“Ons het destyds nie gedink sy sou die eerste aand ná die fratsongeluk oorleef nie,” vertel Anicè Kruger aan Huisgenoot vanuit Stilbaai waar hulle nou woon.

“Maar sy’t ons verkeerd bewys, en deur God se krag en nou amper 10 jaar later, bewys sy ons almal steeds verkeerd,” gesels sy enkele dae ná Pippie verlede Woensdag haar twaalfde verjaardag gevier het.

Pippie het in 2011 erg seergekry nadat ’n bottel vuuraansteekjel tydens ’n Oujaarsaand-braai op die gesin se plaas naby Lephalale in Limpopo ontplof het. Die tragiese voorval het Suid-Afrikaners aan die hart gegryp.

Sy het ernstige derdegraadse wonde aan 80% van haar lyf opgedoen, en met ’n baanbreker-veloorplanting is van haar eie gekloonde vel destyds op haar wonde oorgeplant. Sy het sedertdien oor die 60 operasies ondergaan en rehabilitasie ontvang en toe nóg een aan die begin van die jaar.

“Maar dit gaan goed met ons altyd. Die lewe is te mooi om te kla,” voeg sy by.

Met haar mees onlangse operasie ’n paar maande gelede was daar komplikasies toe ’n bloedgewas in haar nekkie gevorm en die vel geskeur het, maar die wond het intussen herstel, verduidelik Anicè.

Hulle het nie verlede week vir Pippie ’n groot partytjie gehou nie, want kleinboet Arno word op 21 Junie 10, en op 8 Julie word oupa Jan Barnard 70 en tannie Anja Maartens 41. Anicè se familie gaan dus in Julie sommer ’n groot makietie op Naboomspruit vir die vierstuks hou. 

As jy Pippie sou vra hoe oud sy is, antwoord sy: “Nine en drie.”

Sy wou ’n speelgoedgeweer vir haar verjaardag. “Om haar boetie mee te skiet,” skerts Anicè, en voeg dan vinnig by dat hulle nie baklei nie, maar daarvan hou om saam te speel.

“Jy kan nie een van my kinders skeef aankyk sonder dat die ander een kwaad word nie. Jy kan ook nie met een raas nie, dan keer die ander. Hulle kom heeltyd vir mekaar op.

“Pippie is die terroris en Arno is meer chilled. Pippie probeer hom uitlok; trip hom as hy verby loop. Hulle is baie special.”

Anicè het haar koffiewinkel opgegee sodat sy meer tyd by haar kinders kan deurbring, en het nou ’n onderneming, Fiefelstieks, waarvoor sy teddiebere van die huis af maak.

Pa Erwin werk nog as beroepsjagter in Lephalale in die Noorde en hullle bly in kontak via video-oproepe.

Pippie en haar ouers
Haar ouers, Erwin en Anicè.

Dis Anicè se droom om Pippie te kan terugvat Amerika toe sodat terapeute programme vir haar kan uitwerk, maar sy glo dit sal als in “God se tyd” vir hulle uitwerk.

Intussen verwonder sy haar aan die tiener wat Pippie geword het, en erken sy wens soms sy kon haar babatjie terugkry.

Dr. Ridwan Mia by Pippie en haar ma, Anicè op 11 S
Dr. Ridwan Mia by Pippie en haar ma, Anicè op 11 September 2013. Foto: Lubabalo Lesolle

Tog bly Pippie vir hulle ’n groot inspirasie, en het sy die lewe vir hulle makliker gemaak met die uitdagings wat die covid-19-pandemie en inperking aan hulle gestel het.

“Sy kla nooit. Sy raak nie down of depro nie. Sy lag altyd en sien die lewe soos ’n mens dit behoort te sien.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe