So lui ’n deel van ’n verklaring wat Orania se bestuur op hul Facebook-blad geplaas het.

Dit kom nadat regter Bert Bam vandeesweek in die Poppie van der Merwe-saak uitspraak gelewer het.

Poppie se ma, Louisa Koekemoer (43), en stiefpa, Kobus (44), is Woensdag deur regter Bam skuldig bevind aan moord, kindermishandeling en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Regter Bam het in sy uitspraak ook ingegaan op al die getuienis en het die maatskaplike werker, onderwyser en dominee op Orania sterk gekritiseer.

Ds. Fanie Hoffman van die AP-kerk op Orania het vandeesweek aan Huisgenoot gesê hulle het Poppie nie in die steek gelaat nie.
“Ons het Louisa en haar ma, Susan, gedra toe Louisa van Westonaria af hierheen gevlug het,” sê hy.

“Ons het vir hulle klere en ’n huis gegee. Ons het vir hulle liefde en deernis gegee. Ek het selfs die matrasse gegee waarop die kinders geslaap het. Ons het maande lank vir hulle kos en klere gegee en een ouderling het hul hele kombuis toegerus. Ons het hulle bederf,” sê hy.

Fanie was ook die een wat Louisa en Kobus getrou het. “Louisa het nooit oor Kobus gekla nie. As ek huisbesoek gedoen het, was alles normaal. Eenkeer moes Kobus winkel toe gaan en ek was alleen saam met Louisa en selfs toe het sy niks van hom gesê nie. Nou staan en lieg hulle almal,” sê hy.

“Dit is nie waar dat ons geweet het die kinders word mishandel en dat ons anderpad gekyk nie. Ons het nie geweet nie. Ek is verstom dat hul bure dit nie aangemeld het nie. Hulle was goeie kerkgangers en het gereeld kerk toe gekom,” vertel hy.

“Die eerste keer toe ons besef hier is fout en ’n maatskaplike werker betrek, het hulle oornag Brits toe getrek. Hulle het nie eers vir Susan gegroet nie. Toe hulle besef hulle gaan vasgevat word, toe vat hulle die pad. Hulle het weggegaan met alles wat die mense van Orania vir hulle gegee het. Ons het geen kontaknommers of nuwe adres vir hulle gehad nie,” sê hy.

“Ons het ook nie wederregtelik die reg gehad om die kinders weg te vat nie. Jy kan mos nie net iemand se kinders vat nie. Daar moet ’n proses gevolg word.”

Fanie sê die gemeenskap op Orania is soos een groot familie. “Louisa bly nie meer hier nie en ons sal haar ook nie weer hier toelaat nie.”