Hoewel FPK al sowat 15 jaar bestaan, het hulle eers in Oktober 2017 hul derde vollengtealbum, Selfmedikasie, uitgereik.

“Parkiebank, Herfs 2017”, die tweede snit op dié album, se musiekvideo is Donderdag laatmiddag op YouTube vrygestel.

Hunter Kennedy, kitaarspeler en likriekskrywer vir die groep, sê hy besin in die liedjie oor finansiële welvaart as ’n maatstaf van sukses.

“[Ek bepeins] die etiese dilemma rondom rykdom in ’n land soos ons s'n, waar as gevolg van eeue se kolonialisasie, burgeroorloë, uitbuiting van goedkoop handearbeid en natuurlike hulpbronne, blatante rassistiese onderdrukking en in ’n postdemokratiese milieu, ons slagoffers was van grootskaalse wanbestuur; en waar die ryk/arm-lyn nog steeds 'n kleur het.”

Hunter vertel verder: “Duidelik het ek ’n probleem met vasgevang wees in ons produkgedrewe, kapitaalsentriese bestaan en ek dreig gereeld om te ontsnap, maar ons doen nooit wat ons sê ons gaan nie, nè?”

Hy sê ook dat hy baie keer voel hy nie hoort nie hier en dan wonder hy waar hy nou eintlik hoort.

“In ander stukke het ek al die geldigheid van grense in ons ál meer geïntegreerde wêreld bevraagteken en ek voel dat ons, en die mense wat soos ons is, nie dink aan onsself as patriotte nie en dus het ons nie tuisland nie en het in fact nie een nodig nie.”

Oor die lirieke in die koorgedeelte sê Hunter: “ ‘Wat maak ons nog hier?’ is ’n oproep tot aksie om interne ondersoek in te stel en met die vraag te worstel tot jy ’n antwoord het.”

Die video begin deur ’n aanhanger se opinie oor Afrikanerdom, wat uit onderhoude spruit wat deur die groep in November verlede jaar gevoer is.

Die groep het met die visuele kunstenaar Sean Metelerkamp aan dié projek gewerk. Sean het ook die musiekvideo vir hul liedjie Antibiotika in 2008 gemaak.