Sonja Smith Funeral Group van Pretoria het ’n nuwe initiatief geloods en beloon nie-rokende werknemers met drie ekstra dae verlof. 

Die Sonja Smith Funeral Group bestaan uit sewe franchises, maar dié beleid is net geldig vir die net meer as 20 werkers in die hoofkantoor in Centurion. 

Volgens Sonja Smith, die besturende direkteur, hoop hulle om produktiwiteit te verbeter en om gesonde lewenskeuses by hulle werknemers aan te moedig. 

“Ons staan soms by met lykskouings en ons sien eerstehands wat rook aan mense doen. Die teer in die longe is regtig erg om te aanskou. Nie-rokers voel ook soms dit is onregverdig omdat hulle baie minder breuke vat as rokers wat twee tot vier keer per dag gaan rook,” verduidelik sy. 

Die uitvoerende direkteur, Louis Pretorius, wat ook ’n arbeidsprokureur is, vertel ses mense in hulle hoofkantoor het nog in Augustus gerook. 

“Drie het opgehou en twee Vape. Daar is net een roker wat besluit het om nie nou op te hou nie,” vertel hy. 

 Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maar tel ’n elektroniese sigaret?

“Ja, ongelukkig moet hulle geen dampie maak om vir die ekstra drie dae te kwalifiseer, maar dit is al ’n stap in die regte rigting,” sê hy. 

Hy benadruk dat dit ook ’n moeilike beleid kan wees om te implimenteer, omdat mense ook nie daarvan hou om te voel hulle word voorgeskryf deur hulle werkgewers nie. 

“Ons werknemers het altyd die minimun voorgeskrewe verlof van 15 dae ontvang en sedert September is alle nie-rokers s’n na 18 dae vermeerder,” sê hy. 

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie sterf bykans 8 miljoen mense per jaar van siektes verwant aan tabak-gebruik. 

Die inisiatief is egter niks nuuts nie.

 Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

’n Maatskappy in Japan het al in 2017 besluit om hul nie-rokende werknemers met ekstra verlofdae te beloon.

Volgens The Independent gee die maatskappy Piala Inc. ses dae ekstra vir hul nie-rokende werknemers. In dié maatskappy het nie-rokers gekla dat hul rokende kollegas tyd mors en nie so produktief is nie. 

Sonja het die berig gelees en gedink dit klink na ’n blink idee. 

“Dit het die saadjie by my geplant en toe ek met Louis praat het hy dit met ope arms verwelkom.” 

Sonja en Louis moedig ander maatskappye aan om dieselfde te doen. 

“Ons weet nou nie regtig al of produktiwiteit verbeter het nie, maar daar is meer mense by hul werkstasies en op die ou end glo ons gesonder werknemers sal op die lang duur ook goed wees vir die maatskappy,” sê Louis.