Maar min het sy geweet presies hoe waar daardie woorde was toe sy dit in Augustus 2018  vir Huisgenoot neergepen het; en dat die raad wat sy aan ander ouers gee, binnekort ook op haar van toepassing sal wees.

Haar gesin is verlede jaar deur diep waters, vertel Anicè Kruger, ma van Pippie Kruger, aan Huisgenoot. 

Nooit sou sy kon dink dat die hartverskeurende tragedie van Oujaarsaand 2011 – toe ’n bottel vuuraansteekjel haar enigste dogter onherkenbaar gebrand en by die dood laat omdraai het – jare later steeds verreikende gevolge sou hê nie.

Want net meer as ses jaar ná die ongeluk het Anicè besef presies watter impak hierdie tragedie ook op haar seuntjie, Arno, gehad het: Dit het gestalte gekry in die verskriklikste nagmerries en depressie; hy wou saans nie meer slaap nie; hy het in sy dop gekruip en hom totaal van mense vervreem.

“Die trauma op my seun was ongelooflik rof,” sê Anicè vandag aan Huisgenoot.

Pippie
Klein Arno is weer 'n regte woelwater. Foto: Verskaf

“Ek het dit lank vermoed, maar toe ek hom na ’n sielkundige neem, het sy dit aan my bevestig: Arno ly aan depressie, want hy voel absoluut verwerp ná al die jare wat die aandag op Pippie moes fokus.”

Anicè sê sy het aanvanklik nie die gevaartekens gesien nie omdat sy vir lang tye weg van haar gesin in Lephalale weg was omdat Pippie steeds behandeling in Johannesburg ontvang het.

Sy sou met tye elke tweede week in Johannesburg deurbring, en dit sou uiteindelik ’n groot impak op Arno hê, vertel sy.

“ ’n Mens dink die kinders is sterker as wat hulle werklik is. Nou weet ek dit is nie die geval nie. Ek het hom nog altyd van al die dinge wat met Pippie gebeur het en haar behandeling daarna probeer beskerm. Maar hy het meer en meer verwerp gevoel. Dit het vir hom gevoel asof hy sy ma verloor . . . En tot ’n mate het hy ook.”

Die laaste strooi was ’n inbraak by hul huis op Lephalale verlede jaar, sê Anicè. Hieroor wil sy nie veel uitwei nie.

“Ek het heeltemal my kop verloor. Ek het geweet ons moet iets aan die situasie doen – dat ingryping nou nodig is.”

In middel Desember verlede jaar het Anicè, Arno en Pippie toe na hul skoonouers se huis in Stilbaai verhuis. 

Pippie
Arno. Foto: Verskaf

“Drie weke later het ek weer my seuntjie ‘teruggekry’. Ek het gesien hoe hy blom; hoe hy uit sy dop klim en nie meer homself isoleer en in sy kamer toesluit nie. Hy het weer skool begin geniet; hy het weer stoutighede begin aanvang nes seuntjies van sy ouerdom moet doen.

“Hier kan hy in die strate speel en baljaar en ons hoef nie agter slot en grendel te leef nie. Ons beoefen saam karate en Lego-klasse, en ek is weer sy mamma soos in die ou dae.”

Arno kry nie meer nagmerries nie en slaap ook weer in sy eie kamer.

Anicè se grootste trots is dat hy ook nou weer maatjies met sussie Pippie geword het.

“Sy is nie meer ’n bedreiging nie, want mamma gee vir hom ewe veel liefde. Ek het besef ek moet soveel na my seun omsien as na my dogtertjie. 

“Soggens laai ek hom by die skool af. Dan kry Pippie tuisonderrig en haar oefeninge. As Arno tuis kom, is dit sy en mamma se tyd. Saans is dit ons drietjies. En pappa Erwin kom kuier elke ses week vir so week aaneen. 

“Ons weet nie vir hoe lank ons hier gaan wees nie, maar ons weet ons ervaar God se genade elke dag oor en oor.”

Ook sy wat Anicè is deesdae ’n heel ander mens, bieg sy.

“Om elke oggend wakker te word en nie vas te kyk in die plek waar Pips verbrand het nie, is die grootste genesing. Ons elkeen is ander mense – geestelik, fisies en emosioneel.”

Soos sy verlede jaar in haar brief geskryf het: “Die belangrikste om te onthou is dat die voorval niks van julle weggevat het nie en dat elke droom nog waar is.”

Nou is dié woorde ook vir haar waar.