Aan die anderkant van die telefoon hoor jy Thinus Vorster se stem breek en sy rou snikke klink op van die diepste hartseer wat hy al ervaar het.  

“Dit gaan regtig nie goed met ons nie.”

Thinus se jongste kind en enigste seun, Hugo (8), is Dinsdag ná ’n fratsongeluk oorlede nadat ’n knipmes deur sy hoofnekslagaar gesny het.

Die agtjarige Hugo Vorster wat Dinsdagaand in n fr
Die agtjarige Hugo Vorster wat Dinsdagaand weens ’n fratsongeluk oorlede is. Foto: Verskaf

Die rooikop-plaasseuntjie van Hoopstad in die Vrystaat het glo ’n knipmes in die gesin se bakkie gevind.

Die mes was glo lank soek en Hugo het dit gekry tussen die agtersitplekke waar dit ingeval het. 

Hugo se ouers, Thinus en Santie, boer met skape en beeste in die distrik. Hy en sy suster het Dinsdagaand net ná ses saam met hul ouers in die bakkie geklim en na die weivelde toe uitgery waar Thinus na die vee omgesien het.

Hugo het glo agter in die bakkie gesit toe hy saam met sy ma en suster vir sy pa gewag het.

Hy het toe glo die mes tussen die sitplekke gekry en homself per ongeluk daarmee in die nek gesteek.

“Hy het met die mes gespeel,” sê Thinus. 

“Daardie mes kon in 50 ander plekke op sy klein lyfie gesteek het, maar toe tref dit ’n slagaar.”

In minder as 10 minute het hul “huppelende, gelukkige plaaskind” voor sy ouers gesterf. 

Die Vorster gesin boer met skape en beeste buite H
Die Vorster-gesin boer met skape en beeste buite Hoopstad. Van links, voor is Hugo, Uné en Mia. Agter staan hul ouers, Santie en Thinus. Foto: Verskaf

“Ons almal huil net. Soggens en saans. Gisteraand het ek gedink ek het nie meer trane binne my oor nie . . .”

Weer kan die pa sy trane nie keer nie.

“Ek is moeg gehuil. Om daardie klein lyfie van amper ’n meter lank voor jou te moet sien stil lê, leweloos. 

“Hy beweeg nie, jy weet hy is dood, maar steeds wil jy hom in jou arms optel en huis toe vat net sodat jy die volgende dag hom darem kan sien.”

Thinus moes sy seun gister by die staatslykhuis gaan uitken.

“Ek het my kind nie herken nie . . . hy was só koud,” kry hy dit reg om saggies te uiter.

“Maar toe ek my hand om sy gesig sit, toe weet ek hy is by die Here. Sy siel is by Hom.”

"My seun was 'n lewenslustige, liefdevolle plaasseun wat elke keer vir jou 'n drukkie gegee het wanneer hy jou sien," vertel Thinus. Foto: Verskaf

Dan bly Thinus ’n rukkie stil voor hy sê: “Ons leef in die laaste tye, en ’n geliefde kan binne ’n oomblik van ons weggeneem word. 

“My seun se dood was nie verniet nie. Een oomblik was hy nog daar, die volgende is hy weg. Ek wéét hy is by God, maar is jou saak met die Here reg? Want niemand word môre gewaarborg nie.” 

Thinus sê hoewel hy groot waardering het dat hy, sy vrou en hul twee dogters, Mia en Uné, deur die gemeenskap in hierdie tyd gedra word, weet hulle die moeilikste tyd lê nog voor. 

“Ons as gesin moet aanvaar dat Hugo nie meer daar gaan wees nie, dat hy nie voor ons sal grootword nie.

“Ons moet vir hom totsiens sê.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe