Prem Balram, woordvoerder van die privaat reaksie-eenheid Reaction Unit South Africa, sê lede van dié reaksie-eenheid is verlede Vrydag in die vroeë oggendure deur inwoners na ’n woonstelblok in Waterloo ontbied.

Volgens Balram het ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat glo verbonde is aan die Ndwedwe-polisiekantoor, sy meisie (23) na die woonstel agtervolg en haar en haar minnaar saam gesien.

“Hy het haar gekonfronteer toe sy uit die woonstel probeer ontsnap,” sê Balram.

“Hy het haar met ’n pistool in die kop geskiet. Sy is op die toneel dood.

“Die polisieman het daarna na die boonste vlak van die woonstel gegaan waarna hy skote op die minnaar afgevuur het. Die minnaar het by die venster van die woonstel uitgespring en hulp by die bure ontbied.”

Foto: Verskaf.

Volgens Balram het die polisieman homself daarna geskiet. Hy is op die toneel dood.

Volgens lede van die reaksie-eenheid op die toneel is die minnaar glo minstens sewe keer raakgeskiet en tans in ’n kritieke toestand in die hospitaal.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het aan Huisgenoot bevestig die polisie ondersoek ’n saak van moord en een van poging to moord.

Mbele sê ’n geregtelike doodsondersoek na die dood van die polisieman word ook gedoen.

Sy kon nie bevestig dat ’n rusie tussen die polisieman en sy meisie tot die moorde gelei het nie.

Foto: Verskaf.

“Die een slagoffer is nog in ’n kritieke toestand in die hospitaal en kan nie in dié stadium ’n verklaring aflê nie. Omdat die polisie nog nie al die inligting met betrekking tot die saak het nie, kan ons nie aannames maak oor die motief vir die moord nie – en ook nie oor wie die skote afgevuur het nie,” sê sy.

’n Nadoodse ondersoek word vandag gedoen. Die uitslag van dié ondersoek sal weldra bekend gemaak word.

Die polisie wou hangende ’n ondersoek nie die name van die slagoffers bekend maak nie.