Lank voor die hartseer dag toe leukemie by sy driejarige dogtertjie gediagnoseer is, het Justin van Wyk en sy vrou, Karen, reeds ’n diep medelye gehad met kankerlyers en kinders wat terminaal siek is.

As uitvoerende hoof van Big Concerts, wat al groot name in die musiekwêreld soos One Direction na Suid-Afrika gebring het, het Justin gereël dat twee terminaal siek aanhangertjies en hul gesinne dié gewilde mansgroep se lede agter die skerms by een van hul optredes hier in 2015 ontmoet.

En nou veg sy eie klein Annabelle self teen ’n dodelike siekte.

“As kanker by jou kind gediagnoseer word, word jy met die dood gekonfronteer. Dit word ’n werklikheid. Jy kan kanker nie met al die geld in die wêreld omkoop of wegkoop nie,” sê Justin (36).

Op drie en ’n half het die dood ook al vir sy Annabelle meer as net ’n moeilike konsep geword. Vir haar ma, Karen (32), het sy gesê: “As ek dood is, moet mamma ’n baba hê en haar Stella noem."

“Jy hoor altyd van kinders met kanker en dink nie dit sal ooit met jou gebeur nie,” sê Karen, wat Big Concerts se sosiale projekte behartig.

Benewens die Reik na ’n Droom-stigting, wat terminaal siek kinders se drome help bewaarheid, is hulle ook al lank betrokke by die Sonneblomfonds, wat beenmurgskenkers werf.

“Ons het nie gedink ons dogtertjie sal dit (’n beenmurgskenking) dalk eendag nodig hê nie,” voeg Karen by.

Nadat Annabelle ses maande lank gedurig in die hospitaal was om chemoterapie te ontvang, is haar leukemie nou in remissie.

Toe die dogtertjie met ’n vriendelike “hallo” by die gesin se ruim huis in Kampsbaai, Kaapstad, kom groet, is al sigbare teken van haar kankerstryd die kort donshaartjies op haar kaalgeskeerde koppie.

‘Ek kon nie asem kry nie. Ek wou nie aan die ergste dink nie’

Al lyk sy op die oog af na ’n sorgelose kleinding, is sy gedwing om vinnig groot te word, sê haar pa hartseer. “Terwyl ander kinders van haar ouderdom in parkies speel, het sy in die hospitaal met ’n drup gelê.”

Hulle het aan haar verduidelik sy het kieme in haar bloed en moet medisyne daarvoor kry. Dit was vir die ouerpaar hartverskeurend toe sy vra wat sy verkeerd gedoen het om siek te wees.

“Ek vertel vir haar sy is spesiaal en dapper, en net dapper kinders kry suigstokkies,” vertel Karen.

Wat die pyn vir Karen selfs nog erger maak, is dat sy haar suster Annelien Gouws op 16 aan leukemie verloor het.

“Ons was die afgelope ses maande op autopilot,” sê Karen oor die moeilike tyd sedert die groot K sy skadu oor hul gesin gegooi het.

Sien jy Annabelle in haar kamer met haar poppe speel, is dit moeilik om te glo ’n kankerstryd het al deel van haar werklikheid geword.

Die eerste teken was toe sy verlede jaar uit die bloute begin mank loop. Kort daarna, op 13 Oktober, het Karen swart en blou kolle onder haar dogtertjie se vel op ongewone plekke soos haar kuite, bobeen en maag asook rooi kolletjies op haar bene opgemerk.

Ná ’n internetsoektog het sy tot die slotsom gekom dit kan moontlik kanker wees en het sy Justin dadelik gebel.

“Ek kon nie asem kry nie,” onthou Karen. “Ek wou bloot nie aan die ergste dink nie.”

So this just happened..... best pappa bear in the hood?? @justinvanwyk

A post shared by karenvw (@karenvw) on

Sy het foto’s van die kolletjies geneem en vir haar dokterswaer, Johan Loots, in Bloemfontein gestuur.

“Met jou familiegeskiedenis stel ek voor jy vat haar dadelik hospitaal toe,” het hy gesê.

Sy en Justin is toe met Annabelle na die MediClinic in die Tuine, waar ’n traumadokter bloed getrek het.

Tweeuur die volgende oggend het die dokter en die hoofbestuurder van die hospitaal hulle van Annabelle se bed weggeroep om die skoknuus oor te dra: Dit kan ’n virus in haar ruggraat of leukemie wees. Later daardie dag, 15 Oktober, toevallig Justin se 36ste verjaardag, het ’n beenmurgbiopsie bevestig dis leukemie (bloedkanker).

“Dit was ’n ‘veels geluk’ van die lewe af,” merk hy droogweg op.

Karen se ouers, André (69) en Ronel (66) Gouws, het dadelik uit Bloemfontein Kaapstad toe gevlieg. Dit was ook vir Justin se ouers, Attie (66), die stigter van die suksesvolle Big Concerts, en Isa (64), van Hermanus ’n groot skok.

“Grootouers verwag nie om ’n kleinkind teen kanker te help veg nie,” sê Justin.

Annabelle is oorgeplaas na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad, waar ’n paneel dokters die amptelike diagnose gemaak het: B-sel-akute limfoblastiese leukemie.

Boetie en sussie in haar kamer saam met hul geliefde hond, Bentley. Foto: Jacques Stander.

Sy moes dadelik met behandeling begin. Gedurende die lang dae en nagte in die hospitaal het dit die Van Wyk-egpaar opgeval hoe die ouers van die jong pasiënte saamstaan.

Hulle vertel organisasies soos Childhood Cancer Foundation South Africa ondersteun ouers wat van so ver as die Klein-Karoo en Oos-Kaap kom. Hulle sorg vir slaapplek, ’n warm stort, koffie en muffins.

“Jy kan nie glo hoe belangrik hierdie dinge raak nie,” sê Karen. “Ons wil meer betrokke raak en sorg dat mense weet hulle kan ’n kind se lewe red deur hulself te registreer om beenmurg te skenk, en dit sal hulle nie ’n sent kos nie. Dit is deesdae ’n relatief pynlose en vinnige proses soos bloedskenk.”

Ná die kankerbehandeling is Annabelle se immuunstelsel nou verswak; daarom moet hulle keer sy word siek.

“Ons huis is vol ontsmettingsmiddels,” sê Justin. By haar kleuterskool weet die ander ouers hulle moet die Van Wyks waarsku as ’n kind verkoue of masels het, want dit kan Annabelle se dood beteken.

“Ons kon dit die eerste ses maande nie waag om met haar by ’n parkie tussen kinders te gaan speel of haar na kinderpartytjies te neem nie.

"Hoewel die risiko nou laer is omdat die kanker in remissie is, bly ons daarvan bewus dat haar immuunstelsel verswak is, maar ons kan haar ook nie van die lewe weghou nie,” sê Karen.

Ouboet Adrian (6) is baie beskermend teenoor sy kleinsus en volg haar soos ’n skaduwee saam met hul golden retriever, Bentley. Hulle probeer hom so normaal moontlik grootmaak en neem hom nie saam hospitaal toe nie.

Wedding time???? #Jenske #wedding

A post shared by karenvw (@karenvw) on

Wanneer sy sussie vir behandeling gaan, pas familielede hom op. “Hy weet sy sussie is siek, maar in hierdie stadium hoef hy nie meer as dit te weet nie,” sê Karen.

Hulle leef nou van maand tot maand tot Annabelle weer vir toetse of behandeling moet gaan. Intussen stroom duisende boodskappe van ondersteuning van hul wêreldwye netwerk van beroemdes en hul agente in.

Justin het met sy werk by Big Concerts immers al van die bekendste sangers ter wêreld ontmoet – van Justin Bieber, Lady Gaga en Pharrell Williams tot Lionel Richie, Santana, Tina Turner, U2, Neil Diamond en Roxette.

Maar tussen alles deur dink hy aan kinders wat nie so gelukkig soos Annabelle is om ’n goeie mediese fonds te hê nie.

Saam met sy kontakte in die musiekwêreld beplan Justin “ ’n baie spesiale konsert” teen die einde van die jaar om die lewe vir ander siek kinders ’n bietjie makliker te help maak.

Want die Groot K diskrimineer nie, en elke gebaar van liefde, sorg en omgee kan die wêreld se verskil in ’n jong lewe maak.