Dinsdag is Wêreldgeestesgesondheidsdag en ons gesels met ’n man wat probeer om sy verslawing te oorkom.

“Mense dink om aanlyn bietjies-bietjies te dobbel is nie skadelik nie, maar as jy geneig is tot verslawing, soos ek, gaan jy ál dieper wegsink in ’n moeras van skuld,” vertel Johan* (41) van Kaapstad.

Hy het selfs by sy vrou en kliënte geld gesteel om die verslawing te voed. Maar nie almal wat aanlyn dobbel raak verslaaf nie, gee hy toe.

“Ek vermoed ek is reeds van universiteit af verslaaf. My ding was om sportweddenskappe aan te gaan,” vertel hy. En net soos ander verslawing is dit die adrenalien-inspuiting wat hom gedryf het om ál meer waaghalsig te raak met hoeveel en waarop hy wed.

Ek het grootgeword in ’n huis waar gereeld gedobbel is

Met die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Engeland in 2015 het hy in die wedstryd tussen die Bokke en Japan gewed ons teenstanders gaan wen. En toe gebeur dit ook. Met een punt. Hy het R7 000 op die spel geplaas op ’n web-dobbelplek en R80 000 gewen. “Dit was die grootste enkele bedrag wat ek tot nog toe gewen het,” vertel hy.

Dit was natuurlik olie op die vuur, want toe begin hy hom as onoorwonne sien.

“Jy raak arrogant en dink jy het magiese kragte. Jy kan die stelsel lees. Ek het byvoorbeeld rugbyspanne se vorige punte bestudeer en ’n patroon probeer raaksien sodat ek kan voorspel hoe die opkomende wedstryd se punte gaan lyk,” sê hy.  

“My oom het sy drome ontleed om vas te stel watter nommers om te speel in die lotery. Ek het grootgeword in ’n huis waar gereeld gedobbel is. My pa en ooms het graag perde gespeel. Dobbel was die nommer. As klein tjokkertjie het my pa my ’n wenperd laat probeer kies.“

Johan weet nie of sy verslawing geneties is of dalk aangeleerde gedrag nie. Daarom neem hy deel aan die navorsingstudie van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Kaapstad (sien onder).

“Terwyl jy dobbel, vergeet jy al jou probleme. Ek het nie meer omgegee dat my onderneming in die moeilikheid is nie.”

Johan het as finansiële adviseur van sy huis af gewerk. “Ek het gedink ek was goed daarin. Ek het gereeld geld gemaak. Binne ’n paar dae R380 000, dan verloor ek weer tot ek net R2 000 oor het.

My verslawing het my weggeneem van my werklikheid

“Ek het elke keer tussen R6 000 en R8 000 op ’n slag verwed; tot 15 keer per dag. In die aanlyn weddery kan jy wed op enige soort sport ter wêreld. Ek het op enige sportsoort gewed; van rugby tot voetbal.

"Dit het so mal geraak dat ek selfs op iets soos handbalwedstryde in Amerika begin wed het. Wat de hel weet ek van handbal af,” sê hy en lag. Hy het tussen vier en vyf ure per dag aan aanlyn dobbelary bestee.

Toe sy geld uitgeput is, het hy begin steel: R30 000 uit sy vrou se spaarrekening en R670 000 uit ’n kliënt se trust oor ’n tydperk.

Sy vrou het agtergekom en met die skeisaak begin. Sy kliënt het ’n jaar gelede ’n saak by die polisie aanhangig gemaak. Hulle het buite die hof geskik dat hy die geld terugbetaal.

“My verslawing het my weggeneem van my werklikheid. Soos met ander verslawings was my brein deurweek met dopamien – ’n goedvoelhormoon.”

Hy het vergaderings gekanselleer en nie oproepe beantwoord nie.

Sy tuisonderneming het die onderspit gedelf. Maar sy verslawing het ook veroorsaak dat hy sy 16-jarige stiefseun en 41-jarige vrou afgeskeep het. Hy en sy eksvrou ken mekaar al 11 jaar. Hulle het vyf jaar saam gewoon en was een jaar getroud toe hulle in Februarie skei.

Johan het een van sy skootrekenaars, sy iPad en meubelstukke begin verkoop om sy huur te betaal en kos op die tafel te hê. Hy moes eers verlede jaar sy “rock bottom” bereik voor hy vir hulp aangeklop het.

Hy het The South African Responsible Gambling Foundation gekontak en hulle het gereël dat hy by ’n steungroep en sielkundige uitkom. Hy drink anti-depressante. Sy ergste onttrekkingsimptoom is depressie, vertel Johan.

Hy is nou agt maande “skoon”. “Dobbel is ’n slinkse verslawing; stilletjies. Dis nie soos alkoholisme of dwelmverslawing waar die mens dronk of onder die invloed is nie. Jy kan dit wegsteek vir jou geliefdes en eers wanneer dit te laat is, vir hulp gaan."

Johan se raad is: “Wees wakker en moenie toelaat dat dit jou bekruip en vang nie."

  • Die Menslike Navorsingsraad se Unit on Risk and Resilience in Mental Disorders, 'n navorsingseenheid van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Kaapstad (UVK), is tans besig met 'n navorsingsprojek wat “tik”-gebruikers insluit onder leiding van profs. Christine Lochner (US) en Dan Stein (UVK). Hoewel die projek nie 'n behandelingskomponent insluit nie, kan assesserings opgevolg word met bespreking van behandelingsopsies en gepaste verwysings. Die projek behels die insameling van inligting oor onder meer deelnemers se mediese agtergrond, die aard, verloop en erns van hul verslawing, die aard en mate van die inperking as gevolg daarvan, hul huidige breinfunksionering (vasgestel met take en breinbeelding, indien hulle hiervoor kwalifiseer) en die neem van 'n bloed-/speeksel-monster vir die onttrekking van genetiese materiaal (DNS), vir navorsingsdoeleindes. Alle deelnemers moet regshandig en tussen 18 en 65 jaar wees. Vrywilligers moet verkieslik ook op geen psigiatriese medisyne wees nie. Indien u meer inligting wil hê of wil deelneem, kontak prof. Christine Lochner by e-pos: cl2@sun.ac.za of vir Edrich Rall by e-pos: edrichr@sun.ac.za of 021-938-9762. Die studie benodig ook die deelname van gesonde kontrolepersone (sonder enige huidige psigiatriese probleem) met wie die inligting van pasiënte vergelyk kan word.

Is jy ’n dobbelslaaf?

  • Het jy enige beroepsgeleenthede, studie of verhouding laat skade ly weens dobbel?
  • Het jy geld geleen, iets verkoop of ’n onwettige aktiwiteit oorweeg om jou dobbelary te finansier?
  • Het jy leuens vertel oor die ware rede vir jou geldelike probleme?
  • Het jy al dikwels vergeefs probeer om op te hou dobbel?
  • Spog jy met die geld wat jy gewen het, maar is jy vaag en ontwykend oor die geld wat jy verloor het? Maak jy verskonings en voer swak redes aan vir iets soos afwesigheid by die werk?

Gevaartekens en hulp

Dobbel kan jou lewe vernietig, sê dr. ST Potgieter, ’n Kaapse sielkundige wat met baie verslaafdes werk. Roberto het homself nie as dobbelaar beskou nie, maar as wetenskaplike. Dit het die probleem verdoesel.

“Eers as jy erken jy is ’n dobbelslaaf, kan jy gehelp word,” sê ST.

Daar is baie raakpunte tussen verslawing aan dobbel en aan ’n dwelm soos kokaïen. Jy sukkel om die verslawing te beheer of af te skud. Jy ontken jou probleem, kan bedruk raak en wisselende buie beleef.

Dobbelaars het dikwels ’n swak selfbeeld, is behep met rituele en smag na onmiddellike bevrediging van hul drange. Baie verslaafdes het skuldgevoelens, beland in ’n geldkrisis of neem hul eie lewe. Hulle het ook ’n slegte uitwerking op ander, soos ’n lewensmaat en kinders.