Die EWT se Conservation Canines is aan die voorpunt van die bewaringstrust se stryd teen onwettige wildhandel – hoogs opgeleide, doeltreffende, sterk honde met hope stamina. Toe Pirate se pad in 2018 met dié van dr. Edward Evans kruis, sou niemand kon dink die siek, uitgeteerde weggooihondjie sou eendag lid van dié gedugte bewaringspan word nie.

Foto: Endangered Wildlife Trust
Foto: Endangered Wildlife Trust

Pirate se ma is uit die oostelike Midrand-omgewing met bosluiskoors by hom aangebring, vertel Edward, oftewel Ed soos die meeste mense hom ken. En so kom hy toe ook te wete van haar oorblywende tien maande oue kleintjie wat net aan sy lot oorgelaat is . . . met ’n gebreekte been, erg verswak en uitgeteer. Op ’n manier het hy egter die parvovirus, gewoonlik dodelik vir oningeënte kleintjies en wat reeds al sy sibbe geëis het, tot in daardie stadium oorleef. In sy toestand het hy het geen verkoopswaarde of nut vir sy eienaars gehad nie. Hy is ook nie juis gevoer nie en bloot verwaarloos. 

“Hy was verskriklik maer en het een been half agter hom aan gesleep. Sy maag en derms was vol sand. Omdat hy so honger was, het hy sand geëet benewens stukkies oorskiet wat hy kon vind,” vertel Ed.

Pirate sou stellig nie veel langer kon vasbyt nie, maar gelukkig kon Ed sy eienaar oorreed om hom in sy sorg te laat. En daarna het hy met die regte sorg, “heelwat TLC, ontwurming en inentings net geblóm. Die krediet moet gaan aan die outjie self met sy wil om te oorleef,” vertel Ed aangedaan.

Ed het in Pirate – wat sy naam te danke het aan die effense hink wat hy aanvanklik gehad het in sy been wat weer aangegroei het – die kenmerkende veggees en geesdrif van ’n Conservation Canine gesien, meen EWT, wie se sorg en opleiding hom verder laat gedy het.

Hy het sy basiese gehoorsaamheidsopleiding met groot ywer begin, en met sy opvallende entoesiasme, fokus en natuurlike vermoë by spoorsny-oefeninge, was dit gou duidelik: Dít was waarvoor hy gebore is.

Foto: Endangered Wildlife Trust
Foto: Endangered Wildlife Trust

Oor dié Belgiese herdershond se temperament en persoonlikheid sê Megan Murison, ’n woordvoerder van EWT: “Sy dapperheid, deursettingsvermoë en vertroue in sy hanteerders het hom ’n hardwerkende hond met baie selfvertroue help word. Hy is altyd baie gretig om te werk en mal oor spoorsny. En hy is altyd vasbeslote om sy taak te voltooi; hy gee nie maklik op nie.” 

Pirate is ’n spoorsnyhond, opgelei om stropers te vind sodat hulle in hegtenis geneem kan word, beduie Megan. “Ná ’n suksesvolle spoorsnytog word hy met ’n speelding (waarmee hy grootgemaak is) beloon.”

Maar aangesien Conservation Canines nie daagliks met stropery-voorvalle te make het nie, “is daar ook baie gewone dae wat opleiding en die patrollering van omheinings en paaie behels. Op patrollie kan die hond dan ook ’n reuk of tekens bespeur wat sy hanteerder nie gewaar nie – wat ’n aanduiding kan wees dat ’n stroper daar verby is. Die hanteerder ken sy gedrag goed genoeg om te weet wanneer om hom te volg.

“Andersins is Pirate baie vriendelik met mense, en hy kan ook ondeund wees as hy die dag wil. Hy speel graag met sy hanteerder en hy is mál oor sy Kong!” Dis nou die rubberspeelding waarmee hy grootgeword het.

Pirate het vroeër vandeesmaand sy grootste toets sover saam met sy hanteerder, Shay Seebran, ondergaan. Die roete was langer en die reukspoor ouer as enigiets wat hy voorheen aangedurf het, maar die twee het met vlieënde vaandels geslaag, en is oorgehaal om stropers in hul spore te help stuit.

Foto: Endangered Wildlife Trust
Foto: Endangered Wildlife Trust

Conservation Canines soos Pirate kan byvoorbeeld sleutelitems in die wildlewe-sluikhandel soos renosterhoring, ivoor en ietermago-huidskubbe uitsnuffel. Sommiges, soos hy, word ook opgelei om wapens en ammunisie uit te wys.

Hulle word op strategiese plekke dwarsoor Suid-Afrika se private en nasionale parke uitgeplaas waar hulle die grootste bydrae kan lewer teen stroop- en smokkelbedrywighede.

Een van Pirate se soort, ’n 11-jarige Belgiese herdershond genaamd Killer, was byvoorbeeld verantwoordelik vir die opsporing en inhegtenisneming van meer as 200 stropers in die Krugerwildtuin voordat hy verlede jaar dood is.