“Dis baie sagter op Wynandt se verbrande vel as die materiaal vir pressure garments wat ’n mens in Suid-Afrika kry,” vertel Lelani Vermaak, Wynandt se ma, oor die foon uit hul nuwe huurhuis in Bellville. “Daar is silikoon, wat sagte druk op die vel uitoefen, ingebou. Dis supersag en rekbaar,” vertel sy. Sy nuwe vel groei nou “wild”, vertel Lelani.


"'n Pakkie van Pippie aan Wynandt!!!! Dankie Anice Barnard Kruger." Lelani Vermaak Foto: Facebook

Wynandt het in ’n brand vroeg Vrydagoggend 7 Julie brandwonde aan 60% van sy lyf opgedoen toe hul huurhuis in Boston, Bellville, aan die brand geslaan het. Lelani het haar voete verbrand toe sy Wynandt en sy sussie, McKenzie (5), uit die vlamme gered het.

Pippie was twee jaar oud toe sy op Oujaarsaand in 2011 derdegraadse brandwonde aan 80% van haar lyf opgedoen het toe ’n bottel vuuraansteekjel gedurende ’n braai in haar pa se hande ontplof het.

Lelani het nadat Wynandt ná vyf weke uit die hospitaal ontslaan is vir Anice gekontak op Facebook en raad gevra oor sy jeukerige vel wat nou begin gesond raak. Sedertdien praat hulle byna elke dag, vertel Lelani.

Anice sê onder meer dat die vel lank gaan vat om gesond te raak. “Julle moenie haastig wees nie,” het sy gesê.

Wynandt moet ook suiker, aartappels en ander kos met gluten uitsny. Dit laat ook die vel jeuk. Hulle wil graag Desember by Pippie-hulle gaan kuier in Stilbaai as die gesin daar gaan vakansie hou. “Dis nou as Wynandt so ver met die kar kan ry.”

“My vel is besig om te jeuk,” vertel Wynandt oor die foon. Verder is sy gemoed baie positief. Sy ma gee hom darem pilletjies wat van natuurlike middels gemaak is om die jeuk “binne vyf minute te laat ophou”.
“Dis ook nie vir my lekker dat ek nie kan sport doen nie. My pelle het darem gereeld vir my kom kuier. Maar hulle is nou besig met toetse,” vertel hy.

Wynandt gaan in Januarie volgende jaar weer terug na die Hoërskool D.F. Malan in Bellville. “ ’n Tannie help my om skoolwerk op te vang en ’n vriendin bring vir my klasnotas,” vertel Wynandt.

“Die skool is fantasties en e-pos vir my werkstukke,” sê Lelani. “Ons het ’n wiskundejuffrou wat hier na die huis toe kom sodat hy weekliks kan opvang. Volgende jaar gaan sy ook die wiskundepad met hom stap.”

Wynandt sien intussen daarna uit om weer saam met sy maats op die skoolbanke te wees.