Die vrou, wat in die 1980's en 90's as sowel sangeres, aktivis en politikus ’n groot aanhang in Suid-Afrika geniet het, het Woensdag bekendgemaak sy is deur ’n bekende in sportkringe verkrag. 

In haar blog vertel sy die #metoo-veldtog het haar intens geraak. Vir haar gaan dit oor die miljoene mense wat nie hul wonde met die hutsmerkie deel nie. Sy noem hulle die ware stemloses.

Vir haar gaan dit ook oor die pad na genesing. En dit het haar 24 jaar geneem om sover te kom om daaroor te praat.

Dit het gebeur by 'n sportgeleentheid in die Oos-Kaap.

Die 'aangename en vermaaklike man'

Die aand was ’n sukses. Toe word sy deur ’n man genader wat ’n geselsie met haar aanknoop. Hy was aangenaam en vermaaklik. Hy het haar vir ’n drankie genooi, maar sy wou eers iets anders gaan aantrek.

Hy het saam met haar in die hysbak geklim en gesê hy sal vir haar wag. Sy noem dat sy effens kriewelrig daaroor gevoel het nadat hy haar hotelsuite saam met haar binnegegaan het. Sy het hom versoek om in die sitkamergedeelte van die suite te wag.

Sy het haar kamerdeur agter haar toegemaak om te verklee. Maar toe maak hy die deur oop.

Wat daarop gevolg het, het haar in ’n totale toestand van skok en pyn gelaat. Verward, sê sy. 

Nadat die “aangename en vermaaklike” man haar kamerdeur oopgestoot het, het hy haar vasgegryp en op die bed neergedruk.

“Hy het my oorweldig en pynlik verkrag. Dit was waarskynlik binne 20 sekondes verby, maar het soos ’n leeftyd gevoel,” beskryf sy die oomblik wat haar lewe sou verander.

Sy is deur vrae oorweldig wat soveel slagoffers van verkragting hulself waarskynlik afvra: Moes sy harder gegil het?; moes sy harder terugbaklei het?; het sy ’n aandeel daaraan gehad?

Het sy die man weer gesien? Ja, die volgende oggend in die hotel se ontbytgebied. “Hy het verdwyn die oomblik toe ek daar aankom.”

Sy het hom daarna gereeld raakgeloop.

“Hy het my nooit in die oë gekyk nie.”

Hoekom nou daaroor praat?

Sy sê in ’n mate gaan dit daaroor om begrip te kweek vir hoe moeilik dit vir slagoffers kan wees om na vore te kom en daaroor te praat. 

Ons moenie blameer word nie. Ons is nie skuldig aan enigiets nie.

“Daar’s altyd ’n drukstuk van skaamte en verkeerd doen, die gedagte dat dit jou ‘skuld’ was. En ek het dit nie meer in my lewe nodig nie."

Diegene wat misbruik oorleef het, moenie langer enige skaamgevoelens daaroor hê nie. “Ons moenie blameer word nie. Ons is nie skuldig aan enigiets nie.

“My verkragter het my as ’n voorwerp vir sy treurige behoefte aan mag en verwronge bevrediging gebruik. Ek was nie ’n mens vir hom nie.”

Sy sê daar is ’n verwronge kultuur van misbruik waar mans in leierskapsposisies met mag toevertrou word.

Ek weet daar is baie van ons.

“Ek maak dit nie bekend om wraak te neem op hom of miljoene Suid-Afrikaanse mans soos hy nie.

“Ek doen dit sodat ons mekaar kan help om dapper te wees, daaroor te praat en dat die genesing kan begin omdat ons agterkom ons is nie alleen nie.

“Ek weet daar is baie van ons.”

Die vrou het haar dank op haar Facebook-blad uitgespreek vir die steun wat sy ontvang.

Sy het ook verskoning gevra dat sy nie die verkragting aangemeld het nadat dit plaasgevind het nie.

“Ek vra uit die diepte van my hart verskoning aan enige vrou of jong meisie wat deur dié man misbruik kon wees as gevolg van my medewerking met die sameswering tot stilswye.”

Sedert sy haar storie gedeel het, het talle mense op haar Facebook-blad haar bedank vir haar moed om daaroor te praat. Verskeie sê dit gee hulle ook die moed om nou oor hul eie ervarings te praat. 

Een mens sê dit het hom gehelp om sy molesteerder ná 42 jaar te konfronteer. ’n Ander vertel ’n grootouer het hom as sewejarige gemolesteer.


Is jy 'n slagoffer van geweld teen vroue en kinders?

Hierdie organisasies kan jou help:

  • Famsa (landwyd): Bel 011-975-7101, e-pos: national@famsa.org.za of besoek famsa.org.za vir inligting en hulp
  • Lifeline (24-uur): 0861-322-322
  • POWA (People Opposing Women Abuse): 083-765-1235 of gaan na powa.co.za vir meer inligting en hulp
  • Legal Aid South Africa: 0861-053-425 of besoek legal-aid.co.za vir bystand
  • Rape Crisis: 011-642-4345/021-447-9762
  • SA Polisie-noodnommer: 10111