Elke aand sou hy na sy bruinkopvrou kyk terwyl sy lê en slaap. Dan sou hy terugdink aan die vrou op wie hy verlief geraak het – die een met die sprankelende glimlag en wonderlike humorsin.

Maar vir die Pretoriase sakeman Philip Swanepoel* (50) het die vrou met wie hy al 20 jaar getroud is ’n vreemdeling geword vandat Susan* (42) aan slaap- en pynpille verslaaf geraak het.

Dit het sy vrou in “ ’n zombie” verander, vertel Philip enkele dae voor Susan in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem is. Sy is al twee keer tevore in psigiatriese klinieke behandel, maar het elke keer weer in haar patroon van verslawing verval.

Tog beskaam die hoop nie dat dit dié keer anders sal wees nie, sê Philip.

“Ek sal nooit ophou baklei vir my vrou nie. Al sê ons kinders ek moet hul ma los.

“Sy vernietig haarself en sy vernietig ons lewe. Sy maak dit hel, maar dan onthou ek hoe sy was . . . en besef ek daar is altyd hoop dat sy dalk eendag weer so slank, pragtig gesond en skoon sal wees.”

Met Huisgenoot se besoek op ’n snikhete somerdag aan die Swanepoels se huurhuis in Pretoria-Noord sit Susan langs haar man op ’n rusbank.

Dis enkele dae voor sy in die sentrum opgeneem sal word, maar sy en Philip besef nog nie een dat hulle op daardie punt afstuur nie.

Philip het kort tevore in ’n aangrypende plasing op Facebook hul verhaal met die wêreld gedeel. Susan se hare is in ’n poniestert vasgebind; sy dra nie grimering nie.

Terwyl Philip die hel van haar verslawing skets, staar sy byna uitdrukkingloos voor haar uit. Die ma van ’n minderjarige dogter en seun lyk lusteloos, moedeloos, uitsigloos.

Philip en Susan was minder as die helfte van hul 20 jaar lange huwelik die toonbeeld van geluk. Selfs hul kinders het hom aangeraai om haar te los. Foto: Verskaf

“Ons het nooit baie geld gehad nie, maar ons was gelukkig,” vertel Philip van die goeie ou dae. “Ons het saam gegim, saam see toe gegaan, saam gelag . . .”

Dit alles het 12 jaar gelede, sowat ’n jaar ná hul eersteling se geboorte, verander nadat Susan neerslagtig begin voel en ’n dokter gespreek het.

“Die dokter het gesê sy lyk ‘ ’n bietjie depressief’ en het haar na ’n psigiater verwys,” vertel Philip.

Dié het bipolêre gemoedsteuring gediagnoseer en vir haar antidepressante, gemoedstabiliseerders en slaappille voorgeskryf.

Sy het dit by verskillende dokters en apteke gekry. Foto: Sharon Seretlo

“Ek het by tye depressief gevoel. Daar was baie onderliggende stres. Dit was seker maar nageboortelike depressie,” vertel Susan saggies.

Sy was toe ’n tuisblyma nadat sy as tandartsassistent gewerk het. Sy het haar man nie destyds van die diagnose vertel nie, en ook nie haar dokter van haar familiegeskiedenis van verslawing nie.

Haar oorlede ma was aan pille verslaaf en haar pa aan pille sowel as drank, vertel Philip nou. ’n Paar maande ná haar besoek aan die dokter het Philip besef iets skort met sy vrou.

“Saans het sy ’n bietjie zombieagtig geraak. Toe een aand betrap ek haar in die badkamer met ’n hand vol pille.” 

Hy was lam van skok, onthou hy.

“Ek dink ek het haar net gevra: ‘Is jy mal?’ en ’n tantrum gegooi.

“Ek was onbewus van hoe sy gevoel het voor sy die pille begin drink het. Sy was soms buierig, maar dit was al.”

Philip sê hy was daarna saam met sy vrou by die psigiater, maar dié het volgehou Susan ly aan bipolêre gemoedsteuring en moet die voorgeskrewe medisyne daarvoor gebruik.

Susan het daarna verskillende huisdokters in Pretoria begin besoek en oortuig om vir haar medikasie voor te skryf, sê Philip.

Volgens hom was dit meestal slaapmedikasie, maar ook pynpille. Sy sou die voorskrifte dan dupliseer en by verskillende apteke indien, sê hy. Susan erken sy het nie by die voorgeskrewe dosis gehou nie.

“Wanneer ek nie kon slaap nie, het ek gevoel ek moet weer vat.”

Met die jare het sy ook antidepressante en gemoedstabiliseerders gedrink, maar dit was aan die voorgeskrewe slaap- en pynpille dat sy verslaaf geraak het.

Sy het later ook kodeïenbevattende pynpille begin misbruik. Dis vrylik sonder voorskrif verkrygbaar. (Sien die kassie.)

'Ek is so sad. Ek wil nie my man en kinders verloor nie'

Selfs tydens haar tweede swangerskap het sy baie pille gedrink, onthou Philip. Sy vrou het haar verslawing met die jare probeer wegsteek, maar Philip het gereeld op die tekens daarvan afgekom.

“Ons het net alewig leë bokse weggesteek in die kas gekry.” Hy sê haar verslawing het vyf jaar gelede veral begin handuit ruk. Susan het geld uit hul onderneming se bankrekening getrek en selfs van hul besittings verkoop om haar verslawing te finansier.

“Dan is dit ’n fiets; dan ’n rusbank; later juwele. Sy het tot haar trouring verkoop.” Hy sê sy het haar ál meer aan hom en die kinders onttrek.

“Ek het haar gesoebat om hulp te kry. Maar sy het volstrek geweier om te erken sy het ’n probleem. Elke dag het dit in ’n rusie ontaard.”

Tydens een van die rusies het sy eenmaal haar pille in die toilet afgespoel, maar die onttrekkingsimptome die volgende dag was byna onhoudbaar.

Dié simptome sou daarna telkens terugkeer wanneer haar pille opgeraak het voor sy weer ’n voorskrif by ’n dokter kon kry, vertel Philip.

Toe sy voorheen twee keer in psigiatriese klinieke vir haar verslawing en depressie behandel is, het dokters haar medikasie probeer aanpas. Maar ná haar ontslag het sy elke keer weer in haar patroon van verslawing verval.

Sy het haar verslawing met die jare probeer wegsteek

Philip het later by dokters en aptekers gepleit om nie meer vir haar die slaap- en pynpille voor te skryf of dit aan haar te verskaf nie. Maar sy sou doodluiters van die een dokter of apteek na die ander gaan om die pille te bekom.

Nadat hy hul lidmaatskap van ’n mediese fonds gestaak het omdat hy dit nie langer kon bekostig nie, het hy steeds probeer om Susan te oortuig om “geleidelik” minder pille te drink, sê hy.

Hy kon dit toe nie bekostig om haar in ’n rehabilitasiesentrum te laat opneem nie. Hy was dikwels bang sy vrou sou op ’n dag ’n oordosis pille neem.

Hoewel sy steeds die huishouding op koers hou, het dit ook ’n uitwerking op sy kinders dat hul ma dikwels in die newels van haar verslawing verdwaal, sê hy. Meteens skiet Susan se oë vol trane.

“Ek is so sad. Ek wil nie my man en kinders verloor nie,” sê sy sag.

“Partykeer . . . partykeer voel ek ek weet nie meer nie. Ek wil net alles beëindig.”

Philip kyk met oë vol vrae na sy vrou. Toe sê sy saggies: “Soms wil ek net hê hy moet met my praat – vir motivering.”

Enkele dae ná Huisgenoot se besoek laat weet Philip daar is eindelik ’n uitkoms. Hy het vir die eerste keer in jare die psigiater genader wat destyds die eerste keer vir sy vrou medikasie voorgeskryf het en haar van haar verslawing vertel.

'My grootste vrees is dat sy sal terugval'

Sy is ’n aandeelhouer in ’n rehabilitasiesentrum en het gereël dat Susan opgeneem en behandel word. Aan Huisgenoot bevestig die psigiater Susan word behandel, maar sy kan vanweë die vertroulikheidsooreenkoms tussen dokter en pasiënt nie daaroor uitwei nie.

Sowat ’n maand later, kort ná Susan se ontslag, vertel Philip sy is “skoon” en op ’n nuwe koers.

Tog erken hy: “My grootste vrees is dat sy sal terugval. Niks keer dat sy ’n apteek binnestap en die pille vra wat haar in ’n zombie verander nie . . .” * Skuilname. 

WANNEER RAAK PILLE VERSLAWEND?

Enigeen kan aan slaap- en pynpille verslaaf raak, maan dr. Cobus Vos, ’n mediese dokter van Somerset-Wes. Slaappille bevat dikwels die aktiewe bestanddeel bensodiasepien.

Nes kodeïen in voorskrifpynmedikasie stimuleer dit die afskeiding van die goedvoelhormone serotonien en dopamien in die brein; daarom kan dit op lang termyn verslawend wees.

“As dokter wil ’n mens verkieslik nie vir ’n pasiënt slaappille vir langer as twee weke voorskryf nie; in die meeste gevalle slegs om die pasiënt deur ’n moeilike tyd te help,” sê hy.

“As jy afhanklik is, voel jy jy kan nie sonder jou pille klaarkom nie. Wanneer iemand die voorgeskrewe dosis oorskry en ál meer pille gebruik, bou hy ’n weerstand daarteen op en sal hy ál meer moet drink om dieselfde uitwerking te kry. Dis ’n bose kringloop,” waarsku Cobus.