Heidi Scheepers,kinders,vermis,Heroldsbaai
Ettienne en Hedi Scheepers van Heroldsbaai in die Suid-Kaap in gelukkiger dae. Foto: Facebook

Dis egter nog net gerugte, vertel kapt. Malcolm Pojie. Dis ook net 'n gerug dat daar drie liggame gevind is. ’n Ander gerug is dat Heidi en haar twee kinders, Cuzette (6) en Hugo (2), van Heroldsbaai buite George in die Suid-Kaap, Dinsdagmiddag die laaste keer op Heroldsbaai se strand gesien is.

Hulle het nooit by die huis opgedaag nie en het in ’n silwerkleurige Volkswagen Caravelle gery.

Die soektog is Donderdagoggend met eerste lig "voortgesit", voeg kapt. Pojie by.

Heidi Scheepers,kinders,vermis,Heroldsbaai
Ettienne en Heidi Scheepers en hul kinders Cuzette (6) en Hugo (2). Foto: Facebook

’n Gebreekte ruit en die binnekant van ’n motordeur se paneel is Woensdag naby Voëlklip, ’n gewilde hengel- en uitkykpunt naby Heroldsbaai, gevind. Die polisie kon nie bevestig of die stukkende dele van die Caravelle afkomstig is nie, vertel kapt. Pojie.

Donderdagoggend was die pad na Voëlklip steeds gesluit en het verkeersbeamptes die ingang afgesper en beman, berig Netwerk24.

Die Heroldsbaai Kafee, wat besit word deur Heidi se man, se deure was vroegoggend oop. Sy het na verneem word nie haar selfoon saamgevat nie en ook nie enige ekstra items soos bottels vir haar kinders nie. Huisgenoot het haar selfoon gebel. Dit lui net.

Haar man, Etienne, antwoord ook nie sy selfoon nie en het ook nie op Huisgenoot se boodskappe vir kommentaar gereageer nie.

Heidi Scheepers,kinders,vermis,Heroldsbaai
Ettienne en Heidi Scheepers met hul dogtertjie Cuzette (6) toe sy nog 'n baba was.

’n Vrou by sy kafee het die landlyn-telefoon opgetel. Al wat sy wou sê, is: “Daar is geen inligting hier nie. Ek weet nie van iemand met wie jy kan gesels nie."

Heidi bestuur volgens haar en haar man se webtuiste verskeie vakansie-eiendomme. Hul dogtertjie, Cuzette, is met Down-sindroom gebore.

Nuus van Heidi en haar kinders se verdwyning het soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei. Heidi se Instagram-profiel is privaat. Sy het net drie volgers en haar profielfoto is van haar en haar gesin. In haar profielbeskrywing skryf sy: "Geseënd met die beste, dankie Here Jesus. Ek is lief vir my man en ons twee kindertjies".

Op haar Facebook-blad pryk ook talle foto's van haar en haar gesin. 

Volgens haar man, Ettienne, se Facebook-profiel doen hy ook opknappingswerk. Die pa van twee het op 6 Oktober ’n inskrywing gedeel wat lui: "Wees gelukkig met die bietjie wat jy het. Daar is mense wat steeds glimlag al het hulle niks".

Ná sy vrou en kinders se verdwyning het mense hulle na sy Facebook-blad gewend en gedeel dat hulle saam bid dat sy gesin veilig opgespoor word.

"Ek bid saam en vertrou en glo hulle word gou veilig gevind," het een laat hoor.