Die man, wat slegs as mnr. Huang van Sanxisang in die suidelike provinsie Guangdong in China geïdentifiseer is, se vrou, mev. Huang, het hom as vermis aangemeld nadat sy die plaaslike polisiekantoor gekontak het.

Dit kom nadat sy boodskappe ontvang het wat haar man se vermeende ontvoerders vanaf sy foon gestuur het.

 “Is jy Huang se vrou? Hy skuld vir ons 20 000 renminbi (sowat R42 000). Bring dit vir ons of jy sal hom nooit weer sien nie,” het die boodskap gelui.

Mev. Huang sê sy was bekommerd oor haar man se veiligheid, maar het nie dadelik die losprys betaal nie, omdat sy vermoed het dis ’n verneukspul.

In foto’s van die gesprekke vra sy ontstelde vrou: “Laat ek hom sien, en dan sal ek jou betaal. As ek hom nie kan sien nie, hoe weet ek of hy dood is of leef?”

Ontvoerde man
Die owerhede het ná ’n intensiewe ondersoek bevind die man se ontvoering was ’n skelmstreek. Foto: Magazine Features

Sy het twee dae gewag voor sy nog boodskappe ontvang het – dié keer was daar foto’s van mnr. Huang met sy hande en voete vasgebind en sy mond toegestop. 

Die owerhede het egter ná ’n intensiewe ondersoek bevind die man se ontvoering was ’n skelmstreek en dat hy inderwaarheid in ’n hotel oorgebly het toe hy kamtig ontvoer is.

Kringtelevisiebeelde het ook gewys hoe hy vrylik rondloop en dat hy nie teen sy sin aangehou is nie.

Toe die polisie uiteindelik vir mnr. Huang opspoor, het hy erken hy het sy vrou om die bos gelei sodat sy geld kon stuur en hy sy skuld kon betaal.

Die man is 10 dae tronkstraf en ’n boete van 500 renminbi (sowat R1 000) vir ’n openbare orde oortreding opgelê.