Dis asof ’n tydperk van twee weke lank – een waartydens hy verbete teen covid-19 baklei het en so amper sy siektestryd verloor het – heeltemal uit sy geheue gewis is. 

Al wat hy onthou, sê adjudant-offisier Nico Delport van Sasolburg in die Vrystaat, is hoe hy dae lank voor sy opname in die Vaalpark-hospitaal gestoei het teen brongitus. Oor die daaropvolgende dae is alles ’n “swart gat” – want Nico onthou eers weer hoe hy twee weke later in dieselfde hospitaal, gekoppel aan masjiene, sy bewussyn herwin het.

“Ek het nie eens geweet waar ek is nie,” onthou Nico (50), wat werk vir die polisie se forensiese dienste, oor die dag toe hy op 21 Julie in die Vaalpark-hospitaal wakker word.

Die man aan die ander kant van die telefoon praat moeisaam – selfs iets so eenvoudig is vir hom ’n groot uitdaging nadat covid-19 verwoesting in sy liggaam gesaai het. Hy moes van voor af leer loop en selfs om ’n beker vas te hou.

Dokters en kundiges het gemeen dis ’n wonderwerk toe hy sy bewussyn in die hospitaal herwin. Maar daar was ook slegte nuus: sy ouer suster, Gerda (52), is in dieselfde week in dieselfde hospitaal opgeneem – en sy het haar stryd teen die virus verloor.

Nico Delport
Nico saam met sy suster, Gerda, in gelukkiger dae. Foto: Verskaf

“Hulle wou my aanvanklik nie van haar dood vertel nie,” sê ’n emosionele Nico. “Ek was te swak – en dokters het gemeen dit sou my herstel belemmer. En ek wás gebroke toe ek aan die einde van Juliemaand van haar dood hoor. Ek wou by die Here weet: Hoekom sý? Hoekom nie ek nie? Ek was tog sieker as sy – al die mediese personeel het gereken ék het die minste kans op oorlewing.” 

Sy herstelpad oor die laaste paar weke was seker een van die moeilikste dinge wat hy nóg moes aanpak, sê Nico. Oor en oor het hy die legkaart van daardie twee weke aanmekaar probeer sit. Maar vergeefs.

“Die laaste wat ek onthou is dat ek die stasie laat weet het ek voel sleg. Ek was aan diens daardie week en hulle het die diensvoertuig kom haal,” sê Nico.

Van daar het hy geen herinneringe nie. Dis sy vrou, Lizette (46), wat hom later eers vertel het presies hoe die twee donkerste weke in sy lewe afgespeel het.

“My vrou sê ek was so deurmekaar dat ek snaaks begin optree het. Dis sy wat my na die Vaalpark-hospitaal geneem het waar ek dadelik opgeneem is. Hospitaalprotokol vereis dat jy dadelik vir die covid-19 getoets word – en my toets was positief,” vertel hy.

Adjudant-offisier Nico Delport. Foto: Verskaf
Nico Delport
Nico saam met 'n polisiehond van een van die polisie se opleidingskole. Foto: Verskaf

Maar Nico het dit nie geweet nie. Want nadat hy op 7 Julie in die hospitaal opgeneem is, het sy toestand so versleg dat dokters gemeen het ’n medies-geïnduseerde koma is ál uitweg om sy lewe te red. 

“Hulle vertel my ek het verskriklik met hulle baklei – ek wou glo glad nie toelaat dat dokters my sedeer nie. Ek het so wild baklei, dat die brug in my mond losgebreek het. Maar daarvan onthou ek niks nie.” 

Nico se siektetoestand het dramaties versleg omdat hy weens die bronchitis reeds ’n verlaagde immuniteit gehad het. Hy is op 8 Julie, ’n dag nadat hy in die hospitaal opgeneem is, op ’n ventilator geplaas.

In een stadium was hy so swak, vertel Nico, dat dokters vir Lizette en sy drie kinders na die hospitaal wou ontbied om van hom afskeid te neem. Dis in hierdie selfde tyd dat Gerda ook in die hospitaal opgeneem is. Maar anders as hy, was Gerda in ’n gewone teatersaal.

“As dokters ons albei se kanse op oorlewing moes opweeg, sou ek die een moes wees wat gesterf het. Gerda was oukei – sy sou dit maak. Of so het dokters gedink. Hulle was so bekommerd oor my, dat Gerda en my gesin op ’n Facebook-blad vir ons ou matriekgroep ’n gebedsgroep begin het. Van oraloor is vir my gebid, selfs uit Amerika,” vertel Nico.

“Gerda het hierdie plan gehad dat hulle vir my ’n verwelkomingspartytjie reël sodra ek uit die hospitaal ontslaan word. Dís die hoop waaraan hulle vasgeklou het. Maar toe sterf sy nadat haar gesondheid ’n nadraai geneem het – en dis die tragedie wat ’n mens se hart oor en oor breek.” 

Nico Delport
Nico en sy suster, Gerda. Foto: Verskaf

Nico se gesondheid het egter in die tussentyd aanhou verbeter. En agt dae later, in die middel van Julie, is hy van die ventilator afgehaal.

“Ek kon dit nie glo toe die hospitaalpersoneel my van die bed af help en ek nie vas was op my voete nie. Dis asof ek nie meer geweet het hoe om te staan nie – wat nog van loop. Ek sou later eers uitvind presies hoeveel skade my liggaam aangerig is. Dat ek basies meeste eenvoudige dinge, die goed wat ons elke dag as vanselfsprekend aanvaar, van voor af sal moet leer doen.” 

Dis in dié tyd toe Nico rehabilitasie ontvang het, dat familielede dis nuus oor Gerda aan hom moes breek, sê hy.

“Joeg, wat dink jy doen dit aan ’n mens? Dit ruk jou. Dit jaag jou. Jy verstaan nie hoekom so iets gebeur het nie. Jy weet nie hoekom jý leef en sy nie. Al wat ek kan doen is om haar te eer – vir die mens wie sy was en vir alles wat sy vir my beteken het.”

Nico is op 21 Julie uit die hospitaal ontslaan en het hom aangesluit by Lizette. Hy het die gedenkdiens vir Gerda op 30 Julie vanuit die NG Kerk Sentraal in Sasolburg gelei.

Op ’n vraag oor die emosie toe hy hom oplaas by Lizette kon aansluit, antwoord Nico: “My vrou is ’n ystervrou. Sy het nie een keer ophou bid nie. Sy het nooit ophou smeek vir my lewe nie.” 

My boodskap aan ander is eenvoudig dít: klou vas aan God.

Terwyl Nico homself nou tuis rehabiliteer, wil hy sy getuienis – ’n verhaal van hoop – versprei so ver hy kan. 

“Ek dink die laaste dae baie aan wat kon gewees het. Dokters sê dis ’n wonderwerk dat ek hier is – en ja, dit is. Want al kan ek niks van daardie tyd onthou nie, weet ek dat die woorde van Psalm 23 in die tyd na die koma aanhou draai het in my kop. En ek is vandag oortuig daarvan dat ek in my onderbewussyn vir God aanhou smeek het vir my lewe. Dat ek baklei het – selfs toe ek nie eers geweet het ek baklei nie.” 

Moenie hoop verloor nie, wil hy ander bemoedig. “Hierdie virus is ’n nare ding. Dis ’n dief wat lewens steel – en dis iets wat baie ernstig opgeneem moet word. My boodskap aan ander is eenvoudig dít: Klou vas aan God.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe