Die tragedie op Oujaarsaand 2011 wat byna die klein Pippie Kruger (toe 1) van Lephalale se lewe geëis het, gryp steeds wêreldwyd die verbeelding aan.

Onlangs is die verhaal van dié moedige brandslagoffertjie se stryd herbesoek in die televisiereeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas op VIA, kanaal 147 op DStv.

Toe ’n soortgelyke ongeluk verlede maand in Port Elizabeth gebeur, het Pippie se ma, Anicè Kruger, ’n brief aan die ouers van die eenjarige Jaydené Croucamp-Bester geskryf.

Dié dogtertjie het ernstige brandwonde opgedoen toe sy aan die koord van ’n elektriese pan getrek en dit warm kookolie oor haar uitgegiet het.

In haar brief aan Ricardo en Jackie skryf Anicè oor haar eie worsteling ná die tragedie sewe jaar gelede en hoe sy eindelik vrede gevind het.

Anicè skryf ’n aangrypende brief aan Jaydené Croucamp-Bester se ouers, Ricardo en Jackie. Foto: Lubabalo Lesolle

Hier is haar roerende brief (verkort):

Liewe mamma en pappa Jaydené Ek ken die eina; die pad wat ’n mens ná so ’n tragedie stap en die wroeging oor die onsekerheid van die toekoms.

Maar ons verhale is nie dieselfde nie en ek kan jul seer nie heeltemal verstaan nie. Die hartseer is dat daar in so ’n geval nie werklik antwoorde is nie; almal se lyfies verskil en elkeen se pad is anders.

Maar die beste raad wat ék kan gee, is om nie die herstelproses aan te jaag nie. Laat haar lyfie die meeste van die genesing self doen.

Die toekoms is waarskynlik vol verwyte en sommer baie trane. Maar deur alles is daar ook die blydskap van haar genesing. Mamma en pappa: Moenie aan negatiewe stories aandag gee nie.

Hou jul fokus op Jaydené en bly deur álles op God gefokus. Moenie die seer in die binnekamers van jul hart hou nie. Kry traumaberading en neem Jaydené sommer saam, al is dit net vir speelterapie.

Onthou die gevare van posttraumatiese stressindroom. Ons almal dink ons kan die ongelooflike trauma sommer self verwerk, maar sewe jaar ná ons tragedie is dit nog net so swaar en seer soos daardie eerste dag.

Moenie julself afskeep nie, want onthou: Daardie klein meisie het julle nodig. Ek kan boeke skryf oor al die produkte wat ons beproef het. Ek stel voor julle gebruik net organiese en natuurlike produkte.

Lees altyd op oor die bestanddele van ’n produk en vra soveel vrae moontlik aan jul dokter. En bly uit die son.

Konstante positiwiteit was vir ons ’n leerproses. Wanneer ek hartseer is, loer ek na Pippie en raak dankbaar dat sy nog met ons is. In die moeilike tye was ons enigste uitkoms altyd God.

Ek het telkemale beter gevoel ná gebed.

Dit het ons lank gevat om nie meer vir God kwaad te wees nie, maar selfs te midde van ons seerste seer het ek op Hom geleun. Ek wil julle verseker: Jaydené gaan perfek wees; selfs al los die brandwonde dalk merke aan haar lyfie. Sy gaan ’n pragtige en perfekte klein meisie wees – een wat elke mylpaal moontlik gaan haal.

Ja, sy is dalk bang, maar mamma en pappa moet nét geduldig wees. Nes ons Pippie, wat selfs ná vyf beroertes nog lewe, ook weer eendag soos ’n normale dogtertjie sal speel en loop.

Met genade gaan dit elke dag beter. Ons verwys na haar vordering as die amper-stadium: Sy sit en kruip amper en neem amper die hele huis oor.

En ons sien uit na die dag wanneer sy nog haar boetie, Arno (7), in die huis gaan rondjaag. Jaydené, mense sal dalk kyk, staar en praat. En soms gaan hulle ook vrae vra.

Moenie toelaat dat dit jou pla nie – al maak dit jou hartjie baie seer. Bly áltyd die pragtige mens wat jy is en bly positief; ek belowe dit word makliker. Die seer verdwyn dalk nie, maar jy leer daarmee saamleef.

Aan Ricardo en Jackie:

Gee julself tyd om daarmee vrede te maak dat die lewe nie onmiddellik ’n weerspieëling is van die drome wat julle gekoester het nie.

Die belangrikste is dat niks van julle weggevat is nie en elke droom nog moontlik is. Huil en baklei saam en help mekaar om die seer te verwerk.

Vertel jul prinsessie presies wat gebeur het – en dat die lewe dalk nou effens anders gaan wees. Moet net nooit toelaat dat mense julle druk om sommer “oor dit te kom” nie.

G’n twee mense verwerk seerkry op dieselfde manier of teen dieselfde pas nie. Onthou, ek is altyd hier. Ek het nie altyd die regte woorde nie, maar het breë skouers en verstaan jul seer en frustrasie soos min ander.

Ek bid saam met julle en wens julle sterkte toe met die herstelpad. Geen twyfel bestaan dat dié dogtertjie eendag groot dinge gaan vermag nie.

Liefde. Anicè

Pippie se storie

Pippie is ’n dapper vegtertjie. Foto: Facebook/Anicè.Kruger
In die jare sedert die ongeluk het terapie gehelp dat Pippie amper weer self kan sit, staan en kruip. Foto: Facebook/Anicè.Kruger

Toe ’n bottel vuuraansteekjel by ’n gesellige Oujaarsaandbraai ontplof, het die lewe van die eenjarige Pippie Kruger en haar gesin binne oomblikke soos handomkeer verander.

Dié meisie het ernstige brandwonde oor meer as twee derdes van haar lyfie opgedoen en telkemale by die dood omgedraai.

By haar chiro­praktisyn, Marius Coetzee. Foto: Facebook/Anicè.Kruger

Sy was sowat ses maande in die hospitaal en het verskeie veloorplantings ondergaan met vel wat spesiaal in Amerika gekloon is.

Pippie het sedertdien intensiewe rehabilitasie ondergaan en die agtjarige is vandag, sewe jaar ná die tragedie, tuis in haar ouerhuis in Lephalale.

Sy kan al verskeie woorde sê.

Die storie van klein Jaydené

Die eenjarige voor die fratsongeluk. Foto: Verskaf
Klein Jaydené het brandwonde oor ’n derde van haar lyfie opgedoen. Foto: Verskaf

Op 15 Julie vanjaar het die eenjarige Jaydené Croucamp-Bester ’n elektriese pan met warm kookolie oor haar uitgegiet toe sy die pan aan sy koord van die kas af trek.

Sy was drie weke lank in die hospitaal, en byna ’n maand ná die voorval lyk dit of die eenjarige amper weer haar ou self is, vertel haar ma, Jackie.

Hoewel klein Jaydené nog nie soos voorheen kan rondbeweeg nie omdat haar lyfie nog seer is van die brandwonde en boonop in verbande toegedraai is, is sy nie meer so stil en leweloos soos kort ná die voorval nie.

“Dit was die grootste skrik wat ons nóg beleef het,” sê Jackie.

“Ek en Ricardo het albei geweet daar is ’n kans dat ons haar kon verloor. Vandag is ons dankbaar dat die Here haar vir ons gespaar het.”

Jaydené het sedert die ongeluk al veloorplantings aan haar bors, maag en bobeen ondergaan. Jackie sê dokters was aanvanklik bekommerd dat die vel aan haar bors septies sou raak, maar sy is glo sedert die eerste week van Augustus buite gevaar.

“Jaydené het infeksie in haar longe opgedoen omdat die brandwonde baie diep was. Dié infeksie kan moontlik terugkeer; daarom klou ons maar vas aan ons geloof,” sê Jackie.

Jaydené moet later vandeesmaand ’n veloorplanting aan haar nek kry. Dis hopelik haar laaste, maar dit hang van haar herstelproses af.

“Ná die operasie lê nog ’n lang pad voor, maar ons probeer mooi vir haar verduidelik dat alles oukei gaan wees – en dat sy nog presies net so ’n mooi dogtertjie soos voorheen is, selfs al gaan sy letsels aan haar lyfie hê. Sy is ná haar drie weke in die hospitaal ongelooflik bang vir dokters. Sy huil verskriklik erg elke keer wanneer ons verby ’n dokter loop of wanneer ons ’n spreekkamer binnegaan. Ons probeer haar maar paai met iets om te eet en deur vir haar te sê dit gaan binnekort verby wees.”

Jackie sê sy het oor die afgelope weke waardevolle raad van Anicè gekry oor hoe om haarself op die toekoms voor te berei.

Sy wil die jong Jaydené leer om eendag haar letsels soos ’n kroon te dra.

“Dit sal altyd ’n teken van haar innerlike krag en God se genade wees.”

  • Kyk nuwe episodes van Huisgenoot: Ware Lewensdramas elke Donderdagaand om 20:00 op VIA, kanaal 147 op DStv. Heruitsendings word Sondae om 21:00 uitgesaai.