,” vertel sy. “Nou weet ek hoekom karre se krag in horsepower gemeet word. Hy is met my in die bosse in, en ek moes maar die blomme weggooi sodat ek met albei hande kon vashou. Ek het gedink dit is tickets met my as ek nou hier afval. Ek is nou net verloof – is dit nou hoe dit hier gaan eindig?”

Pieter en die gids is agterna, maar skaars 20 m verder het Pieter se voet uit die stiebeuel geglip. “En daar swoeg ek neer. Ek het net op die gids geskree: ‘Gaan soek haar; gaan soek haar!’ Hy het in die een rigting gery, en toe ek weer op my voete kom, is ek in ’n ander rigting.”

Sowat vyf minute later kon Antoinette haar perd onder beheer en eindelik tot stilstand kry.

“Ek het geen idee gehad waar ek is of in watter rigting ek moet gaan nie. Toe skree ek maar vir hulp. Ná ’n ruk hoor ek Pieter antwoord, en daar kom hy en sy perd aangestap. Ek kan sweer hy het gedink hy is my ridder op die wit perd.”

Pieter in ’n speelse bui nadat hy die vraag gevra
Pieter in ’n speelse bui nadat hy die vraag gevra het.

Min het hulle toe kon dink dat hulle die volgende oggend werklik in lewens­gevaar sou wees en dat alles dan in ’n oogwink sou verander.

'Uit ritme'

Ook Heinrich Smit (38), tromspeler in die kerk­orkes, vertel daar was iets onheilspellends in die lug tydens die oggenddiens.

“Die hele atmosfeer was uit ritme. So asof niks wou vloei nie. Ek het met die lofprysing teen die einde my bes gedoen om die ritme te laat optel, maar toe ek weer sien, toe staan die ou voor my met ’n vuurwapen in my gesig. Ek het gedink hierdie kan nie waar wees nie. Ek het yskoud geword.”

Heinrich het sy baadjie oopgemaak om te wys hy het niks van waarde nie.

“Dit is toe dat hy na die pastoor draai. Hy het die pistool na hom gerig om hom op sy knieë te dwing, maar hy wou nie, en toe begin hy hom slaan.”

Heinrich het na almal omgekyk.

“Ek kon die verbouereerdheid op die gemeentelede se gesigte sien, maar almal was kalm. Hulle het hardop gebid.”

Die volgende oomblik het die skote geklap.

“Ek ken vir Pieter en ek ken sy hart. Hy het ’n vriend geword. Ons het nie hiervoor gevra nie,” vertel Heinrich.

Eerste gedreig

Die vooraangesig van die gebou waarin die Querenci
Die vooraangesig van die gebou waarin die Querencia Bediening hul dienste hou.

Rochelle Roets (36) het heel agter in die kerk gesit waar sy die klank en beeld van die diens behartig het. Sy was die eerste wat deur die rowers gedreig is.

“Ons was besig om die diens af te sluit. Ek het agter teen die muur by die tafeltjie met my skootrekenaar gesit. Die deur was toe, want daar het ’n koue wind gewaai. Toe ek omdraai, toe stap hulle in. Die een het eerste na my gedraai en gesê ek moet op my knieë gaan. Ek het dit gedoen met my hande in die lug en hardop begin bid. Dit is toe dat hulle die selfone en goed begin vat.”

En toe begin die skietery.

“Ek het gebid: ‘Here, as dit nou so moet wees, dan is dit so.’ Al wat ek vandag kan sê, is die Here het ons bewaar. Ek het ná die tyd na Pieter toe gegaan en hom so lank en hard vasgedruk; ek wou nie los nie.”

Rochelle vertel die kerk se naam, Querencia, beteken “plek van veilig­heid”.

“Die kerk is veronderstel om ’n plek van veiligheid te wees, soos jou huis. Dit is hartseer dat twee rowers moes sterf. Daar was van ons gemeentelede wat by hulle gaan kniel en vir hul lewe en siele gebid het.”

Later is sy terug kerk toe om haar toerusting te kry.

“Ek het gekyk na die muur, daar waar my rug sou wees . . . Die pleister het oor my rekenaar gespat.”

'Ek is bang'

Eloyse Swanepoel (53) was in die tweede ry van agter, naby die deur.

“Iets het my laat omkyk en toe staan die drie daar met pistole. Hulle het geskree vir almal om plat te lê en stil te bly, maar ons het nie. Ons het net aanhou bid . . . Die pastoor is met ’n pistool geslaan. Dit is toe dat een om die kansel beweeg en die vuurwapen op die gemeente rig en begin skiet.

“Pieter het gereageer,” vertel sy.

“Ek dink aan Pieter, want ek glo dit was vir hom ook erg. Soos ek nou hier sit, is ek bang. As ek my oë toemaak, herleef ek weer alles.”

Kobus sê Pieter, wat tydens sy 20 jaar in die polisie lid van die Oos-Randse blits­patrollie en die onluste-eenheid was en wie se vuurwapen glo gelisensieerd was, “het instinktief opgetree.

“Ek dink dis net iets wat hy tydens sy polisiedae geleer het.”

Die kerk

Die Maandagoggend ná die skietdrama het Huisgenoot ’n draai by die kerk gemaak. In die besige straat buite die kantoorgebou gaan die lewe onverpoosd voort.

Motors snel verby en ’n haarsalon is vol vroue wat lockdown-haardosse wil tem.

Al teken dat hier ’n drama afgespeel het, is ’n speurder met ’n geel baadjie wat aan ’n sigaret staan en teug terwyl hy wag dat die forensiese span opdaag.

’n Bebaarde man stap ons tegemoet. Hy verduidelik hy is die eienaar van die gebou waarin die gemeente hul dienste hou, maar wil anoniem bly.

“Ons wil in hierdie stadium geen kommentaar lewer nie. Dit was vir ons almal ’n traumatiese ervaring. Ons wil graag hê dat die ondersoek afgehandel word. Ons wag vir die forensiese span om te kom en hul werk te doen.”

In ’n stadium kom Pieter ook daar aan. Hy verduidelik vanuit sy groen Jeep dat hy nie met die media mag praat nie.

“Ek is aangesê om niks te sê nie omdat ek myself dalk kan inkrimineer.”

Pieter praat ’n oomblik met die speurder op die toneel voor hy weer ry.

Later vertel Ulrich Roux, sy prokureur: “Pieter was reeds met die polisie in kontak oor die saak. Hangende die ondersoek kan hy nie nou openbare kommentaar lewer nie. Ons glo hy het uit selfverdediging opgetree, asook om die lewe van die pastoor en dié van die ander in die kerk te beskerm.”

  • Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die derde verdagte het in ’n motor gevlug wat buite die kerk geparkeer was. “ ’n Vuurwapen wat vermoedelik deur een van die verdagtes gebruik is, is op die toneel gevind. Dit sal nou ballisties ondersoek word om vas te stel of dit ook moontlik in ander misdaadvoorvalle gebruik is.”

WANNEER IS DIT MOORD EN WANNEER IS DIT NOODWEER?

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sê in ’n voorval soos Pieter s’n sal die polisie waarskynlik ’n dossier open met twee moordklagte en een van poging tot moord.

“Daar is regtig net een verweer wat Pieter in dié geval ter verdediging sal aanvoer en dit is selfverdediging – in die reg bekend as noodweer. Wanneer jy jou op dié regsverdediging beroep en die hof stem saam, sal jy waarskynlik onskuldig bevind word,” sê hy.

“Die definisie van noodweer is wanneer jy jouself of ander beskerm teen ’n onregmatige of dreigende onregmatige handeling. In dié geval was dit rowers wat na bewering self met vuurwapens gewapen was en glo die lewe van gemeentelede bedreig het.”

In geval van noodweer sal die vervolgingsgesag na die volgende aspekte kyk:

“Was dit die enigste redelike optrede binne die omstandighede? Met ander woorde was dit die enigste moontlike uitweg? Daar sal daarna gekyk word of albei partye soortgelyke teenvoeters (wapens) gehad het.

“Die vraag wat ook gevra word, is: Was dit ’n onmiddellike bedreiging?

“Aan die einde van die dag glo ek die dossier sal in ’n geregtelike doodsondersoek om­skep word.”

FOTO'S: LUBABALO LESOLLE, CHANTELLE DU MOND, VERSKAF
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe