Betty Ketani, wat op 37 verdwyn het. Foto: Argief
Betty Ketani, wat op 37 verdwyn het. Foto: Argief

Dis soos ’n klassieke cold case in ’n forensiese misdaadriller met die een kinkel ná die ander: die dubbele ontvoering en moord van ’n Gautengse vrouesjef; ’n verdoemende brief onder ’n mat 12 jaar later; stukkies verbleikte mensbeendere; twee polisiebroers wat 17 jaar ná die moord tronkstraf kry . . .

En vandag, ’n volle 22 jaar ná die gewelddadige dood van Thandiwe Betty Ketani in 1999, is die drama steeds nie uitgespeel nie.

Die broers David en Carel Ranger – twee van ses veroordeeldes in die saak – se skuldigbevinding aan ontvoering en strafbare manslag is in 2019 deur ’n volbank appèlregters omgekeer.

Maar nie voor albei agt jaar agter tralies was nie – volgens hulle sonder dat hulle skuldig was aan die misdaad. Hulle is só getraumatiseer nadat hulle tussen geharde misdadigers opgesluit is, sê die broers, dat hulle nou skadevergoeding van die nasionale vervolgingsgesag wil eis.

David (nou 46) was ten tyde van sy destydse inhegtenisneming en skuldigbevinding in 2015 ’n polisiesersant met 18 jaar diens. Carel (nou 47) het toe pas in die sekuriteitsbedryf begin werk, maar was voorheen nege jaar in die polisie.

Die twee hou vol hulle was onskuldig aan Betty se lot en dat hulle onregverdig in die tronk moes boet tussen dieselfde soort misdadigers wat hulle destyds help aankeer het.

David moes in die tronk glo aanskou hoe een lummel met ’n ketting sy selmaats se koppe oopslaan.

“Ek moes heeltyd oor my skouer kyk en het selfs in ’n man vasgeloop wat ek tydens ’n huisbraak in die lip geskiet het. Gelukkig het hy my nie herken nie,” vertel hy aan Huisgenoot.

“As polisiesersant het ek baie lelike dinge gesien, maar die angs vir die geweld en gedurige gevaar in die Sun City-tronk naby Soweto het my gebreek.

“Ek het alles verloor,” vertel David Ranger, ’n vo
“Ek het alles verloor,” vertel David Ranger, ’n voormalige polisieman wat agt jaar agter tralies was, maar nou vrygespreek is. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images

Ook Carel was voortdurend angstig in Pretoria se Kgosi Mampuru II-tronk – veral nadat hy herken is deur ’n rower wat hy voorheen vasgetrek het. Dié het gelukkig nie wraak geneem nie.

Die broers hou vol hulle is destyds onskuldig opgesluit nadat hul name in die gewraakte “belydenisbrief ” genoem is. En hoewel hulle nou op vrye voet is, sit hulle glo met erge geestelike letsels.

Albei broers se huwelike is daarmee heen en hulle kry nie werk nie. Volgens die broers se regsverteenwoordiger, Natascha Pretorius, sou ’n dagvaarding rakende die skadevergoedingseis kort ná ons druktyd aan die staat bestel word.

David wring aanhoudend sy hande terwyl hy op Mosselbaai, waar hy deesdae woon, vertel hy sukkel met posttraumatiese stres nadat hy in die tronk was.

“Die Liewe Vader behoede my deur my nie te laat droom nie. Dis glo ’n verdedigingsmeganisme vir polisielede.”

Die 37-jarige Betty het by die Cranks-restaurant in Rosebank, Johannesburg, gewerk toe sy in 1999 spoorloos verdwyn het. Die volgende 12 jaar lank was die saak onopgelos.

Daai brief

Toe, vroeg in 2012, kom die oënskynlike deurbraak: ’n Brief word tydens “roetineonderhoudswerk” onder ’n mat in die Johannesburgse huis van ene Conway Brown ontdek.

In die brief word beskryf hoe Brown en vyf ander mans deur die “bestuur” van die restaurant gehuur is om Betty te ontvoer en te vermoor.

Volgens die brief het die mans haar aangerand en vir dood langs die R59 buite Vereeniging gelaat. Verbygangers het haar egter lewend aangetref en na die Vereeniging-hospitaal geneem.

Maar Brown en sy makkers het daarvan te hore gekom, haar glo uit die hospitaal ontvoer en hul bose werk afgehandel.

Carrington Laughton in die hof. Hy is steeds agter
Carrington Laughton in die hof. Hy is steeds agter tralies. Foto: Gallo Images/The Times/Alon Skuy

Weens die brief se ontdekking is Brown, Carrington  Laughton, Paul Toft Nielsen, Dirk Reinecke en die twee Ranger-broers in hegtenis geneem.

Dit was ’n ingewikkelde saak aangesien die brief die vernaamste getuienis was. Ses stukkies mensebeen is by Brown se huis opgegrawe, maar is nooit bo alle twyfel as Betty s’n uitgeken nie.

Die hof het later bevind haar moordenaars het haar beendere opgegrawe en in die Kliprivier en op ’n munisipale vullisterrein gestort.

Die briefskrywer se handskrif is deur ’n kenner as Brown s’n geïdentifiseer. Maar die verhoor het ’n beduidende wending geneem toe Brown, Nielsen en Reinecke ingevolge ’n pleitooreenkoms vir vyf jaar tronk toe gestuur is.

Laughton en die Ranger-broers het volgehou hulle is onskuldig en is afsonderlik verhoor. In Februarie 2016 – nadat die eerste drie teen hulle getuig het – is hulle skuldig bevind en vir agt jaar tronk toe gestuur nadat hulle toe reeds al jare in aanhouding was.

'n Goeie daad gaan nie ongestraf, glo

Vandag sê Carel aan Huisgenoot hy het Laughton destyds wel deur “ ’n gemeenskaplike vriend” geken. En hy bevestig Laughton het in die tyd toe Betty in die Vereeniging-hospitaal was by sy huis opgedaag en aanwysings na die hospitaal gevra.

David, wat die dag by Carel was, het toe glo saam met Laughton soontoe gery. Maar volgens hulle is dit al wat gebeur het.

Die broers het vanuit die tronk teen hul skuldigbevinding geappelleer, en in 2019 het die appèlhof bevind die bewyse teen hulle was onvoldoende.

Die tronkdeure het oopgeswaai, maar geestelik, vertel hulle, is hulle steeds in kettings.

Hier op Mosselbaai – waarheen hy ná sy vrylating getrek het om ’n “skoon breek” te maak – google David nou sy eie naam. “Kyk,” sê hy: Die eerste artikel wat opduik identifiseer hom en sy broer Carel as Betty se moordenaars.

Hy tik Betty se naam langs sy eie en kliek weer: 917 soekresultate. “Ons het al ’n  hacker gehuur om die stories te verwyder, maar dis glo onmoontlik. Ons name is vir ewig aanlyn beswadder.”

In 2016 het die ondersoekende joernalis Alex Eliseev sy boek, Cold Case Confession: Unravelling the Betty Ketani Murder, die lig laat sien.

Daarin vertel hy van die broers se beweerde betrokkenheid, soos deur die hof gehoor en aanvaar in dieselfde jaar.

Dit grief die broers dat hulle nou altyd verbind sal word met die moord. David vertel toe hy tronk toe is, het  sy vrou hom geskei.

Sy en hul outistiese seun (21) woon nog in Vaalrand in Gauteng. Hulle het ook die troeteldierwinkel verloor wat hulle saam bedryf het, en hy sukkel nou om vaste werk te kry.

“My liewe sussie sorg vir my hier op Mosselbaai. Dit voel asof ek vir my kinders niks is nie.”

Anders as sy ouboet woon Carel steeds in Vanderbijlpark, naby die Vereeniging-hospitaal waar Betty die tweede keer ontvoer is, en gesels hy vandag op Zoom saam.

David Ranger se broer Carel gesels via Zoom saam u
David Ranger se broer Carel gesels via Zoom saam uit Vanderbijlpark. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images

“Ons het as tjokkertjies saam cowboys en kroeks gespeel en wou altyd polisieman word,” vertel hy oor hul eertydse loopbane.

“Ek glo dis in jou bloed.” Carel het die polisiediens kort voor Betty se ontvoering in 1999 verlaat.

Hy het Laughton, hul latere medebeskuldigde, toe reeds geken omdat hul kinders saam op skool was. Anders as die broers is Laughton steeds in die tronk.

Steeds in kettings

Ook Carel kry nie werk nie. “Wanneer ek wel aansoek doen en ’n werk kry, moet ek maar weer huis toe gaan as hulle op ou berigte op die internet afkom.”

Volgens Carel was hy eens sy drie seuns se held. Hulle was onderskeidelik 2, 5 en 8 toe hy tronk toe is.

“Daardie agt jaar kon ek nie aan hulle raak nie. Die staat het my weggehou van my familie met dik glas tussen ons.”

Albei broers vertel hulle het van hul vroue geskei sodat hulle nie, as die eggenotes van veroordeelde misdadigers, hul inkomste uit hul eksmans se polisiepensioen verloor nie.

“Ek wou nie van my vrou skei nie,” vertel David. Maar dan erken hy dat hul huwelik in elk geval verbrokkel het terwyl hy in die tronk was. Ook Carel is nie optimisties dat hy en sy eksvrou weer sal versoen nie.

Op  die  tafel  langs  David  lê  die  2019- appèlhofuitspraak: “The appellants 1 and 2 are found not guilty and discharged of kidnapping and murder,”  staan daar geskryf.

“Ons wil van die dakke af skree dat ons onskuldig is,” sê hy voor hy groet. As die wêreld hom net wil glo.

EKSTRA BRONNE: NETWERK24, EWNLINKS

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe