Maar nadat sy in November verlede jaar ’n lewensveranderende borsverkleiningsoperasie ondergaan het, het dié woorde van haar 12-jarige seun, Fawaz, soos musiek in haar ore geklink: “Ek kan uiteindelik weer vir my ma ’n drukkie gee.”

Ons gesels met Camilla wat op die herstelpad is ná haar groot operasie.

“Ek voel 10 kg ligter. Dis ’n onbeskryflike gevoel. Ek het gekrimp van ’n 5XL T-hemp tot ’n 2XL. Ek hoef nie al daardie gewig rond te dra en die pyn te hanteer nie.”

Haar borste het 14 kg geweeg en aanhou groei, maar haar mediese fonds het geweier om vir die operasie te betaal.

Toe vertel die voormalige model en danser ons in September 2019 kanker is by haar gediagnoseer. Maar in plaas van gevul wees met vrees, was sy bly omdat die diagnose beteken het sy sou uiteindelik die groenlig kry vir die operasie wat sy desperaat benodig het.

Camilla (37) het in November verlede jaar ’n bilaterale mastektomie by die Lenmed-hospitaal in Kimberley ondergaan. Hoewel sy nog ondraaglike pyn ervaar, is sy dankbaar om van die swaar gewig ontslae te wees.

“Kanker het my lewe gered, want eers toe ek kanker kry, was die mediese fonds bereid om vir die operasie te betaal,” sê sy.

Ten spyte van die verligting ná die operasie staar Camilla steeds beduidende gesondheidsuitdagings in die gesig. Vanweë die ingewikkeldheid van die operasie moes sy vier dae in die intensiewe sorgeenheid wees. Sy is fyn dopgehou omdat haar liggaamsmassa-indeks nie ná die operasie op ’n veilige vlak was nie, wat veroorsaak het dat sy herhaaldelik flou geval het. Sy het voor die operasie 138 geweeg en agterna 120 kg.

Camilla Neelse. Foto: Argief

Sy is daarna oorgeplaas na ’n standaardsaal vir ses weke waar sy weer moes leer loop.

“Dit was omtrent ’n ervaring. Soos om ’n fliek te kyk. Dis steeds so ongelooflik. Ek het ná die operasie baie keer flou geword. Die chirurg het gesê dit was oor die groot verandering in my liggaam.”

Camilla voel op ’n manier sy het ontslae geraak van een siekte net om met talle meer opgesaal te word. Sy het sedert die begin van Desember onophoudelike vaginale bloeding ervaar en het in Februarie ’n histerektomie ondergaan. En dokters het vir haar gesê vanweë al haar komplikasies is daar ’n hoë risiko dat haar kanker kan versprei.

“Ek het ’n paar mediese komplikasies wat deur die borstoestand veroorsaak is. My bene het verswak. Die spesialis het my na ’n neuroloog verwys omdat hy vermoed ek het geknypte senuwees. Ek sukkel met sit, staan en selfs om op my eie te loop. As ek val en ’n been breek, gaan dit ’n groot terugslag vir my wees.”

Sou ’n rolstoel haar nie dalk gemakliker maak nie?

“Dis uiters frustrerend om in ’n rolstoel te wees, want ek verkies of probeer om in beheer van myself te wees. Ek hou nie daarvan om rondgestoot te word nie. Dit laat my nog slegter voel.

“En omdat ek vir vyf jaar orale kankerbehandeling gebruik het, moet ek op my eie rondbeweeg omdat die behandeling bloedklonte kan veroorsaak.”

Watter verskille het sy sedert die operasie opgemerk?

“Ek het baie meer beweeglikheid. Ek kan op my eie beweeg, maar nie vir baie lank nie. Ek kan nie op my eie trappe klim nie. En daar is geen kuur vir my verswakte bene nie.”

Camilla se toestand het ongelukkig nie net haar loopbaan beïnvloed nie – sy was ’n ontvangsdame voor die siekte – dokters het haar ook nou medies ongeskik vir werk verklaar.

Dit het ook haar verhouding met haar man van ses jaar, Nazeem Neethling (37), beïnvloed. Hy moes in 2018 sy werk as petrolstasie-bestuurder opgee om na haar om te sien. Hy het onlangs ’n tydelike werk by ’n skrootwerf gekry wat die pot aan die kook hou.

“Dit het ons sekslewe geraak. Om intiem te verkeer, was ’n reuse uitdaging omdat ek gedurig in pyn verkeer het en bloot niks gevoel het nie. My man het nooit gekla daaroor nie. Hy sê hy moet die pot aan die kook hou en het begin tydelike werk doen.”

Ten spyte van Fawaz se blydskap dat hy sy ma kan omhels, sê Camilla sy kan die bekommernis in die jong seun se oë sien wanneer hy na haar omsien terwyl sy pa werk.

Dan is daar die mediese rekeninge wat ophoop omdat die mediese fonds nie haar medikasie vir fibromialgie en artritis dek nie, ook nie haar besoeke aan spesialiste nie.

“Dis belaglik dat ek elke maand moet kies tussen kos en medikasie koop.”

Camilla het tesame met haar vriende, Nazeem en Shouneez Anderson probeer om skenkings te ontvang deur Gigantomastia SA, die organisasie wat sy begin het om bewusmaking te skep oor die toestand en ander in haar posisie te help. Ongelukkig het dit nog geen fondse opgelewer nie, maar hulle bly hoopvol.

Sy tel haar seëninge. En gereelde besoeke aan die sielkundige het haar gehelp.

Camilla neelse
Sy kon skaars haar jas se knope vasmaak. Foto's: Verskaf en Emile Hendricks

“Meeste van die spesialiste is verbaas dat ek nie depressief is nie. Ek het sedert my diagnose ’n sielkundige geraadpleeg. Dit het my help besef dat niks oornag gebeur nie. Ek het gedink ek sou basiese normale goed ná ses weke tuis kon doen, maar dit was ongelukkig nie moontlik nie.”

Sy het haar hoop op die operasie gevestig en gehoop al haar pyn sou verdwyn en dat sy ’n nuwe lewe sou kon begin.

“Ek het gedink ek sou nie in soveel pyn verkeer as die groot borste weg is nie; dat ek weer behoorlik sou kon slaap. Ek het werklik gedink my lewe sou oornag terugkeer na normaal. Maar my sielkundige het my help vrede maak met die feit dat dit baie meer as ses weke gaan verg.”

Camilla verstaan dat die lewe onvoorspelbaar is, maar glo vas jy kan dit beïnvloed en dis hoekom sy doelwitte vir 2020 gestel het: Probeer om so gesond as moontlik te wees sodat sy ’n goeie ma vir haar seun en vrou vir haar man kan wees. En dít beplan sy om een dag op ’n slag aan te pak.