Die Kaapse cabaret-kunstenaar het toe vroeg in 2016 besluit om die groot stap te doen en ’n geslagsoperasie te ondergaan. Vandag praat sy openhartig oor die groot lewensbesluit.

Hoe oud was jy toe jy die eerste keer besef jy is in verkeerde liggaam vasgevang?

Wanneer ek nou terugkyk, voel dit of ek altyd geweet het. Ek het baie lank vir ander geleef. Ek het gedink as ek hulle nie die waarheid wys nie, sal hulle my meer aanvaar, maar as ek die waarheid praat, sou hulle my minder liefhê. Ek het hard gewerk om nie my “scent of a woman” (as kind) af te gee nie.

Xavier Koopman voor sy Tiara Harwoord geword het.

Wanneer het jy besluit van geslag te verander?

Die gedagte was altyd daar, maar ek was bang dit sou mense om my seermaak. Toe ek my man ontmoet, was ek baie openlik oor my planne. Ek wou seker maak die mense om my verstaan. Nadat ek in 2015 getroud is, het my regte lewe begin. By binnelandse sake werk hulle nog daaraan om my nuwe geslag reg op my ID aan te dui. Maar ek weet die geslag is verander; dit is nou net my naam wat moet verander.

Wat was jou ouers en vriende se reaksie?

My vriende het eers grappe daaroor gemaak; ek dink nie hulle het gedink ek sal dit nie regtig doen nie. My man, ma en suster was op die dag van my operasie by die kliniek. Dit het vir my so baie beteken, want ek is seker dit was vir my ma moeilik. Sy het nie dit beplan toe sy my verwag het nie. Hulle drie was die enigste mense wat ek tydens my herstelperiode gesien het.

Selfs my pa het my die afgelope jaar laat voel asof hy trots is op my en die lewe wat ek vir myself gebou het, en dit beteken baie. Al sê hy dit nie.

Kyk mense jou soms skeef aan? Wat is van die snaaksste goed wat hulle al kwytgeraak het, en hoe voel jy oor dié uitlatings?

Mense kyk my al my hele lewe skeef aan. Dit is soms baie ongemaklik en soms steur ek my nie daaraan nie. Ek het besef dat die krag oor hoe dit my beïnvloed, lê by my. Soms kan ek nie help om sleg te voel nie. “Moffie” sal altyd ’n sekere gevoel by my wek.

Hoe sy nou as Tiara Harwood lyk.

Watter raad sal jy vandag aan jou jonger self gee?

Begin jouself aanvaar. Glo in jouself, want alles begin binne jou. Droom groot en gaan doen dit. 

Wat het jy deur die hele proses van jouself geleer?

Ek is nogal baie sterk.

Is jy nou gelukkig? Hoe voel jy oor die nuwe jy?

Ek is.  Dit voel of ek so lank gesoek het na aanvaarding. Ek aanvaar myself, en dis al wat saak maak.

Watter raad het jy vir ander lesers wat dieselfde paadjie as jy wil loop, maar dalk nie die moed het nie?

Absoluut niks is fout met jou nie en jy is belangrik. Ek weet dinge is nie altyd so maklik nie, so as jy met familie sukkel, kry iemand wat kan help. Die Pride Shelter en Triangle Angle Project is altyd daar om te help. Beplan dit en laat dit gebeur.

Neem jy aanstoot wanneer mense na jou as ‘hy’ verwys?

Soms. Ek probeer om nie gekrenk te voel nie, veral wanneer dit familie of ou vriende is. Ek wil nooit die herinnerings wegneem wat ons deel nie. Dit raak my ook nie meer so baie wanneer ander mense dit doen nie.

Wat moet mense nie vir jou vra of sê nie?

Ek is baie openhartig met mense wat wil leer. Dit hang ook af wat die bedoeling agter die vraag is.

Waar en wanneer het jy jou man ontmoet?

Ek het my man vier jaar gelede by ’n kroeg ontmoet.  Dit was ’n goeie aand. Ek en hy het nie ophou praat nie. Ek het geweet hy ken my, hy kan my sien.

Wanneer en waar het julle getrou?

Op 24 Oktober 2015 in Houtbaai by Monchique. Dit is ’n baie mooi plek. Dit was een van die beste dae van my lewe.

Hoe voel hy oor jou gedaantewisseling?

Hy is baie ondersteunend. Ek kon nie ’n beter man vra nie. Hy verstaan my.

Hoe voel jy oor die verandering?

Ek voel baie trots. Trots daarop dat ek iets gedoen het wat ek regtig wou.

Tiara is 'n bekende Kaapse kabaret-kunstenaar.

Beplan julle om kinders te hê? En indien wel, watter proses sal julle  volg om die droom te bewaarheid?

Hy het kinders uit ’n vorige verhouding. Hulle is sy lewe en ’n groot deel van ons s’n ook. Die gedagte van nog kinders is ’n droom. Aanneming of surrogaatskap is ons enigste opsies.

Vertel ons oor jou cabararet-loopbaan saam met die groep 3D?

Ek het 3D in 2015 verlaat. Ons was toe al vyf jaar saam, maar die balans met die res van my lewe was nie reg nie. Ek het ander goed afgeskeep.

In 2016 - nadat die ander dames in die groep, Angel Lalamore en Kat Gilardi, ’n jaar saam met my plaasvervanger gewerk het - het my gedaantewisseling begin.

Wanneer ek in die omgewing was, het ek baie by die meisies ingeloer. Dit het gevoel of ek hulle in die steek gelaat het, maar glo nou dit was ’n goeie tyd vir almal om te groei. Toe hulle my vra om terug te kom, het ek besef 3D is ons drie se baba, en ons moet dit saam deursien.  

Vertel ons nog oor die Absolutely Fabulous Drag Show by Kunstekaap-teater wat julle onlangs opgevoer het?

Dit was so ’n groot voorreg om deel te wees van die Kunstekaap-teaterproduksie. Dit het ook op die regte tyd gekom. Ek was een van die vyf cabaret-kunstenaars wat ons storie op die verhoog kon vertel.