Regter Nolwazi Boqwana het Donderdag die effektief gevangenisstraf van 18 jaar opgelê: 13 jaar vir moord en sewe jaar (waarvan twee jaar opgeskort is) vir kindermishandeling.

Laché Stols was net drie jaar oud toe sy op 23 Januarie 2012 herhaaldelik deur haar stiefma, Anthea Kleynhans (toe 33), aangerand is.

Kleynhans, self ’n ma van drie, wou haar “straf” omdat sy haar broekie vuilgemaak het. Laché se pa, Angelo Stols, was by die werk toe die tragedie hom tuis in Blackheath naby Kaapstad afgespeel het.

'Ek was nie by my positiewe nie'

Maar Kleynhans was vies. Sy wou glo nie na Laché bedags omsien nie omdat sy die drie maande sedert sy en Stols saam ingetrek het, deur ’n baie slegte tyd gegaan.

Die weerlose dogtertjie is met die hand, ’n lyfband en ander voorwerpe aangerand. Hoe lank die aanranding geduur het, is onseker. Kleynhans het erken sy was té besope om die gevolge van haar dade te besef.

Kleynhans het na bewering drie groot Black Label-biere, 500 ml vodka en sap en nog 500 ml whiskey en water gedrink.

“Ek was nie by my volle positiewe toe ek haar geslaan het nie,” het sy in haar pleitverduideliking aangevoer.

Nadia Ajam, die staatsaanklaer, het op 9 Oktober 2017 Kleynhans se pleitverduideliking sterk bevraagteken.

Ajam het gesê Kleynhans was nie totaal besope nie en dat sy haar besopenheid nou gerieflik voorhou.

“Sy onthou dat sy die bierglas uitgespoel het, die lyfband (waarmee sy vir Laché aangerand het) skoongevee het en Laché se klere gewas het.”

Terwyl regter Nolwazi Boqwana haar uitspraak op 24 Oktober gelewer het, het Kleynhans saggies sit en huil.

Boqwana het bevind daar was wel ’n bedoeling aan die kant van Kleynhans om Laché dood te maak.

Sy het die 38-jarige Kleynhans skuldig bevind aan moord vanweë die aard en omstandighede waaronder Laché gesterf het.

Dit behels onder meer dat Kleynhans nie dadelik hulp ontbied het toe sy nie vir Laché kon wakker maak nie en sy het ook haar dade probeer verdoesel.

Kleynhans is ook skuldig bevind aan kindermishandeling.

Vervolging moontlik

Stols mag ook moontlik vervolg word. Boqwana het bevind sy getuienis was nie heeltemal die waarheid nie. Sy het aangedui dis onmoontlik dat hy nie van Laché se mishandeling bewus was nie, veral omdat verskeie familielede hom daarvan vertel het.

Stols en Kleynhans het aanvanklik beweer Laché het aan breinvliesontsteking gesterf.

Eric Ntabazalila, die Wes-Kaapse nasionale vervolgingsgesag-woordvoerder, het gesê kindermoorde neem onrusbaar toe in die Wes-Kaap. Die NVG het ’n spesiale taakspan saamgestel wat hulle beywer om skuldiges aan die pen te laat ry.

So is Laché mishandel

Die patoloog, dr. Karisha Quarrie,het ou en nuwe wonde op Laché se liggaam gevind. Van die beserings is deur ’n stomp voorwerp veroorsaak. Om net ’n paar te noem:

  • Haar bo- en onderlip was gesny
  • Kneuswonde aan haar nek
  • Haar voorarm was gebreek
  • Veelvuldige slaanmerke op haar rug en boude
  • Twee ribbes wat voorheen gebreek is
  • Brandmerke aan haar voete
  • Sy het 'n gebreekte skedel gehad

Bronne: iol.co.za, ewn.co.za, son.co.za